Markus 1:29-45

Markus 1:29-45 AFR20

Nadat hulle uit die •sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan. Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien. Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. Die hele dorp het by die deur saamgedrom. Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na 'n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan. Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle •sinagoges gepreek en demone uitgedryf. 'n Melaatse kom toe na Jesus, en terwyl hy neerkniel, smeek hy Hom en sê: “As U wil, kan U my rein maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!” Die melaatsheid het hom onmiddellik verlaat en hy het rein geword. Jesus het hom ernstig gewaarsku, hom dadelik weggestuur en vir hom gesê: “Sorg dat jy vir niemand iets vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het as bewys vir hulle.” Maar hy het weggegaan en begin om dit wyd en syd te vertel en die nuus te versprei. Die gevolg was dat Jesus nie openlik in 'n dorp kon ingaan nie, maar buite in verlate plekke gebly het. Steeds het mense van oral af na Hom toe bly kom.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 1:29-45