MARKUS 11:27-33
MARKUS 11:27-33 Die Boodskap (DB)
In Jerusalem is Jesus weer reguit tempel toe. Terwyl Hy daar rondstap, kom die godsdienstige leiers van die Jode na Hom toe. “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen?” val hulle Hom aan. “Wie’t vir jou gesê jy mag dit doen?” Jesus reageer toe so: “Laat Ek julle ook ’n bietjie ’n vraag vra en as julle My kan antwoord, sal Ek vir julle sê wie My die reg gee om hierdie dinge te doen. Het God vir Johannes die Doper gestuur om te doop of het hy en ’n klompie ander mense sommer self besluit om dit te doen? Hoe dink julle?” Hulle hou toe ’n bietjie kajuitraad en besef hulle is vas. Sê hulle: “God het hom gestuur,” sal Jesus vir hulle vra waarom hulle dan nie geglo het wat Johannes gesê het nie. As hulle egter sê: “Dit was sommer die idee van mense,” is hulle in die moeilikheid by die gewone mense, want almal het geweet dat Johannes regtig iemand was wat van God af gekom het. Hulle sê toe maar vir Jesus: “Ons weet nie.”
MARKUS 11:27-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teen hierdie tyd het hulle weer in Jerusalem aangekom. Terwyl Jesus op die tempelterrein rondbeweeg, kom die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom toe met die vraag: “Watter soort gesag het jy om mense uit die tempel te jaag? Of wie het aan jou die volmag gegee om hierdie dinge te doen?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Maar dan moet julle eers een vraag beantwoord: Kom Johannes se doop van God af, of was dit maar bloot ’n menslike saak?” Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, sal Hy sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê dit was bloot ’n menslike saak, is ons ook in die moeilikheid.” Hulle was bang vir die skare, want almal het geglo dat Johannes ’n profeet was. Gevolglik het hulle Jesus toe geantwoord: “Ons weet nie.” Jesus antwoord toe op sy beurt: “Dan gaan Ek julle ook nie sê waar Ek die gesag vandaan kry om so op te tree nie.”
MARKUS 11:27-33 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het weer in Jerusalem aangekom. Jesus het op die tempel-gronde rondgeloop. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gevra: “Hoekom dink jy dat jy hierdie dinge mag doen? Wie het gesê jy mag dit doen?” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal vir julle een vraag vra. As julle My antwoord, dan sal Ek vir julle sê wie gesê het Ek mag hierdie dinge doen. Johannes die Doper het mense gedoop. Wie het hom gestuur om dit te doen? Was dit God, of was dit mense? Antwoord My.” Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het daaroor met mekaar gepraat en gesê: “As ons sê: ‘God het hom gestuur,’ dan sal Jesus vra: ‘Hoekom het julle nie geglo wat Johannes gesê het nie?’ Maar ons kan ook nie sê: ‘Dit was mense wat vir Johannes gestuur het om te doop’ nie.” Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers was bang vir die klomp mense, want almal het gedink dat Johannes regtig 'n profeet was. Daarom het die skrifgeleerdes vir Jesus gesê: “Ons weet nie.” En Jesus het vir hulle gesê: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.”
MARKUS 11:27-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hulle het weer in Jerusalem gekom. En terwyl Hy in die tempel rondwandel, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My. En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? Maar as ons sê: Uit mense — dan was hulle vir die volk bang, want almal het gedink dat Johannes werklik 'n profeet was. En hulle antwoord en sê vir Jesus: Ons weet nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.
MARKUS 11:27-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle kom toe weer in Jerusalem aan. Terwyl Jesus op die tempelplein loop, kom die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde na Hom toe en vra vir Hom: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?” Jesus sê toe vir hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.” Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar moet ons sê: ‘Van mense af’? ...” Hulle was bang vir die mense, want almal was van mening dat Johannes werklik 'n profeet was. Daarom sê hulle toe vir Jesus: “Ons weet nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
MARKUS 11:27-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het toe weer in Jerusalem aangekom. En terwyl Hy op die tempelterrein rondstap, kom die leierpriesters, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom en vra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het aan jou dié gesag gegee dat jy hierdie dinge kan doen?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord My, en dan sal Ek julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit van die hemel of van mense? Antwoord My!” Hulle het onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê, ‘van mense ...’?” Hulle was bang vir die skare, want almal het Johannes inderdaad as 'n profeet beskou. Daarom het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
MARKUS 11:27-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het na Jerusalem teruggekom, en terwyl Hy in die tempel wandel, het die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom gekom, En sê vir hom: Met watter gesag doen jy hierdie dinge? en wie het jou hierdie mag gegee om hierdie dinge te doen? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een vraag vra en My antwoord, en Ek sal julle vertel met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of van mense? antwoord my. En hulle het met hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel; sal hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? Maar as ons sê: Van mense; hulle was bang vir die volk, want almal het vir Johannes gereken dat hy waarlik 'n profeet was. En hulle het geantwoord en vir Jesus gesê: Ons kan dit nie sê nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sê ook vir julle nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.