Lukas 21:20-38

Lukas 21:20-38 DB

“As julle die dag sien dat ’n vreemde leër besig is om Jerusalem te omsingel, moet julle weet dat sy dae getel is. Dan moet julle so gou moontlik daar padgee. Gaan kruip iewers in die heuwels in Judea weg. Maak net dat julle wegkom! As julle dalk buite Jerusalem bly en op pad soontoe is, draai dadelik om. Want dit sal ’n verskriklike tyd wees. God se oordeel sal dan op Jerusalem uitgegiet word net soos die profete lankal gewaarsku het. “Ek kry veral vroue jammer wat dan verwag of wat nog klein babatjies het. Hulle gaan bitter swaarkry! Want oral gaan daar groot bloedvergieting en lyding wees. Dit sal ’n tyd van wraak wees soos Jerusalem nog nooit beleef het nie. Baie mense sal in daardie tyd doodgemaak word of as gevangenes na ander lande toe weggevat word. Ander volke sal in Jerusalem instroom en dit onder hulle voete vertrap. Hierdie dinge sal aanhou totdat God uiteindelik besluit dis genoeg.” “Op ’n dag sal verskriklike dinge begin gebeur. “Die son, die maan en die sterre sal skielik onheilspellend begin verander. Hulle sal nie meer dieselfde lyk nie. Hulle sal begin skud en uit die hemel val. “Oral op die aarde sal chaos losbreek. Die natuurwette wat alles in die skepping beheer, sal skielik hulle krag verloor. Dan sal die see oor almal begin spoel. “Al hierdie dinge sal die mense rasend van vrees maak. Almal sal doodbang wees. Maar dan, skielik, sal die Seun daar wees. Almal sal Hom sien wanneer Hy met sy hemelse krag en heerlikheid op die toneel verskyn. “Wanneer al hierdie dinge begin gebeur, moet julle nie bang wees nie. Want God se nuwe wêreld waarna julle so uitgesien het, is dan voor die deur. Begin solank kyk of julle nie al die Seun sien aankom nie, want Hy gaan enige oomblik op die toneel verskyn! “Julle het netnou gevra wanneer al hierdie dinge gaan gebeur. Wel, luister gou na hierdie voorbeeld uit die natuur. Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle blaartjies en blommetjies begin maak, weet hy dat die somer net om die draai is. Nou ja, al hierdie dinge wat Ek so pas vir julle vertel het, moet vir julle soos die ‘blaartjies en blommetjies’ wees wat sê dat God se nuwe wêreld voor die deur is. “Luister mooi. Wat Ek nou sê, is spesiaal vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dis net praatjies nie. Julle dink die hemel en die aarde staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde nog honderd maal vaster staan. “Staan reg vir daardie groot dag. Wees gereed. Moenie julle oorgee aan dronkpartytjies en allerhande vieslike sondes nie. Moet ook nie so besig raak met julle werk dat julle vergeet om te kyk hoe laat dit al op God se horlosie is nie. Dan gaan daardie dag julle heeltemal onkant betrap. Moenie soos baie ander mense op die laaste dag benoud begin rondhardloop omdat julle nie gereed is nie. “Ek waarsku julle nou voor die tyd: kry julle lewe in orde. Vandag nog! Bid elke dag dat die Here julle sal oppas en julle sal help om reg te leef. Dan sal julle vol vreugde voor die Seun van die mens gaan staan.” In daardie tyd het Jesus elke dag na die tempel toe gegaan om met die mense te praat oor God se nuwe wêreld. In die aande het Hy op die Olyfberg net buitekant Jerusalem gaan slaap. ’n Groot skare mense het al vroeg elke oggend na die tempel toe gestroom om te hoor wat Hy sê.