MARKUS 1:29-45

MARKUS 1:29-45 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het uit die sinagoge na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle. Simon se skoonma was siek in die bed. Sy het 'n hoë koors gehad en die mense het dadelik vir Jesus vertel dat sy siek is. Jesus het na haar toe gegaan, Hy het haar hand geneem en Hy het haar gehelp om op te staan. Die koors het weggegaan, en sy het vir hulle kos gegee. In die aand toe die son al onder was en die Sabbatdag verby was, het hulle aangehou om baie mense na Jesus toe te bring, siek mense en mense wat duiwels in hulle gehad het. Al die mense van die stad het bymekaargekom by die deur van die huis. Jesus het baie mense gesond gemaak wat verskillende soorte siektes gehad het. Hy het ook baie duiwels uit die mense gejaag. Jesus het gesê die duiwels mag nie praat nie, want die duiwels het geweet wie Hy is. Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na 'n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid. Simon en sy vriende het vir Jesus gaan soek en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Jesus antwoord hulle: “Kom ons gaan weg na die stede hier naby, want Ek wil daar ook gaan preek. Dit is hoekom Ek gekom het.” Jesus het toe deur die hele provinsie Galilea gegaan en Hy het in hulle sinagoges gepreek. Hy het ook duiwels uit mense uitgejaag. 'n Melaatse man het na Jesus toe gekom. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesoebat: “As U wil, dan kan U my gesond maak.” Jesus was baie jammer vir die man. Hy het sy hand uitgesteek en Hy het aan hom geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.” Dadelik was die man nie meer melaats nie, hy het gesond geword. Jesus het ernstig met die man gepraat en vir hom gesê: “Jy mag vir niemand hiervan vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond, en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.” Daarna het Jesus die man weggestuur. Maar die man het gegaan en hy het oral vir al die mense vertel dat Jesus hom gesond gemaak het. Daarom kon Jesus nie meer in 'n stad inkom waar almal Hom kon sien nie. Hy het buite in die veld gebly, maar die mense het nog van oral na Hom toe gekom.

MARKUS 1:29-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN dadelik toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, kom hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andréas. En die skoonmoeder van Simon het siek gelê aan die koors; en dadelik het hulle Hom van haar gesê. Daarop gaan Hy na haar, neem haar hand en rig haar op, en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was. En die hele stad het by die deur saamgekom. En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. En Simon en die wat by hom was, het Hom gevolg. En toe hulle Hom vind, sê hulle vir Hom: Almal soek U. En Hy sê vir hulle: Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan. En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf. EN daar kom 'n melaatse na Hom toe wat Hom smeek en voor Hom op die knieë val en vir Hom sê: As U wil, kan U my reinig. En Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig! En toe Hy dit sê, het die melaatsheid hom dadelik verlaat, en hy is gereinig. En nadat Hy hom ernstig aangespreek het, stuur Hy hom dadelik weg en sê vir hom: Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot 'n getuienis vir hulle. Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in 'n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.

MARKUS 1:29-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het daar met 'n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe. Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!” Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in 'n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

MARKUS 1:29-45 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat hulle uit die •sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan. Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien. Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. Die hele dorp het by die deur saamgedrom. Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na 'n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan. Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle •sinagoges gepreek en demone uitgedryf. 'n Melaatse kom toe na Jesus, en terwyl hy neerkniel, smeek hy Hom en sê: “As U wil, kan U my rein maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!” Die melaatsheid het hom onmiddellik verlaat en hy het rein geword. Jesus het hom ernstig gewaarsku, hom dadelik weggestuur en vir hom gesê: “Sorg dat jy vir niemand iets vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het as bewys vir hulle.” Maar hy het weggegaan en begin om dit wyd en syd te vertel en die nuus te versprei. Die gevolg was dat Jesus nie openlik in 'n dorp kon ingaan nie, maar buite in verlate plekke gebly het. Steeds het mense van oral af na Hom toe bly kom.

MARKUS 1:29-45 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dadelik, toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, het hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andreas ingegaan. Maar Simon se vrou se ma het siek gelê van koors, en hulle het hom eers van haar vertel. En hy het gekom en haar aan die hand gegryp en haar opgetel; en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. En teen die aand, toe die son ondergaan het, het hulle almal wat siek was, en die wat van duiwels beset was, na Hom gebring. En die hele stad was by die ingang bymekaar. En Hy het baie genees wat aan allerhande siektes siek was, en baie duiwels uitgedryf; en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. En in die môre, 'n lang tyd voor die dag, opgestaan, het hy uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. En Simon en die wat saam met hom was, het hom gevolg. En toe hulle hom kry, sê hulle vir hom: Almal soek jou. En hy sê vir hulle: Laat ons na die volgende stede gaan, dat ek ook daar kan preek; want daarom het ek uitgegaan. En Hy het in hulle sinagoges deur die hele Galilea gepreek en duiwels uitgedryf. En daar het 'n melaatse na hom gekom en hom gesmeek en voor hom neergekniel en vir hom gesê: As u wil, kan u my reinig. En Jesus het innig jammer gevoel, sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil; wees jy rein. En sodra hy dit gesê het, het die melaatsheid dadelik van hom gewyk, en hy is gereinig. En hy het hom streng bevel gegee en hom dadelik weggestuur; En sê vir hom: Kyk dat jy niks aan iemand sê nie; maar gaan heen, vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses beveel het, tot 'n getuienis vir hulle. Maar hy het uitgegaan en begin om dit baie te verkondig en die saak aan die brand te steek, sodat Jesus nie meer openlik in die stad kon ingaan nie, maar buite was in verlate plekke; en hulle het van elke kant af na Hom gekom.

MARKUS 1:29-45 Die Boodskap (DB)

Na die episode in die sinagoge is Jesus saam met Jakobus en Johannes na Simon en Andreas se huis toe. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad. Hulle gaan vertel toe vir Jesus daarvan en Hy is dadelik na haar toe. Hy vat haar toe aan die hand en help haar op. Toe hulle weer sien, was die koors weg. Sy het opgestaan en vir hulle kos gemaak. Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was. Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is. Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.” Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.” Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag. Op pad het ’n melaatse man Hom op sy knieë kom smeek: “As U maar net wil, kan U my gesond maak.” Dit het Jesus diep geraak. Uit meegevoel raak Hy aan die man en sê: “Ek wíl dit doen. Word gesond.” Daar en dan het hy gesond geword. Sy vel was weer soos ’n normale mens s’n. Jesus vra die man toe dringend om nie daaroor te praat nie en stuur hom weg: “Moet asseblief nie by mense spog oor wat hier gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy tevrede is dat jy gesond is, gaan offer wat Moses se wet voorskryf vir mense wat gesond geword het. Almal sal dan weet dat jy gesond is.” Hy het egter nie na Jesus geluister nie en vir almal wat hy teëgekom het, vertel wat gebeur het. So het die nuus vinnig versprei. Dit het beteken dat Jesus nie meer ongemerk in die dorpies kon gaan rondstap nie. Hy moes buite die dorpies in die omgewing bly waar dit stiller was. Dit het ook nie eintlik gehelp nie, want die mense het van oral af na Hom toe gestroom.

MARKUS 1:29-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle. Simon se skoonma was siek in die bed vanweë ’n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel. Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle ’n ete voorberei. Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring. Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien. Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie bose geeste uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê. Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid. Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.” Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.” So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedryf. ’n Man met ’n ernstige velsiekte het na Hom toe gekom, voor Hom gekniel en Hom gesmeek met die woorde: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” Net daar het die ernstige velsiekte verdwyn – die man was gesond. Jesus het hom toe dadelik weggestuur nadat Hy hom ernstig aangespreek het met die woorde: “Sorg dat jy met niemand langs die pad praat nie. Gaan reguit na die priester. Laat hy jou ondersoek. En bring die offer wat die wet van Moses vereis vir ernstige velsiektes wat genees is. So sal almal ’n duidelike bewys hê van jou genesing.” Maar die man het weggegaan en die nuus van wat met hom gebeur het, oral versprei. Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring dat dit vir Hom onmoontlik geword het om openlik in enige dorp in te gaan. Hy moes buite in afgeleë plekke bly. Tog het mense steeds van oral na Hom toe gekom.