Job 21

21
Job praat ’n sewende keer
1Job het Sofar geantwoord en gesê: 2“Luister asseblief baie mooi na wat ek sê. Dit sal al vir my ’n groot troos wees as julle net dit doen. 3Wees geduldig met my en laat my klaar praat. Daarna kan julle maar aangaan en my koggel.
4“Ek het ’n klag, maar my probleem lê nie by mense nie. Ek het ’n rede hoekom ek so ongeduldig is. 5As julle na my kyk, sal julle geskok wees. Sit gerus maar julle hande op julle monde van verbasing. 6As ek net dink aan wat ek nou moet deurmaak, sidder ek. My hele lyf gaan aan die bewe.
7“Sê ’n bietjie vir my, hoekom bly slegte mense leef? Hulle word baie oud en kry net al hoe meer mag. 8In hulle leeftyd sien hulle hoe hulle kinders grootword en koers in die lewe kry. Hulle sien ook hoe hulle kleinkinders opgroei. 9Hulle leef baie veilig en rustig in hulle huise, want God straf hulle nie. 10Hulle boer ook vooruit. Hulle vee teel goed aan. Hulle verloor ook nie kalwers by geboorte nie. 11Hulle kinders speel soos lammetjies en dans rond omdat hulle bly is. 12Hulle sing op die maat van die tamboeryn en die harp. Hulle is opgewek en vermaak hulleself met fluitmusiek. 13Hulle leef hulle hele lewe lank in weelde en gaan in vrede dood. 14En dit terwyl hulle vir God sê: ‘Los ons uit, ons wil niks van U weet of met U te doen hê nie!’ 15Hulle vra: ‘Wie is hierdie God wat so danig magtig is dat ons Hom moet dien? Watse voordeel gaan ons daaruit trek as ons tot Hom bid?’ 16Hulle dink dat dit hulle eie prestasie is dat dit so goed met hulle gaan. Ek hou niks van hulle manier van dink nie.”
17Job het nog verder gesê: “Die slegte mense het al hoeveel keer rampe oorleef. Hulle is selde in die moeilikheid of kry selde wat hulle verdien as God in sy woede straf uitdeel. 18Dit gebeur ook nie baie dat hulle soos strooi deur die wind rondgewaai word nie. Hulle word ook nie soos kaf deur stormwinde weggewaai nie.
19“Julle sê dat God die kinders straf vir die dinge wat hulle ouers verkeerd gedoen het. Maar God behoort die mense te straf wat die verkeerde dinge gedoen het. Hulle moet self die straf voel, nie hulle kinders nie. 20Hulle moet hulle eie ondergang self beleef. Hulle moet die woede van die Here self voel. 21Want as hulle eers dood is, gee hulle nie om wat met hulle familie gebeur nie.
22“Daar is tog niemand wat vir God iets kan leer nie. Hy oordeel dan selfs oor mense in hoë posisies. 23Hoe regverdig is dit? Met party mense gaan dit goed totdat hulle doodgaan. Hulle leef gemaklik sonder dat enigiets hulle pla. 24Hulle lyk baie gesond en vol energie. 25Ander, weer, gaan as verbitterde mense dood. Hulle het nooit iets van die lekker van die lewe geniet nie. 26Die waarheid van die saak is dat albei hierdie soorte mense in die graf beland en deur wurms vernietig word.”
27Job het vir sy vriende gesê: “Ek weet hoe julle dink. Ek weet ook watse argumente julle teen my gaan gebruik om my skade aan te doen. 28Julle sal sê: ‘Wat het van die huise van die belangrike mense geword? Waar is die blyplekke van die slegte mense heen?’ 29Gaan vra gerus vir die mense wat al baie rondgereis het. Hulle sal vir julle die waarheid vertel. 30As daar ’n ramp kom, word die slegte mense se lewens gespaar. Dit is nou maar net so. Hulle kom ook niks oor as God kwaad is en mense straf nie. 31Niemand sê ook sommer reguit vir hulle dat hulle verkeerd gedoen het nie. Niemand betaal hulle ook terug vir wat hulle gedoen het nie. 32As hulle na hulle graf gedra word, is daar ’n erewag opgestel. 33Baie mense is deel van die begrafnisstoet. Party loop voor en ander mense loop weer agter. Selfs die grond ontvang hulle vriendelik. 34Al julle troos is net mooi niks werd nie. Al julle argumente is ’n spul leuens!”

Tans Gekies:

Job 21: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid