JOHANNES 6:1-37
JOHANNES 6:1-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea, oftewel Tiberias, vertrek. 'n Groot skare het agter Hom aangekom, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy vir die siekes verrig het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en daar met sy dissipels gaan sit. Dit was kort voor die Joodse fees van die Pasga. Toe Jesus opkyk en sien dat daar 'n groot skare na Hom op pad is, sê Hy vir Filippus: “Waar sal ons brood te koop kry om hierdie mense te laat eet?” Hy het dit egter net gesê om hom te toets – self het Hy immers reeds geweet wat Hy wou doen. Filippus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarius se brood is nie genoeg om vir elkeen 'n stukkie te laat kry nie.” Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon •Petrus, sê vir Hom: “Hier is 'n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense?” Jesus het gesê: “Laat die mense sit.” Daar was baie gras op die plek. Toe het die mans gaan sit – hulle was ongeveer vyfduisend in getal. Toe het Jesus die brode geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit laat uitdeel aan dié wat daar gesit het, en ook van die visse laat uitdeel, soveel as hulle wou hê. En toe almal versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die brokstukke bymekaar wat oorgebly het, sodat niks vermors word nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak, en twaalf mandjies volgemaak met die brokstukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat hulle klaar geëet het. Toe die mense die teken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is waarlik die Profeet wat na die wêreld sou kom. ” Toe Jesus besef dat hulle op die punt staan om Hom met geweld te kom gryp met die doel om Hom koning te maak, het Hy weer teen die berg opgegaan, net Hy alleen. Toe dit aand geword het, het sy dissipels na die see afgegaan; en nadat hulle in die boot geklim het, het hulle na Kapernaum aan die oorkant van die see gevaar. Dit was reeds donker, maar Jesus het nog steeds nie by hulle uitgekom nie. En die see het onstuimig geword, omdat 'n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf-en-twintig tot dertig stadion ver geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en tot naby die boot kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Toe wou hulle Hom in die boot saamneem, maar skielik was die boot aan land by die plek waarheen hulle besig was om te vaar. Die volgende dag het die skare wat oorkant die see bly staan het, agtergekom dat daar, behalwe dié een, geen ander skuit was nie, en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Daar het egter vanaf Tiberias bote aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het nadat die Here die seëngebed uitgespreek het. Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie, en ook nie sy dissipels nie, het hulle self in die skuite geklim en na Kapernaum gevaar op soek na Jesus. Toe hulle Hom aan die oorkant van die see aantref, het hulle vir Hom gevra: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle soek My, nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die •Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” Hulle het Hom gevra: “Wat moet ons doen sodat ons die werke kan verrig wat God wil hê?” En Jesus het hulle geantwoord: “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.” Hulle sê toe vir Hom: “Watter teken sal u doen sodat ons kan sien en u glo? Wat gaan u doen? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos daar geskryf staan, ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’ ” Jesus sê toe vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie – nee, my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee.” Hulle sê toe vir Hom: “Here, gee ons altyd hierdie brood. ” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie. Maar Ek het vir julle gesê, ‘Julle het My gesien, en tog glo julle nie.’ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie
JOHANNES 6:1-37 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het na die ander kant van die See van Galilea gegaan. Die mense het dit ook die See van Tiberias genoem. Baie mense het saam met Jesus gegaan, want hulle het die wondertekens gesien toe Hy siek mense gesond gemaak het. Jesus het teen die berg opgegaan en Hy en sy dissipels het daar gaan sit. Die Joodse Paasfees was naby. Jesus het gesien baie mense kom na Hom toe. Toe sê Hy vir Filippus: “Waar gaan ons brood koop vir al hierdie mense om te eet?” Jesus het dit gesê omdat Hy wou kyk wat Filippus gaan doen. Jesus het klaar geweet wat Hy gaan doen. Filippus het vir Jesus gesê: “As ons 200 silwer geldstukke het, sal dit te min wees om vir elkeen van hierdie mense 'n stukkie brood te koop.” Simon Petrus se broer, Andreas, was een van Jesus se dissipels. Hy het vir Jesus gesê: “Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee visse het, maar dit is te min vir so baie mense.” Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle moet vir die mense sê hulle moet gaan sit.” Daar was genoeg gras waarop die mense kon sit. Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000. Toe het Jesus die brood geneem. Hy het gebid en vir God dankie gesê vir die brood. Jesus het die brood gegee vir die mense wat daar sit. Hy het ook vir hulle van die vis gegee. Daar was baie kos, die mense kon genoeg eet. Toe die mense genoeg geëet het, sê Jesus vir sy dissipels: “Julle moet al die stukkies kos optel wat oorgebly het. Ons moet dit nie mors nie.” Die dissipels het die stukkies bymekaargemaak. Daar het twaalf mandjies vol oorgebly nadat die mense van die vyf garsbrode geëet het. Die mense het gesien dat Jesus 'n wonderteken gedoen het. Hulle sê toe: “Nou weet ons Hy is die Profeet wat na die wêreld toe kom.” Die mense wou Jesus gryp en Hom koning maak. Maar toe Jesus dit sien, het Hy weer weggegaan na die berg. Hy het alleen gegaan. Dit het aand geword, en Jesus se dissipels het na die see gegaan. Hulle het in 'n boot geklim en hulle het probeer om oor die see na die stad Kapernaum te gaan. Later was dit donker en Jesus het nog nie na hulle toe gekom nie. Die branders op die see was wild, want daar het 'n sterk wind gewaai. Toe die dissipels omtrent 25 of 30 stadioi geroei het, sien hulle vir Jesus. Hy het op die see geloop en Hy het naby die boot gekom. Die dissipels het bang geword, maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is Ek! Julle moenie bang wees nie.” Toe wou die dissipels hê Jesus moet in die boot klim. Dadelik daarna het hulle met die boot by die plek aangekom waarnatoe hulle wou gaan. Die volgende dag het die mense wat nog anderkant die see was, gesien daar is net een bootjie. Hulle het geweet Jesus het nie saam met sy dissipels in die boot geklim nie, die dissipels het alleen weggegaan. Daar het ook ander bootjies van die stad Tiberias aangekom naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here Jesus gebid en vir God dankie gesê het. Die mense het gesien Jesus en sy dissipels is nie daar nie. Hulle het toe in die bootjies geklim en hulle het na die stad Kapernaum gegaan om vir Jesus te soek. Toe die mense vir Jesus daar in Kapernaum kry, vra hulle vir Hom: “ Rabbi, wanneer het U hiernatoe gekom?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle soek My, maar nie omdat julle die wondertekens gesien het wat Ek doen nie. Julle soek My omdat julle so lekker brood geëet het. Julle moenie net werk om kos te kry nie, kos wat sleg word. Julle moet alles doen om die kos te kry wat goed bly tot in die ewige lewe. Ek, die Seun van die mens, sal vir julle daardie soort kos gee. Ek kan dit doen, want God die Vader het gesê Ek mag dit doen.” Toe vra die mense vir Jesus: “Wat moet ons doen as ons wil doen wat God wil hê?” Jesus het vir hulle gesê: “As julle wil doen wat God wil hê, dan moet julle in My glo, want God het My na die wêreld gestuur.” Toe sê die mense vir Jesus: “Watter wonderteken sal jy doen sodat ons dit kan sien en in jou kan glo? Wat sal jy doen? Ons voorvaders het manna in die woestyn geëet. In die Ou Testament is geskryf: “ Hy het vir hulle brood gegee om te eet, die brood wat uit die hemel kom.” Jesus het vir die mense gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle dink dit is Moses wat vir julle die brood gegee het wat uit die hemel gekom het. Nee, dit is my Vader wat nou vir julle die regte brood gee wat uit die hemel kom. Die brood wat God gee, is Iemand wat uit die hemel kom om vir die mense van die wêreld die ware lewe te gee.” Die mense het vir Jesus gevra: “Meneer, jy moet altyd vir ons van hierdie brood gee.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood wat die lewe gee. Almal wat na My toe kom, sal nooit geestelik honger word nie. Almal wat in My glo, sal nooit geestelik dors word nie. Maar Ek het klaar vir julle gesê dat julle sien wat Ek doen, maar julle glo nie in My nie. Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom. Ek sal iemand wat na My toe kom, nooit wegjaag nie.
JOHANNES 6:1-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het Jesus na die oorkant van die see van Galiléa, dit is, van Tibérias, gegaan; en 'n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen. En Jesus het op die berg geklim en daar met sy dissipels gaan sit. En die pasga, die fees van die Jode, was naby. Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat 'n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet? Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen. Filippus antwoord Hom: Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle 'n stukkie kan kry nie. Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom: Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense? En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyfduisend in getal. En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê. En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie. Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het. Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom. En toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen. EN toe dit aand geword het, het sy dissipels afgegaan na die see toe. En nadat hulle in die skuit geklim het, het hulle oor die see gevaar na Kapérnaüm; en dit was al donker, en Jesus het nog nie by hulle gekom nie. En die see was onstuimig, omdat 'n sterk wind gewaai het. En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom; en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie. Toe was hulle gewillig om Hom in die skuit te neem, en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het. DIE volgende dag sien die skare wat oorkant die see gestaan het, dat daar geen ander skuit was nie, behalwe daardie een waarin sy dissipels gegaan het; en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Maar ander skuite het van Tibérias aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het, nadat die Here gedank het. Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar was nie en sy dissipels ook nie, het hulle self ook in die skuite geklim en na Kapérnaüm gegaan om Jesus te soek. En toe hulle Hom oorkant die see gevind het, sê hulle vir Hom: Rabbi, wanneer het U hier gekom? Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël. Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. En hulle sê vir Hom: Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie. Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.
JOHANNES 6:1-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit. Die paasfees van die Jode was naby. Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.” 'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen. Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, in 'n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar 'n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.” Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was. Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?” Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.” Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet. ” Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.” Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.” Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.
JOHANNES 6:1-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea, oftewel Tiberias, vertrek. 'n Groot skare het agter Hom aangekom, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy vir die siekes verrig het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en daar met sy dissipels gaan sit. Dit was kort voor die Joodse fees van die Pasga. Toe Jesus opkyk en sien dat daar 'n groot skare na Hom op pad is, sê Hy vir Filippus: “Waar sal ons brood te koop kry om hierdie mense te laat eet?” Hy het dit egter net gesê om hom te toets – self het Hy immers reeds geweet wat Hy wou doen. Filippus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarius se brood is nie genoeg om vir elkeen 'n stukkie te laat kry nie.” Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon •Petrus, sê vir Hom: “Hier is 'n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense?” Jesus het gesê: “Laat die mense sit.” Daar was baie gras op die plek. Toe het die mans gaan sit – hulle was ongeveer vyfduisend in getal. Toe het Jesus die brode geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit laat uitdeel aan dié wat daar gesit het, en ook van die visse laat uitdeel, soveel as hulle wou hê. En toe almal versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die brokstukke bymekaar wat oorgebly het, sodat niks vermors word nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak, en twaalf mandjies volgemaak met die brokstukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat hulle klaar geëet het. Toe die mense die teken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is waarlik die Profeet wat na die wêreld sou kom. ” Toe Jesus besef dat hulle op die punt staan om Hom met geweld te kom gryp met die doel om Hom koning te maak, het Hy weer teen die berg opgegaan, net Hy alleen. Toe dit aand geword het, het sy dissipels na die see afgegaan; en nadat hulle in die boot geklim het, het hulle na Kapernaum aan die oorkant van die see gevaar. Dit was reeds donker, maar Jesus het nog steeds nie by hulle uitgekom nie. En die see het onstuimig geword, omdat 'n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf-en-twintig tot dertig stadion ver geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en tot naby die boot kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Toe wou hulle Hom in die boot saamneem, maar skielik was die boot aan land by die plek waarheen hulle besig was om te vaar. Die volgende dag het die skare wat oorkant die see bly staan het, agtergekom dat daar, behalwe dié een, geen ander skuit was nie, en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Daar het egter vanaf Tiberias bote aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het nadat die Here die seëngebed uitgespreek het. Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie, en ook nie sy dissipels nie, het hulle self in die skuite geklim en na Kapernaum gevaar op soek na Jesus. Toe hulle Hom aan die oorkant van die see aantref, het hulle vir Hom gevra: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle soek My, nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die •Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” Hulle het Hom gevra: “Wat moet ons doen sodat ons die werke kan verrig wat God wil hê?” En Jesus het hulle geantwoord: “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.” Hulle sê toe vir Hom: “Watter teken sal u doen sodat ons kan sien en u glo? Wat gaan u doen? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos daar geskryf staan, ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’ ” Jesus sê toe vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie – nee, my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee.” Hulle sê toe vir Hom: “Here, gee ons altyd hierdie brood. ” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie. Maar Ek het vir julle gesê, ‘Julle het My gesien, en tog glo julle nie.’ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie
JOHANNES 6:1-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ná hierdie dinge het Jesus oor die see van Galilea gegaan, dit is die see van Tiberias. En 'n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle Sy wonders gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. En Jesus het op die berg geklim en daar saam met sy dissipels gaan sit. En die pasga, 'n fees van die Jode, was naby. Toe Jesus toe sy oë opslaan en 'n groot menigte na Hom sien kom, sê Hy vir Filippus: Waar sal ons brood vandaan koop, dat hulle kan eet? En dit het hy gesê om hom te beproef, want hy het self geweet wat hy sou doen. Filippus antwoord hom: Brood van twee honderd pennies is vir hulle nie genoeg nie, sodat elkeen van hulle 'n bietjie kan neem. Een van sy dissipels, Andreas, Simon Petrus se broer, sê vir hom: Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het; maar wat is hulle onder so baie? En Jesus sê: Laat die manne gaan sit. Nou was daar baie gras in die plek. En die manne het gaan sit, omtrent vyfduisend in getal. En Jesus het die brode geneem; en nadat Hy gedank het, het Hy aan die dissipels uitgedeel en die dissipels aan die wat neergesit het; en so ook van die visse soveel as wat hulle wou. Toe hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorbly, sodat niks verlore gaan nie. Daarom het hulle dit bymekaargemaak en twaalf mandjies gevul met die brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgebly het vir die wat geëet het. Toe daardie manne toe die wonderwerk sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Dit is waarlik daardie profeet wat na die wêreld sou kom. Toe Jesus dan bemerk dat hulle hom met geweld sou kom neem om Hom koning te maak, het Hy weer alleen op die berg gegaan. En toe dit aand geword het, het sy dissipels afgegaan na die see, En hy het in 'n skip geklim en oor die see gegaan na Kapernaum. En dit was nou donker, en Jesus het nie na hulle toe gekom nie. En die see het opgekom vanweë 'n groot wind wat gewaai het. En toe hulle omtrent vyf-en-twintig of dertig myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skip kom, en hulle was bang. Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek; wees nie bang nie. Toe het hulle hom gewillig in die skip ontvang, en dadelik was die skip by die land waarheen hulle gegaan het. Die volgende dag, toe die mense wat aan die oorkant van die see gestaan het, sien dat daar geen ander skuit daar was nie, behalwe die een waarin sy dissipels ingegaan het, en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit gegaan het nie, maar dat sy dissipels was alleen weg; (Maar daar het ander bote van Tiberias af naby die plek gekom waar hulle brood geëet het, nadat die Here gedank het.) Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar was nie, en sy dissipels ook nie, het hulle ook die vaart geneem en na Kapernaum gekom om Jesus te soek. En toe hulle Hom aan die oorkant van die see kry, sê hulle vir Hom: Rabbi, wanneer het U hierheen gekom? Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My, nie omdat julle die wonders gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Arbei nie vir die spys wat vergaan nie, maar vir die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens aan julle sal gee, want hom het God die Vader verseël. Hulle sê toe vir hom: Wat moet ons doen om die werke van God te doen? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. Hulle sê toe vir hom: Watter teken maak jy dan, dat ons kan sien en jou kan glo? wat werk jy? Ons vaders het manna in die woestyn geëet; soos geskrywe is: Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee om te eet. Toe sê Jesus vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Moses het vir julle nie daardie brood uit die hemel gegee nie; maar my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee vir ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My ook gesien het en nie glo nie. Alles wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en hom wat na My toe kom, sal Ek nooit uitwerp nie.
JOHANNES 6:1-37 Die Boodskap (DB)
Daarna het Jesus die Meer van Galilea (ook bekend as die Meer van Tiberias) oorgesteek. Die mense het Hom nie gelos nie en het om Hom saamgedrom. Hulle het die wonderlike tekens gesien wat Hy gedoen het, soos die siekes wat Hy gesond gemaak het. Hulle het agter Jesus aan teen die berg op geloop, tot waar Hy met sy volgelinge gaan sit het. Die paasfees was naby. Dit was ’n belangrike fees vir die Jode. Jesus het na die groot klomp mense gekyk wat saam met Hom gekom het. Party was nog besig om teen die berg op te stap na Hom toe. Hy vra toe vir Filippus: “Is daar ’n winkel hier naby waar ons brood kan koop vir al hierdie mense?” Hy het dit vir Filippus gevra om te kyk wat Filippus sou sê. Hy het egter al klaar geweet hoe Hy die probleem sou oplos. “Al werk ek agt maande aanmekaar, sal ek nie eens genoeg geld hê om vir al hierdie mense iets te gee om te eet nie,” sê Filippus. Andreas, die broer van Simon Petrus, wat ook ’n getroue volgeling van Jesus was, sê toe vir Hom: “Wel, hier is darem ’n kind met so ’n ietsie. Hy het vyf klein garsbroodjies en twee vissies. Maar ek moet sê, ek weet nie hoe dit ons eintlik gaan help nie.” Jesus sê toe: “Sê vir die mense om vir hulle ’n plek te kry om te sit.” Daar was gras waar die mense hulle toe lekker tuis gemaak het. Net die mans alleen was omtrent 5 000. Daar was baie mense. Jesus het toe die garsbroodjies by die seuntjie gevat en vir God dankie gesê vir die kos. Hy het die broodjies toe onder die mense begin uitdeel. Hy het dieselfde met die vis gedoen. En die mense het geëet, soveel as wat hulle wou. Toe die mense genoeg gehad het om te eet, sê Jesus vir sy volgelinge: “Ek sien daar het heelwat kos oorgebly. Gaan maak dit bymekaar sodat niks gemors word nie.” Die dissipels het dit gedoen en twaalf mandjies nodig gehad om die brood wat oorgebly het in te sit. Dit alles het met die vyf broodjies van die seuntjie begin. Die mense het dit gesit en bekyk. Hulle het besef dat hulle hier ’n teken gesien het van hoe spesiaal Jesus regtig is. Hulle sê toe vir mekaar: “Hy is definitief daardie Boodskapper van God, julle weet mos, daardie spesiale Een wat na die wêreld toe moes kom.” Die mense wou Jesus toe met alle geweld koning maak. Jesus het dit egter besef en toe verder teen die berg uitgeklim, net Hy alleen. Teen die aand het sy dissipels weer teruggestap see toe. Dit was al donker en steeds was daar geen teken van Jesus nie. Hulle het toe maar in ’n skuit geklim en na Kapernaum toe begin vaar. Kapernaum was aan die oorkant van die meer. Daar kom toe ’n sterk wind op. Die water het baie onstuimig geword. Die dissipels het bly roei. Na so vyf of ses kilometer sien hulle skielik vir Jesus. Hy het sommer daar naby die skuit op die water geloop. Hulle het hulle wit geskrik. Jesus kalmeer hulle toe: “Toemaar, dit is net Ek. Moenie bang wees nie.” Hulle help Hom toe in die skuit in. Dit was nie ver van die plek af waar hulle wou vasmeer nie. Toe dit die volgende dag lig word, het die mense besef dat daar net een skuitjie weggevaar het en Jesus was beslis nie daarin nie. Sy dissipels is alleen, sonder Hom, daar weg. Intussen het daar ook ander skuitjies uit Tiberias daar aangekom. Toe die mense begin besef dat Jesus net so min soos sy dissipels nog in daardie omgewing was, stroom hulle na die skuitjies toe. Hulle sit toe af in die rigting van Kapernaum, op soek na Jesus. Daar kry hulle Hom toe ook. Hulle vra Hom toe: “Meneer, wanneer het u hier aangekom?” Jesus sê toe: “Hoekom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in my dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het. Ai, alles net vir ’n ete! Moenie al julle energie verspil om gewone kos in die hande te probeer kry nie. Gewone kos eet julle vandag en môre is julle weer van voor af honger. Doen liewer moeite vir daardie kos wat julle vir altyd aan die lewe sal hou. As julle dit eet, sal julle nooit weer honger word nie. Die Seun van die mens sal daardie kos vir julle kan gee. God die Vader self staan mos agter alles wat sy Seun doen.” Hulle vra Hom toe: “Help ons: Wat moet ons doen om God tevrede te stel?” Jesus sê toe vir hulle: “Wil julle weet wat God wil hê julle moet doen? Hy wil hê dat julle sy Seun wat Hy na julle toe gestuur het, met oop arms sal aanvaar en julle aan sy kant sal skaar.” “Nou toe, wys ons wat u kan doen,” sê hulle. “Die Seun van God moet mos wonderlike dinge kan doen. Laat ons sien wat u kan doen om ons te oortuig dat God aan u kant is. Wys ons wie u is. Dan eers sal ons glo wat u sê. Neem byvoorbeeld die wonderlike ding wat met ons voorouers gebeur het. In die woestyn het Moses vir hulle manna gegee om te eet. Daar staan geskryf: ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’” Jesus antwoord hulle: “Daardie woorde sê nie dat dit Moses was wat die brood uit die hemel gegee het nie. Dit is eintlik my Vader wat die brood uit die hemel vir julle gee. En dit is nie sommer gewone brood nie; dit is die ware brood. En weet julle wat is die ware brood? Dit is sy Seun wat uit die hemel kom en die ewige lewe vir mense gee.” Gretig sê hulle: “Gee ons asseblief van daardie brood, sommer nou en vir altyd!” Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie. Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak.
JOHANNES 6:1-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierna het Jesus na die oorkant van die Meer van Galilea vertrek, wat ook die Meer van Tiberias genoem word. ’n Baie groot skare mense het Hom bly volg omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy gedoen het toe Hy die siekes genees het. Jesus het toe die berg uitgeklim en met sy dissipels op ’n plek daar gaan sit. Die Pasga was naby, dit is ’n fees van die Jode. Toe Jesus opkyk, sien Hy dat ’n baie groot skare mense na Hom toe aangestap kom. Hy sê daarop vir Filippus: “Waar moet ons brood gaan koop sodat die mense iets te ete kry?” Jesus het dit net gesê om hom te toets, want Hy het self geweet wat Hy sou doen. Filippus het Hom geantwoord: “Dit sal ’n klein fortuin kos om aan elkeen van hulle net ’n stukkie kos te gee.” Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Jesus: “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir só baie mense?” Jesus het daarop reageer: “Reël dat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op die plek en die mense het gaan sit. Die mans was ongeveer 5 000. Jesus het toe die brode geneem, ’n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê. Nadat die skare mense versadig was, sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die oorskietstukke bymekaar sodat daar niks vermors word nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak en twaalf mandjies vol gemaak met oorskietstukke van die vyf garsbrode wat oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hierdie man is regtig die profeet, die Een wat na die wêreld toe sou kom.” Jesus het egter agtergekom dat hulle op die punt staan om Hom te gryp om Hom koning te maak. Hy het toe weer die berg uitgeklim, net Hy alleen. Toe dit skemeraand geword het, het Jesus se dissipels na die meer toe gegaan, in ’n boot geklim en na die oorkant van die meer, na Kapernaum toe, begin vaar. Dit was al goed donker, maar Jesus het nog nie by hulle aangesluit nie. En die meer self het onstuimig gedein as gevolg van ’n sterk wind wat gewaai het. Toe hulle ongeveer vyf of ses kilometer weg geroei het, sien hulle Jesus op die water loop tot baie naby aan die boot, en hulle het vreesbevange geword. Jesus sê egter vir hulle: “Dit is Ek, hou op bang wees.” Hulle was gretig om Hom in die skuit te neem en die boot het onmiddellik by die oewer aangekom waarheen hulle gevaar het. Die volgende dag het die skare wat oorkant die meer gestaan het, gesien dat daar net een bootjie is. Hulle het geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot geklim het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Daar het toe ook ander bootjies van Tiberias af aangekom, naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat daarvoor gedank is. Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle self in bootjies geklim en na Kapernaum toe oorgevaar op soek na Jesus. Toe hulle Hom oorkant die meer aantref, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en tot geloof in u kan kom? Wat besonders doen u vir ons? Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’” Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee. “Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.” Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie.