Johannes 19:16-30

Johannes 19:16-30 AFR20

Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. •Pilatus het ook 'n kennisgewing laat skryf en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.” Dit is wat die soldate toe gedoen het. By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” Daar het 'n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe 'n spons vol suur wyn op 'n marjoleintak en bring dit na sy mond. Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Johannes 19:16-30