Johannes 6:1-37

Johannes 6:1-37 DB

Daarna het Jesus die Meer van Galilea (ook bekend as die Meer van Tiberias) oorgesteek. Die mense het Hom nie gelos nie en het om Hom saamgedrom. Hulle het die wonderlike tekens gesien wat Hy gedoen het, soos die siekes wat Hy gesond gemaak het. Hulle het agter Jesus aan teen die berg op geloop, tot waar Hy met sy volgelinge gaan sit het. Die paasfees was naby. Dit was ’n belangrike fees vir die Jode. Jesus het na die groot klomp mense gekyk wat saam met Hom gekom het. Party was nog besig om teen die berg op te stap na Hom toe. Hy vra toe vir Filippus: “Is daar ’n winkel hier naby waar ons brood kan koop vir al hierdie mense?” Hy het dit vir Filippus gevra om te kyk wat Filippus sou sê. Hy het egter al klaar geweet hoe Hy die probleem sou oplos. “Al werk ek agt maande aanmekaar, sal ek nie eens genoeg geld hê om vir al hierdie mense iets te gee om te eet nie,” sê Filippus. Andreas, die broer van Simon Petrus, wat ook ’n getroue volgeling van Jesus was, sê toe vir Hom: “Wel, hier is darem ’n kind met so ’n ietsie. Hy het vyf klein garsbroodjies en twee vissies. Maar ek moet sê, ek weet nie hoe dit ons eintlik gaan help nie.” Jesus sê toe: “Sê vir die mense om vir hulle ’n plek te kry om te sit.” Daar was gras waar die mense hulle toe lekker tuis gemaak het. Net die mans alleen was omtrent 5 000. Daar was baie mense. Jesus het toe die garsbroodjies by die seuntjie gevat en vir God dankie gesê vir die kos. Hy het die broodjies toe onder die mense begin uitdeel. Hy het dieselfde met die vis gedoen. En die mense het geëet, soveel as wat hulle wou. Toe die mense genoeg gehad het om te eet, sê Jesus vir sy volgelinge: “Ek sien daar het heelwat kos oorgebly. Gaan maak dit bymekaar sodat niks gemors word nie.” Die dissipels het dit gedoen en twaalf mandjies nodig gehad om die brood wat oorgebly het in te sit. Dit alles het met die vyf broodjies van die seuntjie begin. Die mense het dit gesit en bekyk. Hulle het besef dat hulle hier ’n teken gesien het van hoe spesiaal Jesus regtig is. Hulle sê toe vir mekaar: “Hy is definitief daardie Boodskapper van God, julle weet mos, daardie spesiale Een wat na die wêreld toe moes kom.” Die mense wou Jesus toe met alle geweld koning maak. Jesus het dit egter besef en toe verder teen die berg uitgeklim, net Hy alleen. Teen die aand het sy dissipels weer teruggestap see toe. Dit was al donker en steeds was daar geen teken van Jesus nie. Hulle het toe maar in ’n skuit geklim en na Kapernaum toe begin vaar. Kapernaum was aan die oorkant van die meer. Daar kom toe ’n sterk wind op. Die water het baie onstuimig geword. Die dissipels het bly roei. Na so vyf of ses kilometer sien hulle skielik vir Jesus. Hy het sommer daar naby die skuit op die water geloop. Hulle het hulle wit geskrik. Jesus kalmeer hulle toe: “Toemaar, dit is net Ek. Moenie bang wees nie.” Hulle help Hom toe in die skuit in. Dit was nie ver van die plek af waar hulle wou vasmeer nie. Toe dit die volgende dag lig word, het die mense besef dat daar net een skuitjie weggevaar het en Jesus was beslis nie daarin nie. Sy dissipels is alleen, sonder Hom, daar weg. Intussen het daar ook ander skuitjies uit Tiberias daar aangekom. Toe die mense begin besef dat Jesus net so min soos sy dissipels nog in daardie omgewing was, stroom hulle na die skuitjies toe. Hulle sit toe af in die rigting van Kapernaum, op soek na Jesus. Daar kry hulle Hom toe ook. Hulle vra Hom toe: “Meneer, wanneer het u hier aangekom?” Jesus sê toe: “Hoekom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in my dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het. Ai, alles net vir ’n ete! Moenie al julle energie verspil om gewone kos in die hande te probeer kry nie. Gewone kos eet julle vandag en môre is julle weer van voor af honger. Doen liewer moeite vir daardie kos wat julle vir altyd aan die lewe sal hou. As julle dit eet, sal julle nooit weer honger word nie. Die Seun van die mens sal daardie kos vir julle kan gee. God die Vader self staan mos agter alles wat sy Seun doen.” Hulle vra Hom toe: “Help ons: Wat moet ons doen om God tevrede te stel?” Jesus sê toe vir hulle: “Wil julle weet wat God wil hê julle moet doen? Hy wil hê dat julle sy Seun wat Hy na julle toe gestuur het, met oop arms sal aanvaar en julle aan sy kant sal skaar.” “Nou toe, wys ons wat u kan doen,” sê hulle. “Die Seun van God moet mos wonderlike dinge kan doen. Laat ons sien wat u kan doen om ons te oortuig dat God aan u kant is. Wys ons wie u is. Dan eers sal ons glo wat u sê. Neem byvoorbeeld die wonderlike ding wat met ons voorouers gebeur het. In die woestyn het Moses vir hulle manna gegee om te eet. Daar staan geskryf: ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’” Jesus antwoord hulle: “Daardie woorde sê nie dat dit Moses was wat die brood uit die hemel gegee het nie. Dit is eintlik my Vader wat die brood uit die hemel vir julle gee. En dit is nie sommer gewone brood nie; dit is die ware brood. En weet julle wat is die ware brood? Dit is sy Seun wat uit die hemel kom en die ewige lewe vir mense gee.” Gretig sê hulle: “Gee ons asseblief van daardie brood, sommer nou en vir altyd!” Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie. Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak.