Lukas 2:21-38

Lukas 2:21-38 DB

Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het. Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis. In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het. Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen. Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie. Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy. Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê: “Here, U kan my nou maar laat doodgaan, want U het u woord gehou. U dienskneg kan nou in vrede sterf, want ek het nou Hom gesien vir wie U gestuur het om die wêreld te red. Almal op aarde kan Hom nou ook sien en sy redding beleef, want U het die Verlosser hier onder ons die lewenslig laat sien. Hy sal ’n lig wees vir al die volke op die aarde wat in die donker leef. Hy sal ook groot eer aan u volk Israel bring.” Jesus se pa en ma was verstom oor wat Simeon gesê het. Simeon het hulle geseën en vir Maria gesê: “Kyk, baie mense sal nog oor hierdie Kind struikel en val. Gelukkig sal ander deur Hom die ware lewe ontdek. Maar baie sal nie verstaan wie Hy is nie en lelik van Hom praat. Maria, al hierdie dinge wat met die Kind gebeur, sal nog groot hartseer in jou eie lewe bring. Dit sal soos ’n swaard wees waarmee mense jou deurboor.” Daar was nog ’n boodskapper van die Here in die tempel. Haar naam was Anna. Sy was ’n dogter van Fanuel, ’n man uit die geslag van Aser. Anna was al baie oud. Vroeër was sy sewe jaar lank getroud. Toe haar man dood is, het sy nie weer getrou nie. Anna was nou al 84 jaar oud. Sy het gereeld na die tempel toe gekom. Dag en nag het sy God getrou gedien deur te vas en te bid. Terwyl Josef en Maria by Simeon gestaan het, het Anna na hulle toe gestap. Toe sy vir Jesus sien, het sy God dadelik geloof en vir Hom dankie gesê. Daar in die tempel was ook baie ander mense wat gebid het dat Jerusalem bevry sou word van al sy vyande. Anna het nou goeie nuus vir hulle gehad. Sy het vir hulle vertel wie hierdie Kindjie regtig is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid