LUKAS 12:13-34
LUKAS 12:13-34 Bybel vir almal (ABA)
Daar was baie mense, en een van hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, my broer erf baie goed. Sê vir hom hy moet vir my ook daarvan gee.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Man, Ek het nie gekom om regter oor julle te wees of om te besluit wat elkeen moet erf nie.” Toe sê Jesus vir die mense: “Julle moet oppas, julle moenie meer en meer goed wil hê nie, want dit maak nie saak hoeveel goed 'n mens het nie, dit is nie belangrik vir jou lewe nie.” Toe vertel Jesus vir hulle 'n gelykenis. Hy het gesê: “Daar was 'n ryk man wat baie koring afgesny het. Toe hulle die koring begin afsny, het hy met homself gepraat en gesê: ‘Wat sal ek doen? Ek het nie genoeg plek waar ek al die koring kan bêre nie.’ Toe sê hy: ‘Ek weet wat ek sal doen: Ek sal my stoorkamers afbreek en nuwe stoorkamers bou wat groter is. Dan sal ek al my koring en ander goed daarin bêre. En dan sal ek vir myself sê ek het nou baie goed wat ek gebêre het vir baie jare wat kom, nou kan ek lekker gaan rus, ek kan eet en drink en die lewe geniet.’ Maar toe het God vir die man gesê: ‘Jy is 'n dwaas, jy sal vannag sterf. En al daardie goed van jou wat jy so veilig weggebêre het, wat sal nou daarvan word?’ So gaan dit met 'n mens wat vir homself geld en mooi goed bymekaarmaak op die aarde, maar nie ryk is by God nie.” Jesus het toe met sy dissipels gepraat en gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe, oor wat julle sal eet nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, en hulle het nie stoorkamers waar hulle kos en ander goed bêre nie. Maar God gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. As julle nie julle lewe 'n klein bietjie langer kan maak nie, hoekom is julle dan bekommerd oor al die ander dinge? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle, koning Salomo was ryk en hy het mooi klere aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand hulle in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter vir julle sorg as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. Julle moenie aanhou dink oor wat julle sal eet of wat julle sal drink nie. Julle moenie aanhou bekommerd wees oor alles nie, want al hierdie dinge is belangrik vir die mense van die wêreld, die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God die Koning is. Dan sal Hy al hierdie ander dinge vir julle gee. Julle is min, maar julle moenie bang wees nie, want julle Vader wil graag julle Koning wees. Dit sal beter wees as julle al julle goed verkoop en vir die arm mense sorg. Julle moet vir julleself beursies maak wat nie oud word nie, julle moet goed hê wat altyd daar sal wees. Dan sal julle ryk wees, julle sal in die hemel by God goed hê wat nie opraak nie. Daar kan diewe dit nie steel nie, en motte kan dit nie opvreet nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir julle die belangrikste wees. Dan sal julle net dink aan God wat in die hemel is.”
LUKAS 12:13-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel. Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as 'n regter of deler oor julle aangestel? En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie. EN Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
LUKAS 12:13-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.” Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.” Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge? “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
LUKAS 12:13-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel? ” Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “'n Sekere ryk man se plaas het 'n goeie oes opgelewer. Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.” Hy het toe vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Let op die kraaie: Hulle saai nie en hulle maai nie, hulle het nie 'n stoorkamer of 'n skuur nie. Tog sorg God vir hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! Wie van julle kan, deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? As julle nie eers so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die res? “Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie, en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. En as God die gras in die veld wat vandag nog daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges! “Moet ook nie soek na dit wat julle moet eet of drink en daaroor besorg wees nie. Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder sy •koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, 'n onuitputlike skat in die hemel, waar 'n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
LUKAS 12:13-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En een van die skare sê vir hom: Meester, spreek met my broer dat hy die erfdeel met my moet deel. En hy sê vir hom: Man, wie het my 'n regter of 'n skeidsregter oor jou aangestel? En Hy sê vir hulle: Pas op en pas op vir hebsug, want 'n mens se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. En Hy het 'n gelykenis aan hulle vertel en gesê: Die grond van 'n sekere ryk man het oorvloedig voortgebring. En hy het by homself gedink en gesê: Wat moet ek doen, omdat ek geen plek het om my vrugte te gee nie? En hy sê: Dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou; en daar sal ek al my vrugte en my goed gee. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat vir baie jare weggelê is; neem gerus jou, eet, drink en wees vrolik. Maar God sê vir hom: Jou dwaas, in hierdie nag sal jou siel van jou geëis word; So is hy wat vir homself skatte bymekaarmaak en nie ryk is by God nie. En Hy sê vir sy dissipels: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe, wat julle sal eet nie; ook nie vir die liggaam wat julle moet aantrek nie. Die lewe is meer as vleis, en die liggaam is meer as klere. Let op die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; wat nie stoorkamer of skuur het nie; en God voed hulle. Hoeveel te meer is julle beter as die voëls? En wie van julle kan met nadenke een el by sy lengte voeg? As julle dan nie in staat is om die minste te doen nie, waarom dink julle dan aan die res? Let op die lelies hoe hulle groei: hulle swoeg nie, hulle spin nie; en tog sê Ek vir julle dat Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras wat vandag in die veld is en môre in die oond gegooi word, so beklee; hoeveel te meer sal Hy vir julle beklee, kleingelowiges? En moenie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en moenie twyfel nie. Want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek liewer die koninkryk van God; en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie; want dit is 'n welbehae van julle Vader om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop wat julle het, en gee aalmoese; voorsien vir julle sakke wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat nie ophou nie, waar geen dief nader kom en geen mot verderf nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
LUKAS 12:13-34 Die Boodskap (DB)
Iemand uit die skare sê toe vir Jesus: “Goeie Leermeester, help my asseblief met my groot probleem. My pa is onlangs dood en nou wil my broer nie ons erfgeld met my deel nie. Hy hou alles net vir homself.” “Hoor hier, dit is nie my werk om as regter in julle familietwiste op te tree of julle geldsake op te los nie,” het Jesus vinnig geantwoord. Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie. Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel: Eendag was daar ’n baie ryk man. Hy was ’n groot boer wat die een goeie oes na die ander op sy lande gehad het. Op ’n dag dink hy toe by homself: ‘Ek het ’n probleem. My skure is nie meer groot genoeg om al my oeste in te bêre nie.’ “Na ’n rukkie sê hy vir homself: ‘Nou weet ek. Ek gaan al my skure afbreek. Dan bou ek baie groter skure in hulle plek - groot genoeg om al my oeste in te bêre. En dan kan ek sommer al my kosbare besittings waarvoor ek nie meer plek in my huis het nie daar toesluit. Daarna kan ek agteroor sit en die lewe geniet. Ek kan myself op die skouer klop en sê: Mooi so! Jy het nou so baie geld en besittings dat jy dit nooit kan uitleef nie. Gaan geniet nou jou lewe. Hou partytjie. Gee jou oor aan drank en plesier. Doen net wat jy wil. Jy verdien dit mos.’ “Maar hierdie ryk man het ’n verskriklike groot fout gemaak. Hy het God buite rekening gelaat. Op daardie selfde dag nog het God vir hom gesê: ‘Jou arme dwaas! Vannag nog sal jy doodgaan. En wat word dan van al jou baie besittings? Jy kan dit tog nie saam met jou na die doderyk toe vat nie.’ “Weet julle, so gaan dit met almal wat die verkeerde skatte bymekaarmaak. Die doderyk is die enigste beloning vir al hulle harde werk. Gee julle lewens eerder aan God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n splinternuwe lewe op julle.” Daarna het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Hou op om julle van vroeg tot laat te loop en bekommer. Julle wonder gedurig: ‘Waar gaan ons geld kry om kos te koop?’ of: ‘Hoe gaan ons geld vir klere in die hande kry?’ Dié dinge is tog nie die belangrikste in die lewe nie. Die lewe gaan oor baie meer as dit. Kyk net ’n bietjie om julle, dan sien julle wat Ek bedoel. “Kyk maar net na die voëls. Hulle het nie groot lande waar hulle hul kos aanplant nie. Daar is ook nie groot bêreplek vir kos in hulle neste nie. En tog gaan slaap hulle nooit een aand honger nie. God sorg vir hulle. Besef julle nie dat julle vir God baie meer werd is as al die voëls nie? Vir wat bekommer julle julle dan so? Dit help in elk geval niks nie. Met julle bekommernis kan julle jul lewens nie eens met ’n enkele sekonde verleng nie. Hou dadelik op daarmee! “Gaan kyk ook ’n slag na al die lelies wat buite in die veld groei. Hulle word nooit natgegooi of versorg nie. En tog groei hulle pragtig. Selfs nie eens koning Salomo met al sy rykdom en blink klere was so indrukwekkend soos een van hulle nie. As God dan die veldgras so mooi versorg, wat nog vandag daar is en môre dood is, wat sal Hy nie alles vir julle doen nie, julle spul kleingelowiges? “Ek sê weer: hou op om julle heeltyd te bekommer oor dinge soos kos en klere. En moenie so angstig wees oor alles nie. Dit is goed waaroor al die nasies van die wêreld wat nie in God glo nie hulle bekommer. Maar julle het ’n Vader in die hemel. Hy is baie lief vir julle en Hy weet presies wat julle nodig het. Al wat julle moet doen, is om heeltyd sy koninkryk eerste te stel. Leef dag en nag soos burgers van sy nuwe wêreld. En los die res vir Hom. Hy sal wel sorg dat julle alles kry wat julle elke dag nodig het. “Hou op om so bang en benoud te wees, my klein ou groepie volgelinge. Julle Vader gee verskriklik baie vir julle om. Weet julle hoe bly dit Hom gemaak het om vir julle elkeen ’n plek in sy nuwe wêreld te gee? Daarom sal Hy elke dag vir julle sorg. “Julle moet op ’n nuwe manier gaan leef. Verkoop julle besittings. Deel wat julle het met dié wat minder as julle het. Maak vir julle ’n bankrekening in die hemel oop. God self sal dit oppas. Geen dief kan daar by Hom inbreek nie. En niks word ooit oud daar nie. “Onthou, die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.”
LUKAS 12:13-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het iemand uit die skare geroep: “Leermeester, sê asseblief vir my broer om ons pa se boedel met my te deel.” Jesus het geantwoord: “Vriend, wie het My as regter oor julle aangestel om oor sulke dinge te besluit?” Toe het Hy gesê: “Pas op! Moenie gierig wees nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.” Toe vertel Hy ’n gelykenis: “’n Ryk man het ’n vrugbare plaas besit wat goeie oeste opgelewer het. Hy het toe by homself gewonder: ‘Wat moet ek doen? Ek het nie meer stoorplek vir die oes oor nie.’ Hy het toe gesê: ‘Ek weet! Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Dan sal ek genoeg plek hê om alles te berg. En ek sal terugsit en vir myself sê: Jou gelukkige kêrel! Jy het genoeg gebêre vir die jare wat voorlê. Ontspan nou! Eet, drink en wees vrolik!’ “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jy sterf. En alles wat jy bymekaargemaak het, wie sal dit kry?’ “Ja, ’n mens is ’n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ’n ryk verhouding met God het nie.” Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle oor die alledaagse lewe bekommer – of julle genoeg kos het om te eet of klere om te dra nie. Want die lewe bestaan uit veel meer as kos en die liggaam is veel meer as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai en oes nie, hulle het geen spens of skuur waarin hulle voorrade bêre nie, en tog sorg God vir hulle. En julle is baie waardevoller vir Hom as enige voëls! Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie! En as kommer nie eers sulke klein dingetjies kan regkry nie, wat is die nut van kommer oor groter dinge? “Kyk na die lelies en hoe hulle groei. Hulle werk nie en maak nie klere nie, en selfs Salomo in al sy prag was nie so mooi geklee soos hulle nie. As God só wonderlik sorg vir die blomme wat vandag hier is en môre weg is, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Julle het so min geloof! “En moenie oor kos bekommerd wees nie – oor wat om te eet en wat om te drink nie. Moenie bekommerd wees nie. Hierdie dinge domineer die gedagtes van die nasies van hierdie wêreld. Maar julle Vader ken alreeds julle behoeftes. Beywer julle allereers vir sy koningsheerskappy en Hy sal vir julle hierdie dinge nog daarby gee. “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie. Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee. “Verkoop wat julle het, en gee vir dié wat behoeftig is. Dit sal vir julle ’n skat in die hemel opberg! En die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie. “Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees.”