Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. Daar het hulle vir Hom toe 'n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. Toe het Maria 'n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: “Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy 'n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat. Daarop het Jesus gesê: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”
'n Groot skare Jode het verneem dat Jesus daar was, en hulle het gekom, nie ter wille van Jesus alleen nie, maar sodat hulle ook vir Lasarus kon sien wat Hy uit die dood opgewek het. En die leierpriesters het planne beraam om Lasarus ook dood te maak, omdat deur hom baie van die Jode oorgeloop en in Jesus geglo het.
Die volgende dag het die groot skare wat vir die fees gekom het, en wat gehoor het dat Jesus na Jerusalem kom, palmtakke gevat en Hom tegemoetgegaan en aanhoudend uitgeroep,
“Hosanna!
Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here!”
en:
“Die Koning van Israel!”
En Jesus het 'n jong donkie gekry en daarop gaan sit, soos daar geskryf staan:
“Moenie vrees nie,
dogter van Sion!
Kyk, jou Koning kom,
Hy sit op 'n donkievul.”
Hierdie dinge het sy dissipels eers nie verstaan nie, maar toe Jesus verheerlik is, het hulle onthou dat hierdie dinge oor Hom geskryf staan, en dat hulle dit vir Hom gedoen het. Die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het daarvan getuig. Die rede waarom die skare Hom tegemoetgegaan het, was omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie teken gedoen het. Daarop het die •Fariseërs vir mekaar gesê: “Sien julle dat julle niks bereik nie! Kyk, die hele wêreld loop agter hom aan! ”