RIGTERS 7:7-22
RIGTERS 7:7-22 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Gideon gesê: “Ek sal julle red met hierdie 300 manne wat die water met hulle hande geskep het. Ek sal jou laat wen teen die Midianiete. Laat die ander manne teruggaan, elkeen na sy huis.” Gideon het die ander manne laat teruggaan huis toe en hy het die 300 manne by hom laat bly. Hulle het die padkos en ramshorings by hulle gehou. Die kamp van die Midianiete was in die vallei, onderkant die kamp van Gideon. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet die Midianiete se kamp gaan aanval, Ek sal jou laat wen teen hulle. Maar as jy bang is om hulle aan te val, dan moet jy en Pura, die seun wat by jou is, eers na die kamp gaan en luister na wat hulle praat. Dan sal jy nie meer bang wees om hulle aan te val nie.” Gideon en Pura het toe afgegaan tot by die kant van die kamp. Die manne in die kamp was gereed om oorlog te maak. Daar was baie Midianiete en Amalekiete en Oosmense in die vallei. Hulle was so baie soos sprinkane. Niemand kon hulle kamele tel nie, want hulle was so baie soos die sand by die see. Toe Gideon by die kamp kom, was 'n man besig om vir sy maat te vertel wat hy gedroom het. Hy het gesê: “Ek het gedroom ek sien 'n ronde garsbrood wat deur die kamp rol. Dit het tot teen ons tent gerol en die tent omgestamp. Die tent het geval, en die brood het bo-oor die tent gerol.” Die man se maat sê toe: “Dit beteken die Israeliet, Gideon seun van Joas, kom oorlog maak teen ons, en God sal hom laat wen teen die Midianiete en hierdie hele kamp.” Toe Gideon hoor van die droom en wat dit beteken, het hy gebuig en hy het die Here geprys. Hy het teruggegaan na die kamp van die Israeliete, en gesê: “Kom, die Here sal julle laat wen teen die leër van die Midianiete.” Gideon het die 300 manne verdeel in drie groepe, en hy het vir elke man 'n ramshoring en 'n leë kruik gegee. Daar was 'n fakkel in elke kruik. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet kyk wat ek doen en dan moet julle dieselfde doen. Ek en almal by my sal die ramshorings blaas, en dan moet julle ook rondom die Midianiete se kamp julle ramshorings blaas en julle moet skree: ‘Vir die Here en vir Gideon.’ ” Gideon en die 100 manne by hom het by die kamp aangekom toe die middel-wagbeurt begin het, net nadat die nuwe wagte op hulle plekke kom staan het. Toe Gideon en die manne by hom die ramshorings blaas en die kruike stukkend slaan, het die ander groepe manne ook hulle ramshorings geblaas en hulle kruike stukkend geslaan. Hulle het die fakkels met die linker-hand vasgehou en met die regter-hand het hulle die ramshorings vasgehou waarop hulle geblaas het. Hulle het geskree: “Die Here en Gideon kom oorlog maak!” Gideon se manne het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy plek. Die mense in die kamp het opgespring en geskree en begin hardloop. Toe die manne die 300 ramshorings blaas, het die Midianiete mekaar begin doodmaak. Die Here het hulle dit laat doen. Hulle het gevlug tot by die stad Bet-Sitta naby Serera en tot by die grens van die grond van die stad Abel-Megola by Tabbat.
