LUKAS 2:21-38

LUKAS 2:21-38 Die Boodskap (DB)

Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het. Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis. In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het. Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen. Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie. Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy. Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê: “Here, U kan my nou maar laat doodgaan, want U het u woord gehou. U dienskneg kan nou in vrede sterf, want ek het nou Hom gesien vir wie U gestuur het om die wêreld te red. Almal op aarde kan Hom nou ook sien en sy redding beleef, want U het die Verlosser hier onder ons die lewenslig laat sien. Hy sal ’n lig wees vir al die volke op die aarde wat in die donker leef. Hy sal ook groot eer aan u volk Israel bring.” Jesus se pa en ma was verstom oor wat Simeon gesê het. Simeon het hulle geseën en vir Maria gesê: “Kyk, baie mense sal nog oor hierdie Kind struikel en val. Gelukkig sal ander deur Hom die ware lewe ontdek. Maar baie sal nie verstaan wie Hy is nie en lelik van Hom praat. Maria, al hierdie dinge wat met die Kind gebeur, sal nog groot hartseer in jou eie lewe bring. Dit sal soos ’n swaard wees waarmee mense jou deurboor.” Daar was nog ’n boodskapper van die Here in die tempel. Haar naam was Anna. Sy was ’n dogter van Fanuel, ’n man uit die geslag van Aser. Anna was al baie oud. Vroeër was sy sewe jaar lank getroud. Toe haar man dood is, het sy nie weer getrou nie. Anna was nou al 84 jaar oud. Sy het gereeld na die tempel toe gekom. Dag en nag het sy God getrou gedien deur te vas en te bid. Terwyl Josef en Maria by Simeon gestaan het, het Anna na hulle toe gestap. Toe sy vir Jesus sien, het sy God dadelik geloof en vir Hom dankie gesê. Daar in die tempel was ook baie ander mense wat gebid het dat Jerusalem bevry sou word van al sy vyande. Anna het nou goeie nuus vir hulle gehad. Sy het vir hulle vertel wie hierdie Kindjie regtig is.

LUKAS 2:21-38 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus ag dae oud was, was dit die tyd om Hom te besny, en toe het hulle Hom Jesus genoem. Dit was die naam wat die engel vir Maria gesê het voordat sy swanger geword het. Moses het in sy wette geskryf wat 'n vrou moet doen om weer rein te word nadat sy 'n kind gekry het. Maria het dit alles gedoen en daarna het sy en Josef vir Jesus na Jerusalem gebring om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: Julle moet die eerste seun van elke vrou aan die Here wy. Josef en Maria het ook 'n offer gebring, want die wet van die Here sê ook: Die vrou moet 'n offer vir die Here bring. Sy moet twee tortelduiwe of twee jong duiwe offer. Daar was 'n man in Jerusalem, sy naam was Simeon. Hy het gedoen wat die Here wil hê, en hy het die Here elke dag gedien. Hy het geweet die Here sal Iemand stuur om sy volk te kom red, en hy het elke dag vir Hom gewag. Die Heilige Gees was in Simeon. Die Heilige Gees het voorheen vir hom gesê hy sal Christus die Here sien voordat hy sterf. Die Heilige Gees het eendag vir Simeon gesê hy moet na die tempel gaan. Dit was toe Josef en Maria vir Jesus gebring het om met Hom te doen soos die Wette van Moses sê. Simeon het die Kindjie in sy arms gehou en hy het God geprys en gesê: Here, U het gedoen wat U vir my gesê het. Nou kan ek sterf, ek is tevrede, want ek het self die Redder gesien. U het Hom vir ons gestuur, en al die volke sal Hom sien. Al die volke sal sien Hy is die lig en hulle sal u volk Israel eer. Josef en Maria was baie verbaas oor wat Simeon gesê het oor Jesus. Simeon het hulle geseën en hy het vir Maria, Jesus se ma, gesê: “Hierdie Kind het gekom, Hy sal wees soos 'n klip waaroor baie mense val, maar Hy sal ook baie mense red. Hy is die Redder, maar nie al die mense sal dit glo nie. Daarom, Maria, sal jy baie swaar kry. Die mense sal oor Hom stry en so sal almal weet wat die mense oor hierdie Kind dink.” Dieselfde dag was daar ook 'n profeet in die tempel. Haar naam was Anna en sy was baie oud. Sy was 'n dogter van Fanuel, uit die Aser-stam. Sy het getrou toe sy jonk was, en haar man het ná sewe jaar gesterf. Nadat hy gesterf het, het sy nie weer getrou nie. Sy was nou 84 jaar oud en sy was elke dag by die tempel. Sy het God elke dag en nag gedien en gevas en gebid. Anna het by Josef en Maria gaan staan en sy het God gedank. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat geweet het dat God Jerusalem wil vrymaak, almal wat daarvoor gewag het.

LUKAS 2:21-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot. En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word; en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe. EN daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke — 'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel. En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is. En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word — ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan — sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word. En daar was Anna, 'n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe; en sy was 'n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag. En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.

LUKAS 2:21-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is. Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.” Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê: “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: 'n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.” Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is. Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.” Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

LUKAS 2:21-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ná verloop van agt dae moes die Kindjie besny word. En Hy is Jesus genoem, die naam wat deur die engel aangedui is voordat Hy in die moederskoot ontvang is. Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.” Hulle het ook, soos die Wet van die Here voorskryf, 'n offer gebring: “twee tortelduiwe, of twee jong duiwe” . En kyk, in Jerusalem was daar 'n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd, en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring, sodat hulle die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom kon nakom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof: “Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad u verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het, 'n lig wat vir die nasies tot openbaring dien, en eer bring aan u volk Israel.” Sy vader en moeder was verstom oor die dinge wat oor Hom gesê is. Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as 'n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.” Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel, uit die stam van Aser. Sy was al op gevorderde leeftyd. Sy is as jong meisie getroud, het sewe jaar lank saam met haar man geleef, en was nou 'n weduwee van byna vier-en-tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempelterrein af weggebly nie en God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank, en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat.

LUKAS 2:21-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe agt dae verby was vir die besnydenis van die kind, is sy naam JESUS genoem, wat so genoem is deur die engel voordat hy in die moederskoot ontvang is. En toe die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses verby was, het hulle hom na Jerusalem gebring om hom aan die Here voor te stel; (Soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike wat die moederskoot oopmaak, sal aan die Here heilig genoem word;) En om 'n offer te bring volgens wat in die wet van die Here gesê is: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe. En kyk, daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Simeon; en dieselfde man was regverdig en vroom en het gewag op die vertroosting van Israel, en die Heilige Gees was op hom. En dit is aan hom geopenbaar deur die Heilige Gees, dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Here se Christus gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom, en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring, om vir hom te doen volgens die gebruik van die wet, Toe neem hy hom in sy arms en loof God en sê: Here, laat U dienaar nou in vrede gaan, volgens u woord. Want my oë het u verlossing gesien, wat jy berei het voor die aangesig van al die volke; 'n Lig om die heidene te verlig, en die heerlikheid van u volk Israel. En Josef en sy moeder was verwonderd oor die dinge wat van hom gesê is. En Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie kind is gereed vir die val en opstanding van baie in Israel; en vir 'n teken wat teëgespreek sal word; (Ja, 'n swaard sal ook deur jou eie siel dring), sodat die gedagtes van baie harte geopenbaar kan word. En daar was een Anna, 'n profetes, die dogter van Fanuel, uit die stam van Aser; En sy was 'n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar, wat nie van die tempel gewyk het nie, maar God gedien het met vas en gebede dag en nag. En sy het in daardie oomblik gekom en die Here gedank en van Hom gespreek met almal wat verlossing in Jerusalem verwag het.

LUKAS 2:21-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het. Daarna was dit tyd vir die reinigingsoffer, soos die wet van Moses ná die geboorte van ’n kind vereis het; daarom het sy ouers Hom na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: “As ’n vrou se eerste kind ’n seun is, moet hy aan die Here gewy word.” Hulle het ’n offer gebring volgens wat die wet van die Here vereis het: “óf ’n paar tortelduiwe óf twee jong duiwe.” Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding. Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het, was Simeon daar. Hy het die Kind in sy arms geneem en God geprys: “Here, nou kan u dienskneg in vrede sterf soos U my beloof het, want ek het die verlossing gesien wat U voorberei het voor die oë van alle volke, ’n lig om God aan die nasies bekend te maak, en die glorie van u volk Israel!” Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is. Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil. So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.” Anna, ’n profetes, was ook daar in die tempel. Sy was die dogter van Fanuel uit die stam van Aser, en sy was baie oud. Sy was ’n weduwee; haar man is oorlede toe hulle nog maar net sewe jaar getroud was. Sy was nou 84 jaar oud. Sy was nooit weg van die tempel af nie en het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed. Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die bevryding van Jerusalem.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid