Toe sê die Here vir Gideon: “Met hierdie 300 soldate wat die water met hulle hande opgeskep het om te drink gaan Ek jou help en die Midianiete verslaan. Stuur die res van die manne huis toe.” Gideon het al die kos, trompette en ander nodige middels by hierdie soldate gevat en hulle toe huis toe gestuur. Uiteindelik was dit net hy en die 300 ander soldate wat oorgebly het. Die Midianiete se kamp was in die vallei net onder hulle. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op! Val die Midianiete se kamp aan, want ek gee hulle in jou mag oor. Maar as jy dalk bang is om hulle aan te val, vat jou dienaar Pura en gaan saam met hom na hulle kamp toe. Gaan luister ’n bietjie wat hulle te sê het. Dit sal jou laat moed skep. Daarna sal jy bereid wees om hulle aan te val.” Gideon en Pura is toe daar weg en het tot by die kant van die Midianiete se kamp gekruip. Die soldate van die Midianiete, die Amalekiete en die mense uit die ooste was so baie dat hulle soos ’n swerm sprinkane daar in die vallei gelyk het. Hulle kamele was so baie soos die sandkorrels van die see, te veel om te tel. Gideon het net betyds daar aangekom om te hoor hoe iemand vir sy vriend van sy droom vertel. “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in die kamp ingerol. Dit het tot teen die tent gerol en dit omgestamp en inmekaar laat val.” Sy vriend het gesê: “Dit kan net een ding beteken. God het die Midianiete en hulle hele leër in die mag van die Israeliet Gideon die seun van Joas oorgegee!” Toe Gideon die droom en die betekenis daarvan hoor, het hy vir die Here dankie gesê. Hy is toe terug kamp toe. Daar aangekom, het hy vir die Israeliete gesê: “Kom, die Here het klaar vir ons die oorwinning oor die Midianiete gegee.” Gideon het die 300 soldate in drie groepe gedeel. Hy het vir elke soldaat ’n trompet en ’n leë kleipot met ’n fakkel daarin gegee. Toe sê hy vir hulle: “Hou my dop. Sodra ek by die grens van die kamp kom, moet julle presies doen wat ek doen. As ek en die groep by my op ons trompette blaas, moet julle ander wat reg rondom die kamp is, dit ook begin doen en skree: ‘In die Naam van die Here en Gideon!’” Dit was net na middernag, na die wagte omgeruil het, toe Gideon en die 100 soldate saam met hom by die grens van die kamp aankom. Hulle het skielik op hulle trompette geblaas en die kleipotte stukkend gebreek. Die ander twee groepe het presies dieselfde gedoen. Hulle het hulle fakkels in hulle linkerhand vasgehou en hulle trompette in die regterhand en hard geskree: “Die swaard vir die Here en vir Gideon!” Gideon se soldate het almal op hulle plekke rondom die kamp bly staan en kyk hoe die vyandelike soldate doodbang weghardloop. Want terwyl Gideon se soldate op hulle trompette geblaas het, het die Here die vyand se soldate onder mekaar laat baklei. Dié wat nie in hierdie geveg dood is nie, het in die rigting van Sereda tot so ver as Bet-Sitta gevlug en ander weer tot by die grens van Abel-Megola, naby Tabbat.
Lees Rigters 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: Rigters 7:7-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's