Nehemia 6:1-9

Nehemia 6:1-9 AFR20

Toe die nuus Sanballat, Tobija, Gesem die Arabier, en die res van ons vyande bereik dat ek die muur herbou het en dat daar nie meer 'n bres daarin was nie, alhoewel ek tot op daardie stadium nog nie die deure in die poorte ingesit het nie, het Sanballat en Gesem vir my laat weet: “Kom, laat ons byeenkom by Kefirim in die Onovallei. ” Hulle was egter van plan om my kwaad aan te doen. Ek het toe boodskappers na hulle gestuur en gesê: “Dit is 'n groot werk waarmee ek besig is; ek kan nie na julle afkom nie. Waarom moet die werk stilstaan omdat ek dit moet los en na julle afkom?” Hulle het dieselfde boodskap vier keer vir my gestuur, en ek het hulle op dieselfde manier bly antwoord. Toe stuur Sanballat vir die vyfde keer op dieselfde manier sy dienaar na my met 'n oop brief in sy hand waarin geskryf staan: “Onder die nasies word daar vertel, en Gasmu bevestig dit, dat jy en die Judeërs van plan is om in opstand te kom. Dit is waarom jy die muur herbou. En volgens hierdie berigte gaan jy hulle koning word. Jy het selfs profete aangestel om in Jerusalem oor jou te verkondig, ‘Daar is 'n koning in Juda!’ Hierdie berigte gaan nou by die koning uitkom. Kom dan nou, laat ons bymekaarkom.” Ek het toe aan hom 'n boodskap gestuur en gesê: “Hierdie dinge, dit wat jy beweer, gebeur nie; inteendeel – jy versin dit in jou eie hart.” Ja, hulle almal wou ons bang maak en het gedink: Hulle hande sal slap word vir die werk, sodat hulle dit nie sal doen nie. Daarom, maak my hande sterk, my Heer!

Gratis leesplanne en oordenkings oor Nehemia 6:1-9