Lukas 2:21-38

Lukas 2:21-38 AFR20

Ná verloop van agt dae moes die Kindjie besny word. En Hy is Jesus genoem, die naam wat deur die engel aangedui is voordat Hy in die moederskoot ontvang is. Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.” Hulle het ook, soos die Wet van die Here voorskryf, 'n offer gebring: “twee tortelduiwe, of twee jong duiwe” . En kyk, in Jerusalem was daar 'n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd, en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring, sodat hulle die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom kon nakom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof: “Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad u verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het, 'n lig wat vir die nasies tot openbaring dien, en eer bring aan u volk Israel.” Sy vader en moeder was verstom oor die dinge wat oor Hom gesê is. Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as 'n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.” Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel, uit die stam van Aser. Sy was al op gevorderde leeftyd. Sy is as jong meisie getroud, het sewe jaar lank saam met haar man geleef, en was nou 'n weduwee van byna vier-en-tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempelterrein af weggebly nie en God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank, en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid