Nehemia 6:1-9

Nehemia 6:1-9 DB

Sanballat, Tobija en die Arabier Gesem en die res van ons vyande het gehoor dat ons die muur klaar herstel het en dat dit nie meer in puin lê nie. Ons het egter nog nie die deure van die stadshekke vasgesit nie. Toe het Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap gestuur waarin hulle my gevra het om hulle in Kefirim in die Onolaagte te ontmoet. Maar ek het besef hulle beplan om my kwaad aan te doen. Daarom het ek vir hulle ’n boodskap gestuur: “Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie. In elk geval, waarom moet ek die werk laat stilstaan om na julle toe te kom?” Daardie spul het dieselfde boodskap vier keer na my toe gestuur en ek het elke keer vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur. Vir ’n vyfde keer het Sanballat een van sy werkers met dieselfde boodskap na my toe gestuur. Hy het egter hierdie keer ’n oop brief by hom gehad, en dit is wat daarin gestaan het: “Daar loop ’n storie onder die buurvolke, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs besig is om ’n opstand te beplan. Dit is waarom julle die muur herbou. Ek hoor verder dat jy glo beplan om jouself koning oor hulle te maak. Jy het blykbaar ook ’n klomp profete aangestel om oor jou in Jerusalem te profeteer en te sê: ‘Kyk, daar is die koning van Juda!’ Jy weet natuurlik dat die koning van Persië binnekort hiervan sal hoor. Daarom wil ek jou aanraai om my eerder te ontmoet sodat ons die saak kan uitpraat.” My antwoord aan hom was: “Jy weet dis nie die waarheid nie. Dit is sommer ’n klomp stories wat jy self opgemaak het.” Hulle het ons probeer intimideer sodat ons moes ophou met die werk aan die muur. Maar ek het gebid: “God, maak my sterk sodat ek staande sal bly!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Nehemia 6:1-9