Lukas 21:20-38

Lukas 21:20-38 AFR20

“Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel is, moet julle weet dat haar verwoesting naby is. Dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, en hulle wat binne die stad self is, moet uitgaan, en hulle wat op die platteland is, moet die stad nie binnegaan nie; want daardie dae is dae van vergelding, sodat alles wat geskryf is, vervul sal word. Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed, want daar sal groot nood in die land wees en straf vir hierdie volk. Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word , totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is. ” “Dan sal daar tekens wees in die son en die maan en die sterre, en op die aarde sal die nasies beangs en verward wees oor die gedreun en hoë golwe van die see. Mense sal flou val van vrees en vermoedens oor wat die wêreld gaan tref, want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle ‘die •Seun van die Mens op 'n wolk sien kom’ met krag en groot heerlikheid. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan op en lig julle koppe, want julle bevryding is naby. ” Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel: “Kyk na die vyeboom en al die ander bome. Wanneer hulle reeds bot, merk julle dit self op en weet dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die •koninkryk van God naby is. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie. “Wees op julle hoede dat julle harte nie belas word deur oormatige gefuif en dronkenskap en die bekommernisse van die lewe, en daardie dag julle onverwags betrap soos 'n valstrik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. Wees te alle tye waaksaam , en bid dat julle in staat sal wees om al hierdie dinge wat gaan gebeur, te ontvlug, en voor die •Seun van die Mens te kan staan. ” Jesus het bedags op die tempelterrein onderrig gegee, maar snags het Hy uitgegaan om op die Olyfberg te oornag. En die hele volk het vroeg opgestaan om op die tempelterrein na Hom te gaan luister.