Toe het iemand uit die skare geroep: “Leermeester, sê asseblief vir my broer om ons pa se boedel met my te deel.” Jesus het geantwoord: “Vriend, wie het My as regter oor julle aangestel om oor sulke dinge te besluit?” Toe het Hy gesê: “Pas op! Moenie gierig wees nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.” Toe vertel Hy ’n gelykenis: “’n Ryk man het ’n vrugbare plaas besit wat goeie oeste opgelewer het. Hy het toe by homself gewonder: ‘Wat moet ek doen? Ek het nie meer stoorplek vir die oes oor nie.’ Hy het toe gesê: ‘Ek weet! Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Dan sal ek genoeg plek hê om alles te berg. En ek sal terugsit en vir myself sê: Jou gelukkige kêrel! Jy het genoeg gebêre vir die jare wat voorlê. Ontspan nou! Eet, drink en wees vrolik!’ “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jy sterf. En alles wat jy bymekaargemaak het, wie sal dit kry?’ “Ja, ’n mens is ’n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ’n ryk verhouding met God het nie.” Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle oor die alledaagse lewe bekommer – of julle genoeg kos het om te eet of klere om te dra nie. Want die lewe bestaan uit veel meer as kos en die liggaam is veel meer as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai en oes nie, hulle het geen spens of skuur waarin hulle voorrade bêre nie, en tog sorg God vir hulle. En julle is baie waardevoller vir Hom as enige voëls! Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie! En as kommer nie eers sulke klein dingetjies kan regkry nie, wat is die nut van kommer oor groter dinge? “Kyk na die lelies en hoe hulle groei. Hulle werk nie en maak nie klere nie, en selfs Salomo in al sy prag was nie so mooi geklee soos hulle nie. As God só wonderlik sorg vir die blomme wat vandag hier is en môre weg is, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Julle het so min geloof! “En moenie oor kos bekommerd wees nie – oor wat om te eet en wat om te drink nie. Moenie bekommerd wees nie. Hierdie dinge domineer die gedagtes van die nasies van hierdie wêreld. Maar julle Vader ken alreeds julle behoeftes. Beywer julle allereers vir sy koningsheerskappy en Hy sal vir julle hierdie dinge nog daarby gee. “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie. Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee. “Verkoop wat julle het, en gee vir dié wat behoeftig is. Dit sal vir julle ’n skat in die hemel opberg! En die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie. “Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees.”
Lees LUKAS 12
Luister na LUKAS 12
Deel
Vergelyk alle weergawes: LUKAS 12:13-34
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's