Nehemia 6

6
Komplotte teen Nehemia
1Sanballat, Tobija en die Arabier Gesem en die res van ons vyande het gehoor dat ons die muur klaar herstel het en dat dit nie meer in puin lê nie. Ons het egter nog nie die deure van die stadshekke vasgesit nie. 2Toe het Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap gestuur waarin hulle my gevra het om hulle in Kefirim in die Onolaagte te ontmoet. Maar ek het besef hulle beplan om my kwaad aan te doen. 3Daarom het ek vir hulle ’n boodskap gestuur: “Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie. In elk geval, waarom moet ek die werk laat stilstaan om na julle toe te kom?” 4Daardie spul het dieselfde boodskap vier keer na my toe gestuur en ek het elke keer vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur.
5Vir ’n vyfde keer het Sanballat een van sy werkers met dieselfde boodskap na my toe gestuur. Hy het egter hierdie keer ’n oop brief by hom gehad, 6en dit is wat daarin gestaan het: “Daar loop ’n storie onder die buurvolke, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs besig is om ’n opstand te beplan. Dit is waarom julle die muur herbou. Ek hoor verder dat jy glo beplan om jouself koning oor hulle te maak. 7Jy het blykbaar ook ’n klomp profete aangestel om oor jou in Jerusalem te profeteer en te sê: ‘Kyk, daar is die koning van Juda!’ Jy weet natuurlik dat die koning van Persië binnekort hiervan sal hoor. Daarom wil ek jou aanraai om my eerder te ontmoet sodat ons die saak kan uitpraat.”
8My antwoord aan hom was: “Jy weet dis nie die waarheid nie. Dit is sommer ’n klomp stories wat jy self opgemaak het.”
9Hulle het ons probeer intimideer sodat ons moes ophou met die werk aan die muur. Maar ek het gebid: “God, maak my sterk sodat ek staande sal bly!”
10Later het ek na Semaja seun van Delaja en die kleinseun van Mehetabel toe gegaan waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê: “Ons twee moet saam in die woonplek van God, daar in die heiligste deel van die tempel, gaan wegkruip. Ons moet die deur sluit, want daar kom vannag mense om jou dood te maak.”
11Ek het vir hom gesê: “Ek is nie die soort mens wat weghardloop en gaan wegkruip nie. Moenie dink ek sal in die tempel gaan wegkruip om my lewe te red nie. Vergeet dit!” 12Toe ek daaroor nadink, het ek besef dat God hom nie gestuur het nie, maar dat Sanballat en Tobija hom omgekoop het om dit vir my te sê. 13Hulle het gehoop ek sou skrik en doen wat hy sê. Dan sou ek boonop verkeerd doen deur in die heilige deel van die tempel in te gaan. So sou hulle die kans kry om my te beskinder en te verneder voor my mense.
14My God, onthou tog al die slegte dinge wat Tobija en Sanballat gedoen het. Straf hulle daarvoor, en ook die skynheilige profetes Noadja en al die ander vals profete soos sy wat my probeer intimideer het.
Die muur is klaar
15Na 52 dae is die werk aan die muur voltooi. Dit was op die 25ste dag van die maand Elul. 16Toe ons vyande dit hoor en die ander volke rondom ons dit sien, het hulle grootpraterigheid soos mis voor die son verdwyn. Hulle moes erken dat ons dié werk met God se hulp gedoen het. 17In daardie tyd was daar heelwat briefwisseling tussen Tobija en van die vooraanstaande Judeërs. 18Baie van hulle het ’n goeie verhouding met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja die seun van Arag. Sy seun Joganan was getroud met die dogter van Mesullam seun van Berekja. 19Hulle het my gereeld vertel wat ’n wonderlike mens Tobija was. Alles wat ek gesê het, het hulle vir hom gaan oorvertel. In reaksie het hy dan dreigbriewe na my toe gestuur om my te probeer bang maak.

Tans Gekies:

Nehemia 6: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid