MARKUS 11:27-33

MARKUS 11:27-33 AFR53

EN hulle het weer in Jerusalem gekom. En terwyl Hy in die tempel rondwandel, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My. En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? Maar as ons sê: Uit mense — dan was hulle vir die volk bang, want almal het gedink dat Johannes werklik 'n profeet was. En hulle antwoord en sê vir Jesus: Ons weet nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid