JOHANNES 14:15-23
JOHANNES 14:15-23 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook vir die dissipels gesê: “As julle lief is vir My, dan sal julle doen wat Ek vir julle sê. Ek sal vir die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Helper gee. Die Helper is die Heilige Gees. Die Gees sal altyd by julle bly. Hy is die Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is. Die mense wat aan die wêreld behoort, kan die Gees nie ontvang nie, want hulle sien Hom nie en hulle ken Hom nie. Maar julle ken die Heilige Gees, want Hy bly by julle en Hy is in julle. Ek los julle nie alleen soos kinders wat nie 'n pa en ma het nie. Ek kom weer terug na julle toe. Ná 'n kort tydjie sal die mense wat aan die wêreld behoort, My nie meer sien nie, maar julle sal My sien. En omdat Ek altyd lewe, sal julle ook lewe. Dan sal julle weet Ek is by die Vader en julle is by My en Ek is by julle. As julle weet wat Ek wil hê julle moet doen, en julle doen dit, dan wys julle dat julle lief is vir My. As julle lief is vir My, dan sal my Vader ook lief wees vir julle. Dan sal Ek ook lief wees vir julle en Ek sal vir julle wys wie Ek is.” Toe sê Judas vir Hom: “Here, ons verstaan dit nie: Hoe sal U net vir óns wys wie U is, maar nie vir die mense van die wêreld nie?” Dit was nie Judas Iskariot nie, dit was 'n ander dissipel, sy naam was ook Judas. Jesus het vir hom gesê: “As mense lief is vir My, dan sal hulle doen wat Ek vir hulle sê, en my Vader sal lief wees vir hulle. Dan sal Ek en die Vader na hulle toe kom en by hulle bly.
JOHANNES 14:15-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog 'n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
JOHANNES 14:15-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle. “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
JOHANNES 14:15-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog 'n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle. Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra Hom toe: “Here, hoe is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie? ” Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
JOHANNES 14:15-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid; Selfs die Gees van die waarheid; wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom; want Hy bly by julle en sal in julle wees. Ek sal jou nie troosteloos laat nie: Ek sal na jou toe kom. Nog 'n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My; omdat Ek lewe, sal julle ook lewe. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. Wie my gebooie het en dit bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, sal deur my Vader liefgehê word, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. Judas sê vir Hom, nie Iskariot nie, Here, hoe is dit dat U Uself aan ons sal openbaar en nie aan die wêreld nie? Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woorde bewaar; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
JOHANNES 14:15-24 Die Boodskap (DB)
“As julle My liefhet, wys dit deur te doen wat Ek vra.” “Ek sal met die Vader praat. Hy sal vir julle ’n spesiale Helper stuur. Hierdie Helper ken net een pad en dit is die pad van die waarheid. Ek praat natuurlik van die Heilige Gees. Die Gees sal julle nooit alleen los nie, maar oral by julle wees. Julle sal gou die Gees in julle lewe herken, want Hy sal heeltemal deel word van julle. Hy sal nie net by julle wees nie, maar ook in julle. Die sondige mense sal egter nie eens weet die Gees is daar nie en die Gees sal ook nie deel van hulle lewe word nie. Hulle sal ook glad nie op die golflengte van die Gees ingestel wees nie. “Ek self sal ook na ’n rukkie na julle toe terugkom. Ek sal julle nie soos verlore weeskinders hulpeloos en alleen los nie. Maar wanneer Ek terugkom, sal Ek nie wees soos Ek nou is nie. Ongelowige mense sal My glad nie kan sien nie. Julle sal My goed kan ‘sien’, en weet julle hoekom? Julle sal nie meer net fisiek lewe nie, maar geestelik ook, net soos Ek. Julle sal dan agterkom hoe intiem die verhouding tussen My en my Vader is. Net so intiem sal julle verhouding met My en my verhouding met julle wees. “Julle sal die persoon wat My regtig liefhet duidelik kan uitken. Hy sal weet wat Ek van hom verwag en dit ook doen. As iemand so lojaal teenoor My is, sal my Vader ook lojaal teenoor hom wees. Natuurlik sal Ek self ook lojaal teenoor hom wees en Ek sal vir hom al duideliker wys wie Ek regtig is.” Judas (nie Judas Iskariot nie) vra toe: “Here, hoe is dit dat U vir ons duideliker gaan wys wie U is, maar dat die ongelowiges dit nie eens sal agterkom nie?” Jesus antwoord toe: “Wel, Judas, die saak staan so. Daar is twee soorte mense: die mense wat My liefhet, en die mense wat niks met My te doen wil hê nie. Die mense wat My liefhet, neem alles wat Ek sê baie ernstig op; die ander steur hulle nie daaraan nie. God staan 100% agter hulle wat my woorde ernstig opneem, want dit is mos eintlik God self se woorde. Weet julle, my Vader en Ek sal al twee op ’n baie intieme manier deel word van daardie persoon se lewe.
JOHANNES 14:15-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees; dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon. “Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe. Nog net ’n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Op daardie selfde dag sal julle goed weet dat Ek in ’n hegte verhouding met my Vader leef, en julle met My, en Ek met julle. “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan.