Markus 11:27-33

Markus 11:27-33 AFR20

Hulle het toe weer in Jerusalem aangekom. En terwyl Hy op die tempelterrein rondstap, kom die leierpriesters, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom en vra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het aan jou dié gesag gegee dat jy hierdie dinge kan doen?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord My, en dan sal Ek julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit van die hemel of van mense? Antwoord My!” Hulle het onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê, ‘van mense ...’?” Hulle was bang vir die skare, want almal het Johannes inderdaad as 'n profeet beskou. Daarom het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid