Markus 11:27-33

Markus 11:27-33 DB

In Jerusalem is Jesus weer reguit tempel toe. Terwyl Hy daar rondstap, kom die godsdienstige leiers van die Jode na Hom toe. “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen?” val hulle Hom aan. “Wie’t vir jou gesê jy mag dit doen?” Jesus reageer toe so: “Laat Ek julle ook ’n bietjie ’n vraag vra en as julle My kan antwoord, sal Ek vir julle sê wie My die reg gee om hierdie dinge te doen. Het God vir Johannes die Doper gestuur om te doop of het hy en ’n klompie ander mense sommer self besluit om dit te doen? Hoe dink julle?” Hulle hou toe ’n bietjie kajuitraad en besef hulle is vas. Sê hulle: “God het hom gestuur,” sal Jesus vir hulle vra waarom hulle dan nie geglo het wat Johannes gesê het nie. As hulle egter sê: “Dit was sommer die idee van mense,” is hulle in die moeilikheid by die gewone mense, want almal het geweet dat Johannes regtig iemand was wat van God af gekom het. Hulle sê toe maar vir Jesus: “Ons weet nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid