MARKUS 3:7-35

MARKUS 3:7-35 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het teruggegaan na die see en 'n klomp mense van die provinsie Galilea het saam met Hom gegaan. Daar het ook baie mense van die provinsie Judea gekom, en van Jerusalem, en van die ander kant van die Jordaan-rivier en van die plekke rondom die stede Tirus en Sidon. Hulle het na Jesus toe gekom, want hulle het gehoor van die dinge wat Hy doen. Jesus het vir sy dissipels gesê hulle moet vir Hom 'n bootjie kry. Daar was so baie mense dat Jesus bang was hulle druk teen Hom en maak Hom seer. Jesus het baie mense gesond gemaak, en almal wat siek was, wou by Jesus kom en aan Hom raak. Daar was ook mense wat onrein geeste in hulle gehad het. Elke maal wanneer hulle Jesus gesien het, het hulle voor Hom op die grond geval en geskree: “U is die Seun van God,” maar Jesus het gesê hulle mag glad nie sê wie Hy is nie. Jesus het na die berg gegaan en Hy het die mense wat Hy daar wou hê, na Hom toe geroep. Hulle het na Hom toe gekom. Hy het twaalf manne gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle moes by Hom bly. Hy wou hulle stuur sodat hulle kon gaan preek. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag. Jesus het twaalf apostels gekies en aangestel. Hy het vir Simon die naam Petrus gegee, en Hy het vir Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus, die naam Boanerges gegee. Dit beteken “Manne van die donderweer.” Die ander apostels was: Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die patriot, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het. Daarna het Jesus huis toe gegaan. Daar het weer so baie mense bymekaargekom dat Hy en sy dissipels nie kon eet nie. Toe Jesus se familie dit hoor, het hulle gegaan om Hom daar weg te vat, want party mense het gesê: “Hy is mal!” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, is in hom. Beëlsebul help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Jesus het die mense geroep om nader te kom en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Hoe kan die Satan homself uitjaag? Hy kan nie. As die mense van 'n land nie met mekaar kan saamwerk nie, dan kan hulle nie aanhou lewe nie. En as die mense van 'n huisgesin nie met mekaar kan saamwerk nie, dan sal daardie huisgesin nie bymekaar bly nie. Wat julle sê, beteken dat die Satan teen homself baklei, en dat hy nie met homself kan saamwerk nie. As dit so is, dan kan hy niks meer doen nie, en dan is dit sy einde. 'n Mens kan nie maklik in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel. Ek sê vir julle, en dit is seker: God sal mense vergewe wanneer hulle sonde doen en sleg praat van iemand. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie. So iemand sal altyd skuldig wees.” Jesus het dit gesê omdat die mense gesê het: “Hy het 'n onrein gees in hom.” Jesus se ma en sy broers het na Hom toe gekom. Hulle het buite bly staan, en hulle het 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. Baie mense het rondom Jesus gesit. Hulle het vir Hom gesê: “Kyk, jou ma en jou broers en jou susters is daar buite en hulle soek jou.” Jesus het vir hulle gevra: “Wie is my ma en my broers?” Hy kyk toe na die mense wat in 'n kring rondom Hom sit, en Hy sê: “Hierdie mense is my ma en my broers. Elkeen wat doen wat God wil hê, is my broer of my suster of my ma.”

MARKUS 3:7-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Jesus het met sy dissipels teruggegaan na die see toe, en 'n groot menigte het Hom gevolg uit Galiléa en Judéa en Jerusalem en Iduméa en van oorkant die Jordaan af. En die wat om Tirus en Sidon gewoon het, 'n groot menigte, het na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. En Hy het aan sy dissipels gesê dat 'n skuitjie altyd vir Hom moes klaar lê vanweë die skare, sodat hulle Hom nie miskien sou verdring nie. Want Hy het baie gesond gemaak, sodat almal wat vol kwale was, op Hom toegeloop het om Hom aan te raak. En elke keer as die onreine geeste Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskreeu en gesê: U is die Seun van God! En Hy het hulle herhaaldelik streng gebied om Hom nie bekend te maak nie. EN Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf. En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee; en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus — aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder — en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes, en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het. EN hulle het in 'n huis gegaan, en 'n skare het weer saamgekom, sodat hulle selfs nie brood kon eet nie. Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne. En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit. En Hy het hulle na Hom geroep en vir hulle deur gelykenisse gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie; en as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar hy kom tot 'n einde. Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof as hy nie eers die sterk man boei nie; en dan sal hy sy huis berowe. Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel — omdat hulle gesê het: Hy het 'n onreine gees. SY broers en sy moeder het toe gekom, en terwyl hulle buite staan, stuur hulle na Hom om Hom te roep. En 'n skare het rondom Hom gesit Hulle sê toe vir Hom: U moeder en u broers soek U daarbuite. En Hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers? En Hy kyk rond na die wat rondom Hom sit, en sê: Dáár is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.

MARKUS 3:7-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het toe met sy dissipels teruggegaan na die see toe. 'n Menigte mense het van Galilea af agter Hom aan gegaan. Ook van Judea af, en uit Jerusalem en van Idumea en van oorkant die Jordaan en van rondom Tirus en Sidon af, het daar baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. Weens die gedrang het Hy vir sy dissipels gesê om vir Hom 'n skuitjie reg te hou sodat die mense Hom nie vertrap nie. Hy het baie mense gesond gemaak, sodat almal wat die een of ander siekte gehad het, Hom oorval het om aan Hom te raak. As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: “U is die Seun van God!” Maar Hy het hulle baie uitdruklik belet om bekend te maak wie Hy is. Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus – vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê “manne van die donder” – Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het. Daarna het Jesus huis toe gegaan. 'n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om 'n stukkie te eet nie. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.” Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? As 'n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde. “Bowendien kan niemand in 'n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van 'n onrein gees besete.” Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. 'n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat in 'n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

MARKUS 3:7-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het saam met sy dissipels na die see teruggegaan, en 'n groot menigte uit Galilea het Hom gevolg. Ook uit Judea, Jerusalem, Idumea, van oorkant die Jordaan, en uit die omgewing van Tirus en Sidon, het 'n groot menigte na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. Hy het toe vir sy dissipels opdrag gegee om vir Hom 'n skuit gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap. Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak. En die •onrein geeste het elke keer wanneer hulle Hom sien, voor Hom neergeval en hard geskree: “U is die •Seun van God!” Hy het hulle uitdruklik opdrag gegee om Hom nie bekend te laat word nie. Hy het toe teen die berg uitgeklim. Hy het hulle op wie sy keuse geval het, nader geroep, en hulle het na Hom gekom. Hy het toe twaalf aangestel, wat Hy ook •apostels genoem het, sodat hulle saam met Hom kon wees, en Hy hulle kon uitstuur om te preek, en hulle volmag kon hê om demone uit te dryf. Hy het hierdie twaalf aangestel: Simon, aan wie Hy die naam •Petrus gegee het, Jakobus, die seun van Sebedeus, en Johannes, die broer van Jakobus – aan hulle het Hy die naam Boanerges, dit is, ‘seuns van die donder’, gegee. Ook Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Taddeus, Simon Kananeus, en Judas Iskariot, wat Hom verraai het. Hy het 'n huis binnegegaan, maar die skare het weer so om Hom saamgedrom dat hulle selfs nie eers brood kon eet nie. Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, en as 'n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. Bowendien, niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof. •Amen, Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan 'n ewige sonde. ” Want hulle het gesê: “Hy het 'n onrein gees.” Sy moeder en sy broers het daar aangekom, en terwyl hulle buite bly staan, het hulle iemand na Hom gestuur om Hom te roep. 'n Skare het rondom Hom gesit, en hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters is daar buite en soek U.” Maar Hy antwoord hulle en vra: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

MARKUS 3:7-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar Jesus het Hom saam met sy dissipels na die see teruggetrek, en 'n groot menigte uit Galilea het Hom gevolg en uit Judéa, En van Jerusalem en van Idumaea en van oorkant die Jordaan; en hulle van Tirus en Sidon, 'n groot menigte, het na hom gekom toe hulle hoor watter groot dinge hy gedoen het. En Hy het met sy dissipels gesê dat 'n klein skippie op Hom moes wag vanweë die menigte, dat hulle Hom nie sou verdring nie. Want Hy het baie genees; soveel dat hulle hom aangedring het om hom aan te raak, almal wat plae gehad het. En toe die onreine geeste Hom sien, val hulle voor Hom neer en roep en sê: U is die Seun van God. En hy het hulle streng bevel gegee om hom nie bekend te maak nie. En hy klim op die berg en roep na hom wie hy wil, en hulle het na hom gekom. En hy het twaalf bepaal dat hulle by hom moes wees, en dat hy hulle kon uitstuur om te preek, En om mag te hê om siektes te genees en duiwels uit te dryf; En Simon het hy Petrus genoem; En Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, die broer van Jakobus; en hy het hulle Boanerges genoem, dit is die seuns van die donder. En Andreas en Filippus en Bartolomeus en Matteus en Tomas en Jakobus, die seun van Alfeüs, en Thaddeüs en Simon die Kanaäniet, En Judas Iskariot, wat hom ook verraai het, en hulle het in 'n huis ingegaan. En die skare het weer bymekaargekom, sodat hulle nie soveel as brood kon eet nie. En toe sy vriende dit hoor, het hulle uitgegaan om hom aan te gryp, want hulle het gesê: Hy is buite homself. En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem afgekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul, en deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit. En Hy het hulle na Hom geroep en in gelykenisse vir hulle gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bestaan nie. En as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie. En as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie standhou nie, maar het 'n einde. Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy besittings buit nie, tensy hy eers die sterk man bind; en dan sal hy sy huis verwoes. Voorwaar Ek sê vir julle, alle sondes sal aan die mensekinders vergewe word, en lastering waarmee hulle ook al laster. Maar hy wat teen die Heilige Gees laster, het nooit vergifnis nie, maar is in gevaar van die ewige verdoemenis. Omdat hulle gesê het: Hy het 'n onrein gees. Daar het toe sy broers en sy moeder gekom en buite gestaan en na hom gestuur en hom geroep. En die skare het rondom hom gaan sit en vir hom gesê: Kyk, jou moeder en jou broers soek jou van buite. En hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers? En hy het rondom gekyk na die wat rondom hom sit, en gesê: Hier is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil van God doen, dit is my broer en my suster en moeder.

MARKUS 3:7-35 Die Boodskap (DB)

Jesus is weer met sy volgelinge see toe. ’n Groot groep mense uit Galilea is saam met hulle. Maar die nuus oor alles wat Jesus gedoen het, het ver oor die grense van Galilea versprei. Uit alle rigtings soos Judea en Jerusalem, selfs van Idumea, Tirus en Sidon en van die oorkant van die Jordaan af het die mense gekom. Jesus vra toe sy dissipels om ’n klein bootjie reg te hou sodat Hy daarin kon klim as die mense te veel om Hom saamdrom. Jesus het baie mense gesond gemaak en daarom het almal wat siek was vorentoe gebeur om net aan Hom te kon raak. Elke keer as iemand met ’n bose gees Hom gesien het, het hy op die grond voor Hom neergeval en uitgegil: “Jy is die Seun van God.” Maar Hy het hulle ernstig verbied om te sê wie Hy is. Later het Jesus berge se kant toe gegaan. Hy het ’n paar van sy volgelinge gekies en hulle het nader gestaan. Hy stel toe twaalf manne aan om by Hom te bly, om te stuur om die boodskap vir ander te gaan vertel en om duiwelse geeste uit mense te dryf. Hy het hulle apostels genoem. Die twaalf se name was: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus (Jesus het hulle twee die naam Boanerges gegee, wat beteken: manne van die donder), Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (Alfeus se seun), Taddeus, Simon die Kananeër en Judas Iskariot, wat Jesus uiteindelik sou verraai. Jesus is toe weer huis toe. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy en sy dissipels nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus het die wonderlikste dinge gedoen wat geen gewone mens kon doen nie. Toe sy familie daarvan hoor, het hulle inderhaas na Jesus toe gekom om Hom te kom haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die kenners van die Joodse wet wat van Jerusalem af gekom het, het weer gesê: “Dit is Beëlsebul, die hoof van die duiwelse geeste, wat in hom bly. Die einste Beëlsebul help hom ook om die duiwelse geeste te verjaag.” Jesus roep hulle toe en verduidelik vir hulle met ’n voorbeeld hoe verkeerd hulle regtig is. “Hoe kan Satan homself uitdryf? ’n Regering waarin groepe gedurig onder mekaar baklei, kan mos nêrens kom nie. ’n Gesin waarin elkeen heeltyd die ander een boikot, sal mos uitmekaarspat. Met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, gaan daar niks van hom oorbly nie. Dan is dit verby met hom. Aan die ander kant kan ’n mens ook nie in ’n sterk man se huis instap en vat wat jy wil hê nie. Jy moet eers sorg dat die sterk man vasgebind is voordat jy sulke dinge kan doen. Sowaar, Ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.” Dit het Jesus gesê omdat daar mense was wat beweer het dat ’n bose gees in Hom werk. Jesus se ma en broers kom toe juis daar aan. Hulle het buite gewag en iemand gevra om Jesus te gaan roep. Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. “Jou ma en broers wag hier buite vir jou,” sê hulle. Jesus sê toe: “Wie is regtig my ma en broers?” Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: “Hier is my regte familie. “Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma.”

MARKUS 3:7-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het saam met sy dissipels na die see toe gegaan. ’n Groot skare het agter Hom aan gekom – van Galilea, Judea, Jerusalem, Idumea, oorkant die Jordaan, en selfs van so ver as Tirus en Sidon. Die nuus van wat Hy gedoen het, het wyd versprei en ’n groot menigte mense het na Hom toe gekom. Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee om ’n bootjie vir Hom gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap. Hy het daardie dag baie mense gesond gemaak met die gevolg dat almal met die een of ander kwaal Hom oorval het sodat hulle aan Hom kon raak. Telkens wanneer dié wat van onrein geeste besete was Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskree: “Jy is die Seun van God!” Maar Jesus het hulle streng gewaarsku om nie te sê wie Hy is nie. Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom. Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem. Hy wou hulle stuur om te gaan preek, en om met volmag bose geeste uit te dryf. Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het: Simon (Jesus het sy naam verander na Petrus), Jakobus en Johannes (die seuns van Sebedeus, maar Jesus het hulle die bynaam “Seuns van die Donder” gegee), Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (die seun van Alfeus), Taddeus, Simon (die Yweraar), Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het). Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie. Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.” Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie prins van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.” Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra. “’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie! En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie! Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom. Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof. “Ek verseker julle, elke sonde, ja, selfs elke lastering wat mense uitspreek, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid nie vergifnis kry nie. So iemand sal vir altyd skuldig bly.” Dit het Jesus gesê omdat hulle beweer het dat daar ’n onrein gees in Hom was. Jesus se ma en broers het juis toe daar aangekom. Hulle het buite bly staan en vir Hom laat weet dat Hy na hulle toe moes kom. Daar het ’n skare rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u ma en u broers en u susters staan buite en vra na U!” Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?” Daarop kyk Hy na dié wat so rondom Hom sit, en Hy sê: “Julle is my ma en my broers. Elkeen wat aan God gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid