Juis op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom, en hulle was verbaas, omdat Hy besig was om met 'n vrou te praat. Tog het niemand gevra: “Wat wil U van haar hê?” of “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik daar gelos, na die dorp gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe? ” Hulle het uit die dorp gegaan en was op pad na Hom toe. Intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: “Rabbi, eet iets.” Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels vra toe onder mekaar: “Iemand het tog nie vir Hom iets te ete gebring nie?” En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle dan nie, ‘Dit is nog vier maande, dan kom die oes’ nie? Waarlik, Ek sê vir julle, kyk op en aanskou die lande; hulle staan reeds wit vir die oes. Hy wat oes, ontvang sy loon en samel die oes in vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees. Want in hierdie opsig is die gesegde waar, ‘Die een saai, en die ander maai.’ Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waarvoor julle nie geswoeg het nie. Ander het geswoeg en julle het voordeel getrek uit hulle harde arbeid.”
Baie van die Samaritane uit daardie dorp het in Hom geglo op grond van die woord van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly, en Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer van hulle het op grond van sy woorde tot geloof gekom en vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het Hom self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. ”
Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea vertrek. Hy het immers self getuig dat 'n profeet nie in sy eie vaderland eer ontvang nie. Toe Hy in Galilea aankom, het die Galileërs Hom ontvang, omdat hulle alles gesien het wat Hy gedurende die feesviering in Jerusalem gedoen het. Hulle het immers self ook die fees bygewoon.
Hy het toe weer vertrek na Kana in Galilea, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar 'n sekere koninklike amptenaar wie se seun siek was. Toe hy hoor dat Jesus van Judea af na Galilea gekom het, het hy na Hom gegaan en gesmeek dat Hy moet afkom en sy seun gesond maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.” Die koninklike amptenaar sê vir Hom: “Meneer, kom tog, voordat my kindjie sterf.” Jesus sê vir hom: “Gaan, jou seun leef.” Die man het Jesus se woorde geglo en gegaan. En terwyl hy nog op pad was, het sy dienaars hom tegemoet gekom en vertel dat sy kind leef. Hy het toe by hulle navraag gedoen oor wanneer hy beter begin word het. Hulle sê toe vir hom: “Gister, teen die sewende uur, het die koors hom verlaat.” Die vader het toe besef dat dit op daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun leef.” En hy en sy hele huishouding het tot geloof gekom. Dit was die tweede teken wat Jesus gedoen het ná sy vertrek van Judea na Galilea.