Markus 3:7-35

Markus 3:7-35 DB

Jesus is weer met sy volgelinge see toe. ’n Groot groep mense uit Galilea is saam met hulle. Maar die nuus oor alles wat Jesus gedoen het, het ver oor die grense van Galilea versprei. Uit alle rigtings soos Judea en Jerusalem, selfs van Idumea, Tirus en Sidon en van die oorkant van die Jordaan af het die mense gekom. Jesus vra toe sy dissipels om ’n klein bootjie reg te hou sodat Hy daarin kon klim as die mense te veel om Hom saamdrom. Jesus het baie mense gesond gemaak en daarom het almal wat siek was vorentoe gebeur om net aan Hom te kon raak. Elke keer as iemand met ’n bose gees Hom gesien het, het hy op die grond voor Hom neergeval en uitgegil: “Jy is die Seun van God.” Maar Hy het hulle ernstig verbied om te sê wie Hy is. Later het Jesus berge se kant toe gegaan. Hy het ’n paar van sy volgelinge gekies en hulle het nader gestaan. Hy stel toe twaalf manne aan om by Hom te bly, om te stuur om die boodskap vir ander te gaan vertel en om duiwelse geeste uit mense te dryf. Hy het hulle apostels genoem. Die twaalf se name was: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus (Jesus het hulle twee die naam Boanerges gegee, wat beteken: manne van die donder), Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (Alfeus se seun), Taddeus, Simon die Kananeër en Judas Iskariot, wat Jesus uiteindelik sou verraai. Jesus is toe weer huis toe. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy en sy dissipels nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus het die wonderlikste dinge gedoen wat geen gewone mens kon doen nie. Toe sy familie daarvan hoor, het hulle inderhaas na Jesus toe gekom om Hom te kom haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die kenners van die Joodse wet wat van Jerusalem af gekom het, het weer gesê: “Dit is Beëlsebul, die hoof van die duiwelse geeste, wat in hom bly. Die einste Beëlsebul help hom ook om die duiwelse geeste te verjaag.” Jesus roep hulle toe en verduidelik vir hulle met ’n voorbeeld hoe verkeerd hulle regtig is. “Hoe kan Satan homself uitdryf? ’n Regering waarin groepe gedurig onder mekaar baklei, kan mos nêrens kom nie. ’n Gesin waarin elkeen heeltyd die ander een boikot, sal mos uitmekaarspat. Met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, gaan daar niks van hom oorbly nie. Dan is dit verby met hom. Aan die ander kant kan ’n mens ook nie in ’n sterk man se huis instap en vat wat jy wil hê nie. Jy moet eers sorg dat die sterk man vasgebind is voordat jy sulke dinge kan doen. Sowaar, Ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.” Dit het Jesus gesê omdat daar mense was wat beweer het dat ’n bose gees in Hom werk. Jesus se ma en broers kom toe juis daar aan. Hulle het buite gewag en iemand gevra om Jesus te gaan roep. Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. “Jou ma en broers wag hier buite vir jou,” sê hulle. Jesus sê toe: “Wie is regtig my ma en broers?” Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: “Hier is my regte familie. “Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid