JOHANNES 19:16-30

JOHANNES 19:16-30 Bybel vir almal (ABA)

Toe het Pilatus gesê die priesterleiers mag vir Jesus vat en Hom laat kruisig. Die soldate het vir Jesus weggevat om Hom te kruisig. Jesus het self sy kruis gedra en Hy het uit die stad gegaan, na die Kopbeenplek. Die Hebreeuse naam van die plek is Golgota. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het twee ander mans saam met Hom gekruisig, een links langs Jesus en een regs langs Hom. Pilatus het op 'n plank bo-aan die kruis laat skryf: “Hier hang Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.” Baie Jode het gelees wat daar geskryf was, want die plek waar die soldate vir Jesus gekruisig het, was naby die stad. Die woorde op die plank was in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die Joodse priesterleiers het toe vir Pilatus gaan sê: “Jy moenie skryf: ‘Jesus, die koning van die Jode’ nie. Jy moet skryf: ‘Jesus het gesê hy is die koning van die Jode.’ ” Pilatus het vir hulle gesê: “Ek het dit geskryf en ek sal dit nie verander nie.” Nadat die soldate vir Jesus gekruisig het, het hulle sy klere gevat. Hulle het sy bo-klere in vier dele gedeel, en elke soldaat het 'n deel gekry. Jesus se onderkleed was alles een stuk materiaal, dit het nie 'n naat gehad nie. Die soldate het vir mekaar gesê: “Ons moenie die onderkleed stukkend skeur nie. Dit sal beter wees as ons lootjies trek om te sien wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat in die Ou Testament geskryf is. Daar is geskryf: Hulle het my klere tussen hulle gedeel. Hulle het lootjies getrek oor my klere. Dit is wat die soldate gedoen het. Jesus se ma het naby sy kruis gestaan. Haar suster was ook daar, ook Maria vrou van Klopas, en Maria Magdalena. Jesus het gesien sy ma staan daar en ook die dissipel vir wie Hy lief was. Toe sê Jesus vir sy ma: “Mevrou, daardie dissipel is nou jou seun.” En Hy sê vir daardie dissipel: “Daardie vrou is nou jou ma.” Van toe af het daardie dissipel vir Jesus se ma by hom laat woon. Jesus het geweet al sy werk op aarde was nou klaar. Daarom het Hy gesê: “ Ek is dors.” Hy het dit gesê sodat dit waar kan word wat in die Ou Testament geskryf is. Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het 'n spons vol suur wyn gemaak en hulle het dit op 'n hisop-tak gesit. Hulle het dit teen Jesus se mond gedruk. Jesus het die wyn gedrink en gesê: “Nou het Ek my werk klaar gedoen!” Hy het sy kop vorentoe gebuig en Hy het gesterf.

JOHANNES 19:16-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei. EN Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota, waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel. En Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE. Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyn. En die owerpriesters van die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode. Pilatus het geantwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskrywe. En toe die soldate Jesus gekruisig het, neem hulle sy klere en maak vier dele, vir elke soldaat 'n deel, en die onderkleed; maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe. En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s'n dit sal wees — sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Dit het die soldate dan gedoen. En by die kruis van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdaléna. En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was — sodat die Skrif vervul sou word — het Jesus gesê: Ek het dors! En daar het 'n kan vol asyn gestaan; en hulle het 'n spons met asyn gevul en op 'n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

JOHANNES 19:16-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem. Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.” Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.” Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate gedoen het. By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

JOHANNES 19:16-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. •Pilatus het ook 'n kennisgewing laat skryf en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.” Dit is wat die soldate toe gedoen het. By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe 'n spons vol suur wyn op 'n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.

JOHANNES 19:16-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei. En hy het sy kruis gedra en uitgegaan na 'n plek wat die plek van 'n skedel genoem word, wat in die Hebreeus Golgota genoem word. Waar hulle Hom gekruisig het, en twee ander saam met Hom, aan weerskante een, en Jesus in die middel. En Pilatus het 'n titel geskryf en dit aan die kruis gesit. En die skrif was: JESUS VAN NASARET, DIE KONING VAN DIE JODE. Hierdie titel het toe baie van die Jode gelees, want die plek waar Jesus gekruisig is, was naby die stad, en dit was geskryf in Hebreeus en Grieks en Latyn. Toe sê die owerpriesters van die Jode vir Pilatus: Skryf nie: Die Koning van die Jode nie; maar dat hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode. Pilatus antwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskryf. Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy klere geneem en vier dele gemaak, vir elke soldaat 'n deel; en ook sy mantel: nou was die mantel sonder naat, van bo af deurgaans geweef. Hulle het toe onder mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar die lot werp oor wie dit moet wees, sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Hierdie dinge het die soldate dan gedoen. En daar staan by die kruis van Jesus sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Kleofas, en Maria Magdalena. Toe Jesus dan sy moeder sien staan en die dissipel wat Hy liefgehad het, sê Hy vir sy moeder: Vrou, daar is jou seun! Toe sê Hy vir die dissipel: Hier is jou moeder! En van daardie uur af het daardie dissipel haar na sy eie huis geneem. Hierna, omdat Jesus geweet het dat alles nou volbring was, sodat die Skrif vervul sou word, sê Jesus: Ek het dors. En daar het 'n houer vol asyn gestaan, en hulle het 'n spons met asyn gevul en dit op hisop gesit en dit aan sy mond gesit. Toe Jesus dan die asyn ontvang het, sê Hy: Dit is volbring

JOHANNES 19:16-30 Die Boodskap (DB)

Pilatus het die Jode hulle sin gegee. Hy het hulle toegelaat om Jesus te gaan kruisig. So het dit dan gebeur dat hulle met Jesus kon doen wat hulle so lankal beplan het. Jesus het van die vesting van Pilatus af gestap met die kruis oor sy skouer. Hy, met die klomp mense, is na die “Plek van die Kopbeen” toe (in Hebreeus het die mense van Golgota gepraat). Daar het hulle Hom aan die kruis opgehang om dood te gaan. Saam met Hom het hulle nog twee gekruisig, een aan elke kant, met Hom in die middel. Pilatus het ook ’n nota geskryf en dit aan Jesus se kruis laat vasmaak. Dit het gesê waarom Jesus gekruisig is. Hy het geskryf: “Jesus, uit Nasaret. Die koning van die Jode.” Pilatus het die nota in drie tale laat skryf: Hebreeus, Latyn en Grieks. Die kruise het vlak by die stad gestaan. Baie Jode het daar verbygestap en gelees wat Pilatus se nota gesê het. Die leiers van die priesters was baie ontevrede daaroor. Hulle is reguit na Pilatus toe. “Moet asseblief nie skryf ‘koning van die Jode’ nie. Dis nie reg nie. Skryf liewer: ‘Hierdie man het beweer: Ek is die koning van die Jode.’” Pilatus het voet by stuk gehou: “Wat ek geskryf het, is finaal. Dit bly net so.” Die soldate wat Jesus gekruisig het, vat toe Jesus se klere. Hulle pak dit in vier hopies; ’n hopie vir elkeen wat gehelp het. Die kledingstuk wat Jesus gedra het, was uit een stuk materiaal gemaak. Dit was nie stukke lappe wat aanmekaargewerk was nie. Die soldate bespreek toe die saak: “Dit sal darem ’n groot skade wees om hierdie kledingstuk in stukke te skeur. Kan ons nie liewer lootjies trek nie?” So gesê, so gedaan! Sonder dat hulle dit besef het, het hulle maar net gedoen wat die Skrif lankal gesê het hulle sou doen: “Hulle het my klere onder mekaar uitgedeel. Vir my kledingstuk het hulle lootjies getrek.” Dit is presies wat hulle gedoen het. Die soldate was nie die enigste mense by die kruis nie. Jesus se ma en sy tannie Maria (wat met Klopas getroud was) en Maria Magdalena was ook daar. Toe Jesus sy ma daar sien staan saam met sy volgeling vir wie Hy ’n baie spesiale plek gehad het, sê Hy: “Ma, laat hy van nou af jou seun wees.” Hy kyk toe vir sy volgeling: “My vriend, laat sy van nou af jou ma wees.” Van toe af het Maria by hom gaan bly en hy het haar versorg. Jesus was nou tevrede dat Hy alles gedoen het wat Hy moes doen. Hy sê toe: “Ek is dors.” (Die Skrif het mos gesê dat Hy so sou sê.) Naby die kruis het iemand se bottel suur wyn gelê. Die mense vat toe die wyn en gooi daarvan oor ’n spons. Met ’n takkie wat hulle van ’n hisopplant afgebreek het, lig hulle die spons toe tot by Jesus se mond. Jesus het sy lippe en mond daarmee natgemaak. Hy sê toe: “Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.” Sy kop het vooroor geval en Hy het sy laaste asem uitgeblaas.

JOHANNES 19:16-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees “Golgota”. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel. Pilatus het ’n kennisgewing geskryf en dit aan die bokant van die kruis aangebring. Daarop het gestaan: “Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Die kennisgewing was in Aramees, Latyn en Grieks. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat Hy gesê het: ‘Ek is die koning van die Jode.’” Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy bo-klere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot en só bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word: “Hulle het my bo-klere onder mekaar verdeel en oor my onderkleed het hulle die lot gewerp.” Tot sover dan wat die soldate gedoen het. Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, dáár is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, dáár is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem. Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.