Job 19

19
Job praat ’n sesde keer
1Job het gereageer op wat Bildad gesê het. Hy het gesê: 2“Hoe lank sal julle my nog pynig en uitmekaarskeur met julle praatjies? 3Dit is al die soveelste keer dat julle my beledig. Julle behoort julle te skaam dat julle my so sleg behandel. 4En al het ek verkeerd gedoen, bly dit nog steeds my probleem. 5Julle dink julle is beter as ek. Julle redeneer dat die toestand waarin ek is, dit bewys. 6Maar dit is God wat my nie reg behandel nie. Dit is Hy wat my in hierdie omstandighede vasgevang hou.
7“Ek roep dat iemand my moet kom help, maar niemand hoor my nie. Ek kla en protesteer, maar niemand help my nie. Ek word nie regverdig behandel nie. 8Die Here het my pad toegestop sodat ek nie kan aangaan nie. Hy maak die pad vorentoe vir my donker. 9Mense het eers baie van my gedink en my met respek behandel. Maar die Here het dit van my af weggevat. 10Waar Hy kon, het Hy my afgetakel. Dit is klaar met my! Alle hoop wat ek gehad het, het Hy doodgemaak. 11Die Here is woedend kwaad vir my. Hy maak asof ek sy vyand is. 12Die lyding wat ek deurmaak, is soos ’n oorlog teen my. Die Here stuur die probleme soos soldate teen my. Hulle grawe hulle in teen my en omsingel my.
13“Die Here het my broers van my af weggedryf en my vriende vreemdelinge vir my gemaak. 14My familie en bekendes het my in die steek gelaat en van my vergeet. 15My huismense en my vroulike werkers maak of ek ’n vreemdeling is. Hulle maak of ek nie daar hoort nie. 16Ek roep my werker, maar hy ignoreer my. Ek smeek, maar dit help nie. 17My vrou kan my slegte asem nie uitstaan nie. My broers kan my nie verdra nie. Hulle walg hulle vir my. 18Selfs klein kindertjies dink niks van my nie. As ek probeer opstaan, spot hulle met my. 19My beste vriende kan my nie verdra nie. Selfs van die mense wat ek die meeste liefhet, het teen my gedraai. 20Ek is nou net vel en been. Ek leef amper nie eers meer nie.”
21Job het gepleit: “Julle is my vriende, wees net ’n bietjie geduldig met my. Moenie kras met my werk nie. Die Here het my hard geslaan. 22Hoekom vervolg julle my nou net soos God maak? Waarom los julle my nie liewer uit nie?
23“Ag, hoe wens ek dat alles wat ek sê in ’n boek opgeskryf kan word. 24Ek wens dat my woorde met ’n ysterbeitel in klip uitgekap en met lood opgevul kan word.”
25Job het gesê: “Ek weet dat Hy wat my kan verlos, lewe. Uiteindelik sal Hy op die aarde kom staan. 26Selfs al is my liggaam besig om agteruit te gaan, weet ek dat ek eendag die Here sal sien. 27Ek sal Hom self sien, niemand anders nie. Ek sal Hom met my eie oë sien. Die gedagte daaraan is amper te veel vir my om te hanteer. Dit oorweldig my!
28“Hoe durf julle my vervolg en sê dat die oorsaak van die probleem by my lê? 29Miskien moet julle ’n bietjie versigtig wees met julle houding; God kan julle dalk ook met die dood straf. As dit gebeur, sal julle weet daar is ’n oordeel en straf!”

Tans Gekies:

Job 19: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid