Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie. Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?” Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom. Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: “Rabbi, eet tog net iets.” Maar Hy het reageer: “Ék het kos om te eet waarvan júlle nie eers weet nie.” Die dissipels sê toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?” Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak. Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly. In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’ Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.” Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly. Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.” Na twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe vertrek. Hy het self plegtig verklaar dat ’n profeet nie in sy eie vaderland geëer word nie. Toe Jesus in Galilea aankom, het die Galileërs Hom hartlik ontvang. Hulle het al die dinge gesien wat Hy gedurende die fees in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die fees. Jesus het toe weer ’n keer in Kana, in Galilea, aangekom waar Hy vroeër die water in wyn verander het. In Kapernaum was daar ’n sekere koninklike amptenaar wie se seun ernstig siek was. Toe hy hoor dat Jesus uit Judea in Galilea aangekom het, het hy vinnig na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om te kom en die seun te genees, want hy was reeds sterwend. Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle ook nooit tot geloof kom nie.” Die koninklike amptenaar sê toe vir Hom: “Meneer, kom asseblief voordat my seuntjie sterf.” Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug, jou seun lewe.” Die man het Jesus op sy woord geneem en dadelik vertrek. Sommer nog terwyl hy op pad was, het die slawe hom tegemoetgegaan en gesê dat sy seun leef. Hy vra hulle toe uit na die uur waarop sy seun begin beter word het. En hulle antwoord hom: “Gister, teen eenuur die middag, het die koors hom verlaat.” Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy uit Judea in Galilea aangekom het.
Lees JOHANNES 4
Luister na JOHANNES 4
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: JOHANNES 4:27-54
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's