Toe sê die HERE vir Gideon: “Met die driehonderd man wat die water opgelek het, gaan Ek julle verlos. Ek sal die Midianiete in jou hand gee. Al die ander manskappe kan maar gaan, elkeen na sy woonplek.” Die driehonderd man het toe die padkos wat die manskappe by hulle gehad het en hulle •ramshorings geneem. Al die ander manne van Israel het Gideon weggestuur, elkeen na sy tente. Maar die driehonderd man het hy teruggehou.
Die kamp van die Midianiete was onderkant hom in die vlakte. Gedurende daardie nag het die HERE vir hom gesê: “Staan op, gaan af na hulle kamp; want Ek gee hulle in jou hand. Maar as jy bang is om af te gaan, moet jy en Pura, jou dienaar, afgaan na die kamp en luister wat hulle sê. Daarna sal jy die moed hê om af te gaan, in die kamp in.” Toe gaan hy en sy dienaar Pura af tot by die kant van die slagordes wat in die kamp was.
Die Midianiete, die Amalekiete en al die mense uit die ooste het in die vlakte gelê soos groot swerms treksprinkane, en hulle kamele was ontelbaar, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. Toe Gideon daar kom, vertel 'n man juis vir sy vriend van sy droom. “Kyk,” het hy gesê, “ek het 'n droom gehad. Daar was 'n ronde garsbrood wat in die kamp van die Midianiete inrol, tot by 'n tent kom en dit tref, sodat dit val. Dit het die tent laat omdop, sodat dit daar gelê het.” Sy vriend antwoord toe en sê: “Dit kan niks anders wees nie as die swaard van Gideon, seun van Joas, die Israeliet. God het die Midianiete en die hele kamp in sy hand gegee.”
Toe Gideon die vertelling oor die droom en die uitleg daarvan hoor, het hy dadelik in aanbidding neergebuig. Hy het na die kamp van Israel teruggegaan en gesê: “Staan op! Want die HERE het die kamp van die Midianiete in julle hand gegee.” Hy verdeel toe die driehonderd man in drie eenhede, en gee vir almal ramshorings in die hand en leë kruike met fakkels in die kruike. Hy sê vir hulle: “Hou my dop, en maak so: Doen presies wat ek doen wanneer ek by die kant van die kamp kom. Wanneer ek en almal wat by my is op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas, rondom die hele kamp, en julle moet skreeu, ‘Vir die HERE en vir Gideon!’ ”
Gideon en die honderd man wat by hom was, kom toe by die kant van die kamp aan teen die begin van die middelste nagwaak, net toe die wagte behoorlik opgestel was. Hulle blaas toe op die ramshorings en breek die kruike wat in hulle hande was, stukkend. Die drie eenhede het tegelyk op die ramshorings geblaas, die kruike gebreek, in hulle linkerhande die fakkels gehou, en in hulle regterhande die ramshorings om daarop te blaas. Hulle het uitgeroep: “'n Swaard van die HERE en van Gideon!” Hulle het bly staan, elkeen waar hy was, rondom die kamp. Die hele kamp het rondgehardloop, geskreeu en op die vlug geslaan. Toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die HERE in die hele kamp die een se swaard teen die ander gerig. Die krygsmag het gevlug tot by Bet-Sitta, in die rigting van Sereda, tot op die oewer van die Megolastroom by Tabbat.