Iemand uit die skare sê toe vir Jesus: “Goeie Leermeester, help my asseblief met my groot probleem. My pa is onlangs dood en nou wil my broer nie ons erfgeld met my deel nie. Hy hou alles net vir homself.” “Hoor hier, dit is nie my werk om as regter in julle familietwiste op te tree of julle geldsake op te los nie,” het Jesus vinnig geantwoord. Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie. Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel: Eendag was daar ’n baie ryk man. Hy was ’n groot boer wat die een goeie oes na die ander op sy lande gehad het. Op ’n dag dink hy toe by homself: ‘Ek het ’n probleem. My skure is nie meer groot genoeg om al my oeste in te bêre nie.’ “Na ’n rukkie sê hy vir homself: ‘Nou weet ek. Ek gaan al my skure afbreek. Dan bou ek baie groter skure in hulle plek - groot genoeg om al my oeste in te bêre. En dan kan ek sommer al my kosbare besittings waarvoor ek nie meer plek in my huis het nie daar toesluit. Daarna kan ek agteroor sit en die lewe geniet. Ek kan myself op die skouer klop en sê: Mooi so! Jy het nou so baie geld en besittings dat jy dit nooit kan uitleef nie. Gaan geniet nou jou lewe. Hou partytjie. Gee jou oor aan drank en plesier. Doen net wat jy wil. Jy verdien dit mos.’ “Maar hierdie ryk man het ’n verskriklike groot fout gemaak. Hy het God buite rekening gelaat. Op daardie selfde dag nog het God vir hom gesê: ‘Jou arme dwaas! Vannag nog sal jy doodgaan. En wat word dan van al jou baie besittings? Jy kan dit tog nie saam met jou na die doderyk toe vat nie.’ “Weet julle, so gaan dit met almal wat die verkeerde skatte bymekaarmaak. Die doderyk is die enigste beloning vir al hulle harde werk. Gee julle lewens eerder aan God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n splinternuwe lewe op julle.” Daarna het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Hou op om julle van vroeg tot laat te loop en bekommer. Julle wonder gedurig: ‘Waar gaan ons geld kry om kos te koop?’ of: ‘Hoe gaan ons geld vir klere in die hande kry?’ Dié dinge is tog nie die belangrikste in die lewe nie. Die lewe gaan oor baie meer as dit. Kyk net ’n bietjie om julle, dan sien julle wat Ek bedoel. “Kyk maar net na die voëls. Hulle het nie groot lande waar hulle hul kos aanplant nie. Daar is ook nie groot bêreplek vir kos in hulle neste nie. En tog gaan slaap hulle nooit een aand honger nie. God sorg vir hulle. Besef julle nie dat julle vir God baie meer werd is as al die voëls nie? Vir wat bekommer julle julle dan so? Dit help in elk geval niks nie. Met julle bekommernis kan julle jul lewens nie eens met ’n enkele sekonde verleng nie. Hou dadelik op daarmee! “Gaan kyk ook ’n slag na al die lelies wat buite in die veld groei. Hulle word nooit natgegooi of versorg nie. En tog groei hulle pragtig. Selfs nie eens koning Salomo met al sy rykdom en blink klere was so indrukwekkend soos een van hulle nie. As God dan die veldgras so mooi versorg, wat nog vandag daar is en môre dood is, wat sal Hy nie alles vir julle doen nie, julle spul kleingelowiges? “Ek sê weer: hou op om julle heeltyd te bekommer oor dinge soos kos en klere. En moenie so angstig wees oor alles nie. Dit is goed waaroor al die nasies van die wêreld wat nie in God glo nie hulle bekommer. Maar julle het ’n Vader in die hemel. Hy is baie lief vir julle en Hy weet presies wat julle nodig het. Al wat julle moet doen, is om heeltyd sy koninkryk eerste te stel. Leef dag en nag soos burgers van sy nuwe wêreld. En los die res vir Hom. Hy sal wel sorg dat julle alles kry wat julle elke dag nodig het. “Hou op om so bang en benoud te wees, my klein ou groepie volgelinge. Julle Vader gee verskriklik baie vir julle om. Weet julle hoe bly dit Hom gemaak het om vir julle elkeen ’n plek in sy nuwe wêreld te gee? Daarom sal Hy elke dag vir julle sorg. “Julle moet op ’n nuwe manier gaan leef. Verkoop julle besittings. Deel wat julle het met dié wat minder as julle het. Maak vir julle ’n bankrekening in die hemel oop. God self sal dit oppas. Geen dief kan daar by Hom inbreek nie. En niks word ooit oud daar nie. “Onthou, die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.”
Lees Lukas 12
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 12:13-34
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's