JOHANNES 15:1-4
JOHANNES 15:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Ek is die ware wingerdstok. My Vader is die druiweboer. Daar is party lote wat uit My groei maar wat niks vrugte dra nie. My Vader knip daardie lote af. Maar die lote wat vrugte dra, knip Hy net skoon sodat hulle nog meer vrugte kan dra. Julle is klaar skoon. Wat Ek vir julle gesê het, het julle skoongemaak. Julle moet by My bly soos Ek by julle bly. Julle moet onthou 'n loot alleen kan nie vrugte dra nie, dit moet aan die wingerdstok vas bly. Julle kan ook nie vrugte dra as julle nie by My bly nie.
JOHANNES 15:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
JOHANNES 15:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
JOHANNES 15:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
JOHANNES 15:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot in My wat nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié reinig Hy, sodat dit meer vrug kan dra. Nou is julle rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. Bly in My, en Ek in julle. Soos die loot nie self vrugte kan dra as dit nie aan die wingerdstok bly nie; julle kan nie meer as julle nie in My bly nie.
JOHANNES 15:1-4 Die Boodskap (DB)
“Laat Ek ’n beeld gebruik om die verhouding tussen My, my Vader en my volgelinge te verduidelik. Stel julle voor my Vader is ’n druiweboer. Ek kan dan vergelyk word met ’n spesiale druiwestok. My Vader bewerk die wingerd goed en hou die lote wat uit die druiwestok groei goed dop. As daar takkies is wat net groei, maar nie ’n enkele druiwetros dra nie, sny Hy dit af. Die takkies wat druiwetrossies maak, versorg Hy mooi. Hy snoei hulle en maak hulle skoon sodat daar baie plek vir die druiwetrossies is. Julle is soos daardie mooi versorgde takkies. My boodskap was soos ’n snoeiskêr wat julle mooi skoon gesny het. “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies. ’n Takkie kan mos nie druiwe dra as dit eenkant lê en nie aan die druiwestok vas is nie. Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei.
JOHANNES 15:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek is die ware druiwestok en my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het. Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie.