Markus 3:7-35

Markus 3:7-35 AFR20

Jesus het saam met sy dissipels na die see teruggegaan, en 'n groot menigte uit Galilea het Hom gevolg. Ook uit Judea, Jerusalem, Idumea, van oorkant die Jordaan, en uit die omgewing van Tirus en Sidon, het 'n groot menigte na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. Hy het toe vir sy dissipels opdrag gegee om vir Hom 'n skuit gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap. Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak. En die •onrein geeste het elke keer wanneer hulle Hom sien, voor Hom neergeval en hard geskree: “U is die •Seun van God!” Hy het hulle uitdruklik opdrag gegee om Hom nie bekend te laat word nie. Hy het toe teen die berg uitgeklim. Hy het hulle op wie sy keuse geval het, nader geroep, en hulle het na Hom gekom. Hy het toe twaalf aangestel, wat Hy ook •apostels genoem het, sodat hulle saam met Hom kon wees, en Hy hulle kon uitstuur om te preek, en hulle volmag kon hê om demone uit te dryf. Hy het hierdie twaalf aangestel: Simon, aan wie Hy die naam •Petrus gegee het, Jakobus, die seun van Sebedeus, en Johannes, die broer van Jakobus – aan hulle het Hy die naam Boanerges, dit is, ‘seuns van die donder’, gegee. Ook Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Taddeus, Simon Kananeus, en Judas Iskariot, wat Hom verraai het. Hy het 'n huis binnegegaan, maar die skare het weer so om Hom saamgedrom dat hulle selfs nie eers brood kon eet nie. Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, en as 'n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. Bowendien, niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof. •Amen, Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan 'n ewige sonde. ” Want hulle het gesê: “Hy het 'n onrein gees.” Sy moeder en sy broers het daar aangekom, en terwyl hulle buite bly staan, het hulle iemand na Hom gestuur om Hom te roep. 'n Skare het rondom Hom gesit, en hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters is daar buite en soek U.” Maar Hy antwoord hulle en vra: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid