Markus 1:29-45

Markus 1:29-45 DB

Na die episode in die sinagoge is Jesus saam met Jakobus en Johannes na Simon en Andreas se huis toe. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad. Hulle gaan vertel toe vir Jesus daarvan en Hy is dadelik na haar toe. Hy vat haar toe aan die hand en help haar op. Toe hulle weer sien, was die koors weg. Sy het opgestaan en vir hulle kos gemaak. Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was. Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is. Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.” Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.” Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag. Op pad het ’n melaatse man Hom op sy knieë kom smeek: “As U maar net wil, kan U my gesond maak.” Dit het Jesus diep geraak. Uit meegevoel raak Hy aan die man en sê: “Ek wíl dit doen. Word gesond.” Daar en dan het hy gesond geword. Sy vel was weer soos ’n normale mens s’n. Jesus vra die man toe dringend om nie daaroor te praat nie en stuur hom weg: “Moet asseblief nie by mense spog oor wat hier gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy tevrede is dat jy gesond is, gaan offer wat Moses se wet voorskryf vir mense wat gesond geword het. Almal sal dan weet dat jy gesond is.” Hy het egter nie na Jesus geluister nie en vir almal wat hy teëgekom het, vertel wat gebeur het. So het die nuus vinnig versprei. Dit het beteken dat Jesus nie meer ongemerk in die dorpies kon gaan rondstap nie. Hy moes buite die dorpies in die omgewing bly waar dit stiller was. Dit het ook nie eintlik gehelp nie, want die mense het van oral af na Hom toe gestroom.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid