Job 20

20
Sofar reageer die tweede keer op Job
1Sofar het Job geantwoord en gesê: 2“Ek moet jou antwoord, want ek is omgekrap oor wat jy gesê het. 3Jou kritiek op wat ek gesê het, is ’n belediging vir my. Ek dink ek weet hoe ek jou daarop moet antwoord.
4“Ek is seker jy weet dat vandat die eerste mens op die aarde gesit is, 5die slegte mense se geluk nie lank hou nie. Dit is ook so dat die blydskap van ’n mens wat God nie wil ken nie, net ’n kort rukkie hou. 6Al sou ’n goddelose mens dink dat hy beter as gewone mense is, en met sy kop in die wolke loop, 7sal daar op die ou einde tog niks van hom oorbly nie. Hy sal soos sy eie ontlasting net verdwyn. Mense wat hom ken, sal vra: “Wat het van hom geword?” 8Hy sal soos ’n droom of ’n gesig wat hy in die nag sien, net wegraak. 9Sy vriende en familie sal hom nooit weer sien nie. 10Sy kinders sal by die arm mense bedel, want hy sal sy rykdom moet teruggee. 11Hy is eintlik nog jonk en sterk, maar hy is op pad graf toe.
12“Hy hou daarvan om verkeerde dinge te doen. Dit is soos om iets lekkers onder jou tong te laat smelt. 13Hy hou dit so lank moontlik in sy mond. 14Maar die kos in sy maag word bitter. Dit is soos dodelike gif in sy maag. 15Hy sal die rykdom wat hy ingesluk het, weer uitbraak. God sal dit uit sy maag laat uitkom. 16Hy sal die gif van slange suig. ’n Adder sal hom doodpik. 17Hy is baie ryk, maar dit help hom niks nie. Hy sal nie die riviere van olie sien nie. Hy sal ook nie oorvloed van melk en heuning geniet nie. 18Hy sal nie vir sy harde werk betaal word nie. Sy rykdom sal hom ook nie bly maak nie. 19Hy het die arm mense uitgebuit en hulle in hulle ellende gelos. Hy het ander mense se huise wat hy nie gebou het nie, afgevat. 20Hy was baie gulsig, hy kon net nooit genoeg kry nie. Hy het van baie dinge gedroom, maar hy sal niks daarvan oorhou nie. 21As hy eet, bly daar gewoonlik niks oor nie. Net so sal sy voorspoed ook nie aanhou nie. Dit sal verdwyn.
22“Hy sal nog so in weelde leef en sy rykdom geniet, dan tref die ongeluk hom. Ellendes sal hom tref soos hy nie gedink het dit kan nie. 23Hy sal nog so sy maag vol eet, dan tref God se vreeslike woede hom. Sy woede sal soos reën op hom val. 24Hy sal probeer wegvlug van ’n wapen wat van yster gemaak is, maar dan tref ’n koperpyl hom. 25Die pyl sal deur sy lyf gaan en in sy ingewande vassteek. As hulle die pyl uittrek, sal ’n doodsvrees hom skielik oorval. 26Sy besittings sal in ’n groot, donker gat verdwyn. ’n Vuur wat nie deur enigiemand aangeblaas is nie, sal hom verbrand. Die vuur sal alles opvreet wat in sy blyplek oor is. 27Die hemel sal al die verkeerde goed wys wat hy gedoen het. Die aarde sal teen hom getuig. 28Alles wat in sy huis is, sal weggespoel word wanneer God se woede hom soos ’n vloed sal tref. 29Dit is wat met slegte mense gaan gebeur. Die Here het besluit dit is wat moet gebeur.”

Tans Gekies:

Job 20: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid