Johannes 19:16-30

Johannes 19:16-30 DB

Pilatus het die Jode hulle sin gegee. Hy het hulle toegelaat om Jesus te gaan kruisig. So het dit dan gebeur dat hulle met Jesus kon doen wat hulle so lankal beplan het. Jesus het van die vesting van Pilatus af gestap met die kruis oor sy skouer. Hy, met die klomp mense, is na die “Plek van die Kopbeen” toe (in Hebreeus het die mense van Golgota gepraat). Daar het hulle Hom aan die kruis opgehang om dood te gaan. Saam met Hom het hulle nog twee gekruisig, een aan elke kant, met Hom in die middel. Pilatus het ook ’n nota geskryf en dit aan Jesus se kruis laat vasmaak. Dit het gesê waarom Jesus gekruisig is. Hy het geskryf: “Jesus, uit Nasaret. Die koning van die Jode.” Pilatus het die nota in drie tale laat skryf: Hebreeus, Latyn en Grieks. Die kruise het vlak by die stad gestaan. Baie Jode het daar verbygestap en gelees wat Pilatus se nota gesê het. Die leiers van die priesters was baie ontevrede daaroor. Hulle is reguit na Pilatus toe. “Moet asseblief nie skryf ‘koning van die Jode’ nie. Dis nie reg nie. Skryf liewer: ‘Hierdie man het beweer: Ek is die koning van die Jode.’” Pilatus het voet by stuk gehou: “Wat ek geskryf het, is finaal. Dit bly net so.” Die soldate wat Jesus gekruisig het, vat toe Jesus se klere. Hulle pak dit in vier hopies; ’n hopie vir elkeen wat gehelp het. Die kledingstuk wat Jesus gedra het, was uit een stuk materiaal gemaak. Dit was nie stukke lappe wat aanmekaargewerk was nie. Die soldate bespreek toe die saak: “Dit sal darem ’n groot skade wees om hierdie kledingstuk in stukke te skeur. Kan ons nie liewer lootjies trek nie?” So gesê, so gedaan! Sonder dat hulle dit besef het, het hulle maar net gedoen wat die Skrif lankal gesê het hulle sou doen: “Hulle het my klere onder mekaar uitgedeel. Vir my kledingstuk het hulle lootjies getrek.” Dit is presies wat hulle gedoen het. Die soldate was nie die enigste mense by die kruis nie. Jesus se ma en sy tannie Maria (wat met Klopas getroud was) en Maria Magdalena was ook daar. Toe Jesus sy ma daar sien staan saam met sy volgeling vir wie Hy ’n baie spesiale plek gehad het, sê Hy: “Ma, laat hy van nou af jou seun wees.” Hy kyk toe vir sy volgeling: “My vriend, laat sy van nou af jou ma wees.” Van toe af het Maria by hom gaan bly en hy het haar versorg. Jesus was nou tevrede dat Hy alles gedoen het wat Hy moes doen. Hy sê toe: “Ek is dors.” (Die Skrif het mos gesê dat Hy so sou sê.) Naby die kruis het iemand se bottel suur wyn gelê. Die mense vat toe die wyn en gooi daarvan oor ’n spons. Met ’n takkie wat hulle van ’n hisopplant afgebreek het, lig hulle die spons toe tot by Jesus se mond. Jesus het sy lippe en mond daarmee natgemaak. Hy sê toe: “Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.” Sy kop het vooroor geval en Hy het sy laaste asem uitgeblaas.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Johannes 19:16-30