RIGTERS 7:7-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê die HERE vir Gídeon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan. Daarop neem hulle die padkos van die manskappe en hulle ramshorings in hul hand; en hy het al die manskappe van Israel laat gaan, elkeen na sy tente toe; maar die driehonderd man het hy agtergehou, terwyl die laer van die Midianiete onderkant hom in die laagte was. En daardie nag het die HERE vir hom gesê: Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand. En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na die laer toe en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste lyn van die gewapendes wat in die laer was. En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte. En toe Gídeon aankom, vertel 'n man aan 'n ander juis 'n droom en sê: Kyk, ek het 'n droom gehad: Daar rol 'n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar! En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee. Toe Gídeon dan die verhaal van die droom en sy uitlegging hoor, het hy aanbid; en hy het teruggekeer na die laer van Israel en gesê: Maak klaar, want die HERE gee die laer van die Midianiete in julle hand. En hy het die driehonderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak. En as ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas rondom die hele laer, en julle moet sê: Vir die HERE en vir Gídeon! Toe kom Gídeon en die honderd man wat by hom was, by die buitenste lyn van die laer, met die begin van die middelste nagwaak toe hulle skaars die wagte uitgesit het, en hulle blaas op die ramshorings en slaan die kruike stukkend wat hulle in hul hand gehad het. Toe blaas die drie dele op die ramshorings en breek die kruike en hou met hulle linkerhand die fakkels en met hulle regterhand die ramshorings om te blaas, terwyl hulle uitroep: Die swaard van die HERE en van Gídeon! En hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer. Daarop hardloop die hele laer, en hulle skreeu en vlug. En toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die HERE die swaard van die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer; en die laer het gevlug na Bet-Sitta, na Seréda toe, tot by die oewer van Abel-Mehóla by Tabbat.
RIGTERS 7:7-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle red met die drie honderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Die ander moet almal huis toe gaan.” Gideon-hulle het al die kos en die ramshorings gevat en toe het hy die ander almal huis toe gestuur. Hy het net die drie honderd by hom gehou. Die kamp van die Midianiete was teenoor hom in die vlakte. Dié nag het die Here vir hom gesê: “Kom, gaan na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle in jou mag oor. Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan. Luister wat hulle sê, dan sal jy moed skep en hulle aanval.” Gideon en sy slaaf Pura is toe sowat vyftig tree in die Midianiete se kamp in. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het, was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see. Gideon het in die kamp ingekom net toe 'n man vir sy maat hierdie droom vertel: “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom 'n ronde garsbrood in ons laer ingerol. Die brood het tot by die tent gerol, daarteen gestamp en dit laat omval. Die brood het die tent omgestamp en die tent het inmekaargetuimel.” Die maat het geantwoord: “Dit is beslis die swaard van die Israeliet Gideon seun van Joas. God gee Midian en sy hele leër in Gideon se mag oor.” Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, het hy die Here gedank en na die Israeliete se kamp toe teruggegaan en gesê: “Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor.” Gideon het die drie honderd man in drie groepe verdeel en aan elkeen 'n ramshoring en 'n leë erdekruik met 'n fakkel daarbinne gegee. Toe sê hy vir sy manne: “Let mooi op wat julle moet doen: as ek by die onderpunt van die kamp kom, moet julle doen wat ek doen. As ek en almal by my die ramshoring blaas, moet julle almal wat rondom die kamp is, dit ook doen en dan moet julle uitroep: Vir die Here en vir Gideon!” Gideon en die honderd man by hom het tot by die onderpunt van die kamp gegaan. Dit was in die nag, aan die begin van die middelste wagaflos, en die wagte was net klaar omgeruil. Toe blaas Gideon-hulle die ramshorings en breek die erdekruike. Al drie afdelings het dit gedoen: hulle het die fakkels in die linkerhand gehou en die ramshorings met die regterhand om dit te blaas. Toe roep hulle: “Die swaard van die Here en Gideon!” Hulle het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy pos. Toe die drie honderd man die ramshoring blaas, het die hele kamp op die vlug geslaan, hulle het geskreeu en gehardloop, en toe het die Here dit bewerk dat hulle mekaar daar in die kamp doodmaak. Die kamp se mense het gevlug tot by Bet-Sitta na Sereda se kant toe, tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.
RIGTERS 7:7-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê die HERE vir Gideon: “Met die driehonderd man wat die water opgelek het, gaan Ek julle verlos. Ek sal die Midianiete in jou hand gee. Al die ander manskappe kan maar gaan, elkeen na sy woonplek.” Die driehonderd man het toe die padkos wat die manskappe by hulle gehad het en hulle •ramshorings geneem. Al die ander manne van Israel het Gideon weggestuur, elkeen na sy tente. Maar die driehonderd man het hy teruggehou. Die kamp van die Midianiete was onderkant hom in die vlakte. Gedurende daardie nag het die HERE vir hom gesê: “Staan op, gaan af na hulle kamp; want Ek gee hulle in jou hand. Maar as jy bang is om af te gaan, moet jy en Pura, jou dienaar, afgaan na die kamp en luister wat hulle sê. Daarna sal jy die moed hê om af te gaan, in die kamp in.” Toe gaan hy en sy dienaar Pura af tot by die kant van die slagordes wat in die kamp was. Die Midianiete, die Amalekiete en al die mense uit die ooste het in die vlakte gelê soos groot swerms treksprinkane, en hulle kamele was ontelbaar, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. Toe Gideon daar kom, vertel 'n man juis vir sy vriend van sy droom. “Kyk,” het hy gesê, “ek het 'n droom gehad. Daar was 'n ronde garsbrood wat in die kamp van die Midianiete inrol, tot by 'n tent kom en dit tref, sodat dit val. Dit het die tent laat omdop, sodat dit daar gelê het.” Sy vriend antwoord toe en sê: “Dit kan niks anders wees nie as die swaard van Gideon, seun van Joas, die Israeliet. God het die Midianiete en die hele kamp in sy hand gegee.” Toe Gideon die vertelling oor die droom en die uitleg daarvan hoor, het hy dadelik in aanbidding neergebuig. Hy het na die kamp van Israel teruggegaan en gesê: “Staan op! Want die HERE het die kamp van die Midianiete in julle hand gegee.” Hy verdeel toe die driehonderd man in drie eenhede, en gee vir almal ramshorings in die hand en leë kruike met fakkels in die kruike. Hy sê vir hulle: “Hou my dop, en maak so: Doen presies wat ek doen wanneer ek by die kant van die kamp kom. Wanneer ek en almal wat by my is op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas, rondom die hele kamp, en julle moet skreeu, ‘Vir die HERE en vir Gideon!’ ” Gideon en die honderd man wat by hom was, kom toe by die kant van die kamp aan teen die begin van die middelste nagwaak, net toe die wagte behoorlik opgestel was. Hulle blaas toe op die ramshorings en breek die kruike wat in hulle hande was, stukkend. Die drie eenhede het tegelyk op die ramshorings geblaas, die kruike gebreek, in hulle linkerhande die fakkels gehou, en in hulle regterhande die ramshorings om daarop te blaas. Hulle het uitgeroep: “'n Swaard van die HERE en van Gideon!” Hulle het bly staan, elkeen waar hy was, rondom die kamp. Die hele kamp het rondgehardloop, geskreeu en op die vlug geslaan. Toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die HERE in die hele kamp die een se swaard teen die ander gerig. Die krygsmag het gevlug tot by Bet-Sitta, in die rigting van Sereda, tot op die oewer van die Megolastroom by Tabbat.
RIGTERS 7:7-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die HERE vir Gídeon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek jou verlos en die Midianiete in jou hand gee; en laat al die ander volke elkeen na sy plek toe gaan. En die volk het voedsel en hulle trompette in hulle hand geneem, en hy het die hele res van Israel, elkeen na sy tent toe gestuur en daardie drie honderd man behou; en die leër van Mídian was onder hom in die dal. En dit het gebeur in dieselfde nag dat die HERE vir hom gesê het: Staan op, klim af na die leër; want Ek het dit in jou hand gegee. Maar as jy bang is om af te gaan, gaan dan saam met jou dienaar Fura af na die leër toe. En jy moet hoor wat hulle sê; en daarna sal jou hande versterk word om na die leër af te gaan. Toe het hy saam met sy dienaar Phura afgegaan na die buitekant van die gewapende manne wat in die leër was. En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die dal gelê soos sprinkane in menigte; en hulle kamele was ontelbaar soos die sand langs die see in menigte. En toe Gideon kom, kyk, daar was 'n man wat 'n droom aan sy maat vertel en gesê het: Kyk, ek het 'n droom gedroom, en kyk, 'n garsbroodkoek het in die leër van Mídian ingeval en by 'n tent en dit geslaan dat dit geval het, en dit omgekeer, sodat die tent langsaan gelê het. En sy maat het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gideon, die seun van Joas, 'n man van Israel, want in sy hand het God die Midianiete en die hele leër gegee. En toe Gídeon die vertelling van die droom en die uitlegging daarvan hoor, het hy aanbid en na die leër van Israel teruggekeer en gesê: Staan op! want die HERE het die leër van Mídian in julle hand gegee. En hy het die drie honderd man in drie dele verdeel en elkeen 'n basuin in die hand gesit, met leë kruike en lampe binne-in die kruike. En hy sê vir hulle: Kyk na my en doen net so; en kyk, as ek by die buitekant van die laer kom, moet julle doen soos ek doen. As ek op die basuin blaas, ek en almal wat by my is, dan blaas julle ook op die ramshorings aan alle kante van die hele laer, en sê: Die swaard van die HERE en van Gídeon! En Gideon en die honderd man wat by hom was, het aan die buitekant van die laer aan die begin van die middelste wag gekom; en hulle het die wag net pas gestel, en hulle het op die ramshorings geblaas en die kruike wat in hulle hande was, verbreek. En die drie lede het op die trompette geblaas en die kruike verbreek en die lampe in hulle linkerhand en die basuine in hulle regterhand gehou om mee te blaas; en hulle het uitgeroep: Die swaard van die HERE en van Gídeon! En hulle het elkeen op sy plek rondom die laer gaan staan, en die hele leër het gehardloop en geroep en gevlug. En die driehonderd het op die ramshorings geblaas, en die HERE het elkeen se swaard teen sy maat gesit, ook in die hele leër; en die leër het gevlug tot by Bet-Sitta [en] tot by Sereda, tot by die oewer van Abel-Mehóla, bo Tabbat.
RIGTERS 7:7-22 Die Boodskap (DB)
Toe sê die Here vir Gideon: “Met hierdie 300 soldate wat die water met hulle hande opgeskep het om te drink gaan Ek jou help en die Midianiete verslaan. Stuur die res van die manne huis toe.” Gideon het al die kos, trompette en ander nodige middels by hierdie soldate gevat en hulle toe huis toe gestuur. Uiteindelik was dit net hy en die 300 ander soldate wat oorgebly het. Die Midianiete se kamp was in die vallei net onder hulle. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op! Val die Midianiete se kamp aan, want ek gee hulle in jou mag oor. Maar as jy dalk bang is om hulle aan te val, vat jou dienaar Pura en gaan saam met hom na hulle kamp toe. Gaan luister ’n bietjie wat hulle te sê het. Dit sal jou laat moed skep. Daarna sal jy bereid wees om hulle aan te val.” Gideon en Pura is toe daar weg en het tot by die kant van die Midianiete se kamp gekruip. Die soldate van die Midianiete, die Amalekiete en die mense uit die ooste was so baie dat hulle soos ’n swerm sprinkane daar in die vallei gelyk het. Hulle kamele was so baie soos die sandkorrels van die see, te veel om te tel. Gideon het net betyds daar aangekom om te hoor hoe iemand vir sy vriend van sy droom vertel. “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in die kamp ingerol. Dit het tot teen die tent gerol en dit omgestamp en inmekaar laat val.” Sy vriend het gesê: “Dit kan net een ding beteken. God het die Midianiete en hulle hele