Johannes 12:1-19

Johannes 12:1-19 DB

Ses dae voor die paasfees kom Jesus weer in Betanië aan, waar Lasarus-hulle gebly het. Die mense daar het ’n spesiale ete vir Jesus gereël. Marta het hulle bedien en gesorg dat hulle genoeg het om te eet. Lasarus het saamgeëet. Maria bring toe ’n houer met duur olie wat van nardus gemaak is daar aan. Dit het soet en baie lekker geruik en is as ’n soort parfuum gebruik. Sy gooi toe sommer heelwat van die lekker olie oor Jesus se voete uit. Daarna vee sy die oortollige olie met haar hare van sy voete af. Die hele huis het lekker geruik van die heerlike olie. Judas Iskariot was nie baie tevrede daarmee nie. (Dit is dieselfde een wat Jesus later in die rug sou steek.) Hy was die volgeling van Jesus wat met hulle groepie se geld gewerk het. “Watse geldmorsery is dit dié? Hoekom het ons nie liewer die olie gevat en gaan verkoop nie? Ons sou maklik ’n volle jaar se salaris van ’n handwerker vir die olie kon gekry het. Dink net hoeveel armes ons met soveel geld kon gehelp het! Nou het ons niks nie.” Maar Judas was ’n groter jakkals as dit. Hy was nie so vreeslik bekommerd oor die armes nie. Nee, hy was ’n regte dief. Hy het mos met Jesus-hulle se geld gewerk en homself goed daaraan gehelp. “Los haar,” sê Jesus toe. “Laat sy dit hou. Sy gaan dit weer nodig kry vir my begrafnis. Julle sal altyd weer ’n kans kry om die armes te help, want daar sal maar altyd arm mense wees. Maar met My is dit anders. Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir My wil doen, doen dit terwyl julle nog kan.” Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef. Toe die leiers van die priesters dit hoor, het hulle besluit om Lasarus ook sommer uit die weg te ruim. Hulle het gesien hoe die Jode na Betanië gestroom en Jesus begin volg het. Jerusalem het uit sy nate gebars van al die mense wat fees toe gekom het. Hulle was baie opgewonde toe hulle hoor Jesus kom Jerusalem toe. Natuurlik is hulle dadelik daar weg om Hom langs die pad te ontmoet. Met palmtakke in die hand het hulle die hele pad geskreeu: “Ons prys U, U is baie spesiaal! U kom omdat die Here dit wil hê, U is die koning van Israel.” Jesus het op ’n jong donkie daar aangery gekom. Die Skrif sê mos: “Julle hoef nie bang te wees nie, inwoners van Sion. Kyk net; julle koning kom. Hy ry op ’n jong donkie.” Jesus se volgelinge het natuurlik nie in daardie stadium besef dat hierdie gejuig en die woorde uit die Skrif ’n baie dieper betekenis gehad het nie. Dit sou hulle eers later insien. Eers toe Jesus sy krag gewys het deur uit die dood op te staan, het hulle weer mooi oor alles gedink. Toe het hulle dit begryp. Die mense wat gesien het hoe Jesus Lasarus lewendig maak, was ook deel van die groot klomp mense rondom Jesus. Hulle het natuurlik alte gretig vir almal van die wonder vertel wat by Lasarus se graf gebeur het. Dit is tog hoekom die ander mense Jesus kom soek het. Vir die Fariseërs was dit egter slegte nuus. Met die hande in die hare het hulle vir mekaar gesê: “Kyk net wat gaan nou hier aan. Dinge ruk handuit. Al wat leef en beef hardloop agter hom aan!”