NEHEMIA 6:1-9

NEHEMIA 6:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Ek het die muur klaar gebou. Daar het nie een stukkende plek oorgebly nie, maar ek het nog nie deure in die poorte gesit nie. Party mense het dit vertel vir Sanballat en Tobija en vir die Arabier Gesem en ons ander vyande. Toe het Sanballat en Gesem vir my 'n boodskap gestuur en gesê ons moet mekaar ontmoet in die stad Kefirim in die Ono-vallei. Hulle wou iets sleg doen aan my. Ek het boodskappers na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: “Ek doen 'n belangrike werk, ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stop? Hoekom moet ek dit los en na julle toe kom?” Hulle het vier maal dieselfde boodskap vir my gestuur, en ek het dieselfde antwoord vir hulle teruggestuur. Sanballat het die vyfde maal dieselfde boodskap gestuur, maar toe het sy boodskapper 'n oop brief in sy hand gehad. In die brief was geskryf: “Mense vertel tussen die volke dat die Judeërs opstandig wil word teen die koning, en Gasmu sê dit is waar. Hulle sê dit is hoekom jy die muur bou. Hulle sê dat jy self die koning van die Judeërs wil word. Hulle sê ook dat jy profete gekies en aangestel het om in Jerusalem te skree en te sê: ‘Nehemia is nou koning in Juda!’ Ek wil hê jy moet weet dat die koning hiervan sal hoor. Daarom moet jy kom sodat ons daaroor kan praat.” Ek het vir hom laat weet: “Jy praat nie die waarheid nie. Nee, jy het self hierdie storie gemaak.” Ja, hulle almal wou ons laat skrik, hulle het gedink ons sal moedeloos word, en die werk sal nie klaarkom nie. Daarom het ek gebid dat ek sterk sal bly.

NEHEMIA 6:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe die nuus Sanballat, Tobija, Gesem die Arabier, en die res van ons vyande bereik dat ek die muur herbou het en dat daar nie meer 'n bres daarin was nie, alhoewel ek tot op daardie stadium nog nie die deure in die poorte ingesit het nie, het Sanballat en Gesem vir my laat weet: “Kom, laat ons byeenkom by Kefirim in die Onovallei. ” Hulle was egter van plan om my kwaad aan te doen. Ek het toe boodskappers na hulle gestuur en gesê: “Dit is 'n groot werk waarmee ek besig is; ek kan nie na julle afkom nie. Waarom moet die werk stilstaan omdat ek dit moet los en na julle afkom?” Hulle het dieselfde boodskap vier keer vir my gestuur, en ek het hulle op dieselfde manier bly antwoord. Toe stuur Sanballat vir die vyfde keer op dieselfde manier sy dienaar na my met 'n oop brief in sy hand waarin geskryf staan: “Onder die nasies word daar vertel, en Gasmu bevestig dit, dat jy en die Judeërs van plan is om in opstand te kom. Dit is waarom jy die muur herbou. En volgens hierdie berigte gaan jy hulle koning word. Jy het selfs profete aangestel om in Jerusalem oor jou te verkondig, ‘Daar is 'n koning in Juda!’ Hierdie berigte gaan nou by die koning uitkom. Kom dan nou, laat ons bymekaarkom.” Ek het toe aan hom 'n boodskap gestuur en gesê: “Hierdie dinge, dit wat jy beweer, gebeur nie; inteendeel – jy versin dit in jou eie hart.” Ja, hulle almal wou ons bang maak en het gedink: Hulle hande sal slap word vir die werk, sodat hulle dit nie sal doen nie. Daarom, maak my hande sterk, my Heer!

NEHEMIA 6:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur toe Sanballat en Tobía en Gesem, die Arabier, en die res van ons vyande, hoor dat ek die muur gebou het en dat daar geen breuk daarin oorgebly het nie; (alhoewel ek in daardie tyd nog nie die deure by die poorte aangebring het nie;) Dat Sanballat en Gesem na my gestuur het om te sê: Kom, laat ons bymekaarkom in een van die dorpies in die Onovlakte. Maar hulle het gedink om my kwaad aan te doen. En ek het boodskappers na hulle gestuur om te sê: Ek doen 'n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie; waarom sou die werk ophou as ek dit verlaat en na julle afkom? Maar hulle het vier maal van hierdie soort na my gestuur; en ek het hulle op dieselfde manier geantwoord. Toe het sy dienaar Sanballat vir die vyfde keer net so na my gestuur met 'n ope brief in sy hand; Daarin is geskrywe: Dit word onder die heidene gerapporteer, en Gasmu sê dit dat jy en die Jode dink om in opstand te kom; daarom het jy die muur gebou, dat jy hulle koning kan wees, volgens hierdie woorde. En jy het ook profete aangestel om oor jou in Jerusalem te preek en te sê: Daar is 'n koning in Juda, en nou sal dit aan die koning gerapporteer word volgens hierdie woorde. Kom dan nou, en laat ons saam raad hou. Toe het ek na hom gestuur om te sê: Daar is nie sulke dinge gedoen soos jy sê nie, maar jy gee dit uit jou hart voor. Want hulle het ons almal bang gemaak en gesê: Hulle hande sal verswak word van die werk, dat dit nie gedoen word nie. Versterk my hande dan nou, o God.

NEHEMIA 6:1-9 Die Boodskap (DB)

Sanballat, Tobija en die Arabier Gesem en die res van ons vyande het gehoor dat ons die muur klaar herstel het en dat dit nie meer in puin lê nie. Ons het egter nog nie die deure van die stadshekke vasgesit nie. Toe het Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap gestuur waarin hulle my gevra het om hulle in Kefirim in die Onolaagte te ontmoet. Maar ek het besef hulle beplan om my kwaad aan te doen. Daarom het ek vir hulle ’n boodskap gestuur: “Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie. In elk geval, waarom moet ek die werk laat stilstaan om na julle toe te kom?” Daardie spul het dieselfde boodskap vier keer na my toe gestuur en ek het elke keer vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur. Vir ’n vyfde keer het Sanballat een van sy werkers met dieselfde boodskap na my toe gestuur. Hy het egter hierdie keer ’n oop brief by hom gehad, en dit is wat daarin gestaan het: “Daar loop ’n storie onder die buurvolke, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs besig is om ’n opstand te beplan. Dit is waarom julle die muur herbou. Ek hoor verder dat jy glo beplan om jouself koning oor hulle te maak. Jy het blykbaar ook ’n klomp profete aangestel om oor jou in Jerusalem te profeteer en te sê: ‘Kyk, daar is die koning van Juda!’ Jy weet natuurlik dat die koning van Persië binnekort hiervan sal hoor. Daarom wil ek jou aanraai om my eerder te ontmoet sodat ons die saak kan uitpraat.” My antwoord aan hom was: “Jy weet dis nie die waarheid nie. Dit is sommer ’n klomp stories wat jy self opgemaak het.” Hulle het ons probeer intimideer sodat ons moes ophou met die werk aan die muur. Maar ek het gebid: “God, maak my sterk sodat ek staande sal bly!”

NEHEMIA 6:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die ander vyande het gehoor dat ek die bouwerk aan die muur voltooi het. Daar was geen openinge meer in die muur nie. Hulle moes wel nog die deure in die poorte hang. Toe stuur Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap met die versoek dat ek hulle in een van die dorpies in die Onolaagte moes ontmoet. Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen. Ek het toe vir hulle ’n boodskap teruggestuur: “Ek is met ’n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.” Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur. Die vyfde keer het Sanballat sy assistent na my gestuur met ’n oop brief in sy hand. In die brief het daar gestaan: “Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ’n opstand beplan. Dit is hoekom julle die muur bou. Volgens die gerugte het jy planne om hulle koning te word. Hy vertel ook dat jy profete aangestel het om in Jerusalem oor jou te profeteer. Hulle sê glo: ‘Daar is nou ’n koning in Juda!’ “Die koning sal sonder enige twyfel van hierdie gerugte te hore kom. My voorstel is dat jy liewer kom en die saak met my kom bespreek.” Ek het toe die volgende antwoord vir hom gestuur: “Daar is nie ’n greintjie waarheid in jou storie nie. Dit is goed wat jy self uitgedink het.” Dit was bloot hulle manier om ons te intimideer. Hulle het gedink dit sou ons moedeloos maak en dat die werk tot stilstand sou kom. Ek het vir krag gebid dat die werk kon voortgaan.