leër in die mag van die Israeliet Gideon die seun van Joas oorgegee!” Toe Gideon die droom en die betekenis daarvan hoor, het hy vir die Here dankie gesê. Hy is toe terug kamp toe. Daar aangekom, het hy vir die Israeliete gesê: “Kom, die Here het klaar vir ons die oorwinning oor die Midianiete gegee.” Gideon het die 300 soldate in drie groepe gedeel. Hy het vir elke soldaat ’n trompet en ’n leë kleipot met ’n fakkel daarin gegee. Toe sê hy vir hulle: “Hou my dop. Sodra ek by die grens van die kamp kom, moet julle presies doen wat ek doen. As ek en die groep by my op ons trompette blaas, moet julle ander wat reg rondom die kamp is, dit ook begin doen en skree: ‘In die Naam van die Here en Gideon!’” Dit was net na middernag, na die wagte omgeruil het, toe Gideon en die 100 soldate saam met hom by die grens van die kamp aankom. Hulle het skielik op hulle trompette geblaas en die kleipotte stukkend gebreek. Die ander twee groepe het presies dieselfde gedoen. Hulle het hulle fakkels in hulle linkerhand vasgehou en hulle trompette in die regterhand en hard geskree: “Die swaard vir die Here en vir Gideon!” Gideon se soldate het almal op hulle plekke rondom die kamp bly staan en kyk hoe die vyandelike soldate doodbang weghardloop. Want terwyl Gideon se soldate op hulle trompette geblaas het, het die Here die vyand se soldate onder mekaar laat baklei. Dié wat nie in hierdie geveg dood is nie, het in die rigting van Sereda tot so ver as Bet-Sitta gevlug en ander weer tot by die grens van Abel-Megola, naby Tabbat.
RIGTERS 7:7-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe sê die HERE vir Gideon: “Ek sal julle met hierdie 300 man wat die water uit hulle hand gedrink het, bevry. Ek sal Midian aan jou onderwerp. Al die ander manskappe kan teruggaan na hulle huise toe.” Gideon het hulle proviand en die ramshorings wat hulle by hulle gehad het, gevat en hulle teruggestuur. Hy het net die 300 by hom oorgehou. Die Midianitiese kamp was onder op die vlakte. Daardie nag het die HERE vir Gideon gesê: “Staan op en gaan af na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle oor aan jou. As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan. Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry.” Gideon en sy helper Pura is toe af na die kant van die Midianiete se kamp. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat op die vlakte toegesak het, was so baie soos sprinkane. Hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos sandkorrels op die strand. Gideon het toe nader gesluip. In die kamp was ’n man juis besig om vir sy makker te vertel wat hy gedroom het. “Ek het gedroom,” het hy vertel, “daar kom ’n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ’n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.” Sy maat het geantwoord: “Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon, die seun van Joas, nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.” Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die HERE gedank. Hy het teruggegaan na die Israeliete se kamp. Hy het sy manskappe opgeroep: “Staan op! Die HERE gee die Midianiete oor aan julle.” Gideon het die 300 manskappe in drie afdelings verdeel. Hy het vir elke manskap ’n ramshoring in die hand gegee en ook ’n leë erdepot met ’n fakkel daarin. Toe sê hy vir sy manskappe: “Kyk mooi wat ek doen. Wanneer ek by die kamp kom, moet julle presies maak soos ek. Wanneer ek en almal by my op die ramshorings blaas, moet julle aan die ander kant van die kamp ook op julle ramshorings begin blaas. Skreeu dan: ‘Vir die HERE en vir Gideon!’” Gideon en die 100 manskappe by hom het tot op die kant van die kamp gegaan. Dit was net na middernag. Die wagte vir die middelste nagwag het toe pas omgeruil. Hulle het toe op die ramshorings geblaas en die erdepotte stukkend geslaan. Al drie afdelings het op hulle ramshorings geblaas en die erdepotte gebreek. Hulle het die fakkels in hulle linkerhand gehou en die ramshorings in hulle regterhand. Hulle het begin skreeu: “’n Swaard vir die HERE en vir Gideon!” Elkeen was op sy pos reg rondom die kamp. Hulle het gesien hoe die hele kamp vervaard rondskarrel en paniekerig skreeu. Toe die 300 Israeliete op hulle ramshorings blaas, het die HERE veroorsaak dat die mense in die kamp mekaar aanval. Hulle het uit die kamp gevlug tot so ver as Bet-Sitta na Sereda se kant toe en tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.