Johannes 4:27-54

Johannes 4:27-54 DB

Net toe kom sy dissipels daar aan. Hulle was nogal verbaas toe hulle Jesus met die vrou sien gesels, maar het nie ’n woord gesê nie. Nie een het eens vir haar gevra: “Wat soek jy?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou is toe terug dorp toe, sonder haar waterkruik. “Kom gou!” het sy die mense geroep. “Ek het ’n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het. Kom kyk, is Hy nie dalk die Christus nie?” Die mense het nie op hulle laat wag nie, maar is inderhaas uit die dorp uit na Hom toe. By die put het die dissipels intussen vir Hom gesê: “Rabbi, U moet iets eet.” Sy antwoord was: “Ek het my eie kos waarvan julle nie eens weet nie.” Die dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk intussen vir Hom iets gebring om te eet?” Jesus help hulle toe reg: “Weet julle wat is vir My soos kos? Dít: om presies te doen wat God wat My gestuur het, wil hê Ek moet doen. Alles wat Hy wil hê Ek moet doen, wil Ek klaarmaak. Wanneer Ek dit doen, voel Ek ‘versadig’, net soos iemand wat lekker geëet het. “Julle sê mos partykeer: ‘Oor vier maande kan ons begin oes.’ Ek het vir julle nuus. Maak julle geestelike oë oop en kyk om julle. Kyk mooi na die ‘lande’. ‘Oestyd’ is hier. Kyk net hoe ryp staan die ‘oes’. Die oes word nou reeds volstoom ingesamel. Mense wat ‘oes’, kry al hulle ‘lone’. Dit gaan natuurlik nie om ’n gewone oes nie, maar om die ‘oes van mense’. Omdat hulle deel van die ‘oes’ is, sal hulle vir altyd saam met God leef. Julle ken mos die gesegde: ‘Die een saai en die ander een maai.’ Dit is ook hier waar. Julle weet wat julle in die wêreld vir My moet doen: julle moet gaan om hierdie ‘oes’ in te samel, al het julle nie self daaraan gewerk nie. Ander mense het hard daaraan gewerk. Julle moet egter die goeie resultate van wat hulle gedoen het, gaan insamel.” Baie Samaritane uit daardie dorp het in Jesus geglo. Die vrou het mos aan hulle vertel dat Jesus alles van haar geweet het. Dit het hulle oortuig. Die Samaritane is toe na Jesus toe. Hulle het by Hom aangehou om by hulle te kom oorbly. Jesus het toe twee dae daar by hulle gebly. In die twee dae het Jesus verder met hulle gesels. Die gevolg was dat baie meer van hulle sy vriende geword het. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nou nie meer net omdat jy ons van Hom kom vertel het nie. Ons het die kans gehad om self na Hom te luister. “Ons twyfel nie meer nie: hierdie man is waarlik die Redder wat sou kom. Hy bring nie net vir ons of die Jode redding nie, maar vir al die mense in die wêreld.” Twee dae later is Jesus Galilea toe. Jesus het goed geweet en het ook vir die mense gesê dat ’n profeet nie gerespekteer word deur die mense onder wie hy grootgeword het nie. Toe Hy egter in Galilea aankom, is Hy met oop arms ontvang. Dit was ook maar net omdat die mense daar al die dinge gesien het wat Jesus by die feestelikhede in Jerusalem gedoen het. Hulle self was ook Jerusalem toe vir die paasfees. Jesus is toe Kana toe. Dit is dieselfde dorpie waar Hy die water in wyn laat verander het. Daar was ’n hoë staatsamptenaar wat in Kapernaum vir die koning gewerk het. Sy seun het intussen baie siek geword. Die nuus het by hom uitgekom dat Jesus terug is uit Judea. Hy is dadelik na Jesus toe en het Hom gevra om asseblief saam met hom huis toe te kom. Sy seun was besig om dood te gaan en hy wou hê Jesus moet hom gesond maak. Jesus sê toe: “As dit nie vir al die wonderlike dinge was wat Ek gedoen het nie, sou julle ook maar nie geglo het nie.” Die man hou toe egter vol: “Here, kom tog asseblief gou voordat my kind doodgaan.” Jesus sê toe: “Gaan maar huis toe. Jou seun lewe.” Die man het Jesus vertrou en is terug huis toe. Hy was nog op pad toe sy werkers al met die goeie nuus aankom: “U seun leef!” Hy vra hulle toe uit oor presies wanneer sy seun beter begin word het. “Omtrent so eenuur gistermiddag het sy koors begin breek,” sê hulle. Toe hy mooi terugdink, besef die pa dat dit juis die tyd was toe hy en Jesus gesels het. Jesus het toe mos al vir hom gesê dat sy seun lewe. Hy, saam met almal wat in sy huis bly, het toe in Jesus geglo. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus in Galilea gedoen het nadat Hy teruggekom het uit Judea.