Hierna het Jesus na die oorkant van die Meer van Galilea vertrek, wat ook die Meer van Tiberias genoem word. ’n Baie groot skare mense het Hom bly volg omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy gedoen het toe Hy die siekes genees het. Jesus het toe die berg uitgeklim en met sy dissipels op ’n plek daar gaan sit. Die Pasga was naby, dit is ’n fees van die Jode.
Toe Jesus opkyk, sien Hy dat ’n baie groot skare mense na Hom toe aangestap kom. Hy sê daarop vir Filippus: “Waar moet ons brood gaan koop sodat die mense iets te ete kry?” Jesus het dit net gesê om hom te toets, want Hy het self geweet wat Hy sou doen.
Filippus het Hom geantwoord: “Dit sal ’n klein fortuin kos om aan elkeen van hulle net ’n stukkie kos te gee.”
Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Jesus: “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir só baie mense?”
Jesus het daarop reageer: “Reël dat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op die plek en die mense het gaan sit. Die mans was ongeveer 5 000. Jesus het toe die brode geneem, ’n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê.
Nadat die skare mense versadig was, sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die oorskietstukke bymekaar sodat daar niks vermors word nie.” Hulle het dit toe bymekaargemaak en twaalf mandjies vol gemaak met oorskietstukke van die vyf garsbrode wat oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.
Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hierdie man is regtig die profeet, die Een wat na die wêreld toe sou kom.” Jesus het egter agtergekom dat hulle op die punt staan om Hom te gryp om Hom koning te maak. Hy het toe weer die berg uitgeklim, net Hy alleen.
Toe dit skemeraand geword het, het Jesus se dissipels na die meer toe gegaan, in ’n boot geklim en na die oorkant van die meer, na Kapernaum toe, begin vaar. Dit was al goed donker, maar Jesus het nog nie by hulle aangesluit nie. En die meer self het onstuimig gedein as gevolg van ’n sterk wind wat gewaai het. Toe hulle ongeveer vyf of ses kilometer weg geroei het, sien hulle Jesus op die water loop tot baie naby aan die boot, en hulle het vreesbevange geword. Jesus sê egter vir hulle: “Dit is Ek, hou op bang wees.” Hulle was gretig om Hom in die skuit te neem en die boot het onmiddellik by die oewer aangekom waarheen hulle gevaar het.
Die volgende dag het die skare wat oorkant die meer gestaan het, gesien dat daar net een bootjie is. Hulle het geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot geklim het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Daar het toe ook ander bootjies van Tiberias af aangekom, naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat daarvoor gedank is. Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle self in bootjies geklim en na Kapernaum toe oorgevaar op soek na Jesus. Toe hulle Hom oorkant die meer aantref, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?”
Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.”
Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?”
Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.”
Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en tot geloof in u kan kom? Wat besonders doen u vir ons? Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’”
Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee.
“Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.”
Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.”
Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie.