Johannes 15:1-4

Johannes 15:1-4 DB

“Laat Ek ’n beeld gebruik om die verhouding tussen My, my Vader en my volgelinge te verduidelik. Stel julle voor my Vader is ’n druiweboer. Ek kan dan vergelyk word met ’n spesiale druiwestok. My Vader bewerk die wingerd goed en hou die lote wat uit die druiwestok groei goed dop. As daar takkies is wat net groei, maar nie ’n enkele druiwetros dra nie, sny Hy dit af. Die takkies wat druiwetrossies maak, versorg Hy mooi. Hy snoei hulle en maak hulle skoon sodat daar baie plek vir die druiwetrossies is. Julle is soos daardie mooi versorgde takkies. My boodskap was soos ’n snoeiskêr wat julle mooi skoon gesny het. “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly  - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies. ’n Takkie kan mos nie druiwe dra as dit eenkant lê en nie aan die druiwestok vas is nie. Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei.