Johannes 14:15-24

Johannes 14:15-24 DB

“As julle My liefhet, wys dit deur te doen wat Ek vra.” “Ek sal met die Vader praat. Hy sal vir julle ’n spesiale Helper stuur. Hierdie Helper ken net een pad en dit is die pad van die waarheid. Ek praat natuurlik van die Heilige Gees. Die Gees sal julle nooit alleen los nie, maar oral by julle wees. Julle sal gou die Gees in julle lewe herken, want Hy sal heeltemal deel word van julle. Hy sal nie net by julle wees nie, maar ook in julle. Die sondige mense sal egter nie eens weet die Gees is daar nie en die Gees sal ook nie deel van hulle lewe word nie. Hulle sal ook glad nie op die golflengte van die Gees ingestel wees nie. “Ek self sal ook na ’n rukkie na julle toe terugkom. Ek sal julle nie soos verlore weeskinders hulpeloos en alleen los nie. Maar wanneer Ek terugkom, sal Ek nie wees soos Ek nou is nie. Ongelowige mense sal My glad nie kan sien nie. Julle sal My goed kan ‘sien’, en weet julle hoekom? Julle sal nie meer net fisiek lewe nie, maar geestelik ook, net soos Ek. Julle sal dan agterkom hoe intiem die verhouding tussen My en my Vader is. Net so intiem sal julle verhouding met My en my verhouding met julle wees. “Julle sal die persoon wat My regtig liefhet duidelik kan uitken. Hy sal weet wat Ek van hom verwag en dit ook doen. As iemand so lojaal teenoor My is, sal my Vader ook lojaal teenoor hom wees. Natuurlik sal Ek self ook lojaal teenoor hom wees en Ek sal vir hom al duideliker wys wie Ek regtig is.” Judas (nie Judas Iskariot nie) vra toe: “Here, hoe is dit dat U vir ons duideliker gaan wys wie U is, maar dat die ongelowiges dit nie eens sal agterkom nie?” Jesus antwoord toe: “Wel, Judas, die saak staan so. Daar is twee soorte mense: die mense wat My liefhet, en die mense wat niks met My te doen wil hê nie. Die mense wat My liefhet, neem alles wat Ek sê baie ernstig op; die ander steur hulle nie daaraan nie. God staan 100% agter hulle wat my woorde ernstig opneem, want dit is mos eintlik God self se woorde. Weet julle, my Vader en Ek sal al twee op ’n baie intieme manier deel word van daardie persoon se lewe.