RIGTERS 7:7-22

RIGTERS 7:7-22 AFR53

Toe sê die HERE vir Gídeon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan. Daarop neem hulle die padkos van die manskappe en hulle ramshorings in hul hand; en hy het al die manskappe van Israel laat gaan, elkeen na sy tente toe; maar die driehonderd man het hy agtergehou, terwyl die laer van die Midianiete onderkant hom in die laagte was. En daardie nag het die HERE vir hom gesê: Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand. En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na die laer toe en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste lyn van die gewapendes wat in die laer was. En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte. En toe Gídeon aankom, vertel 'n man aan 'n ander juis 'n droom en sê: Kyk, ek het 'n droom gehad: Daar rol 'n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar! En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee. Toe Gídeon dan die verhaal van die droom en sy uitlegging hoor, het hy aanbid; en hy het teruggekeer na die laer van Israel en gesê: Maak klaar, want die HERE gee die laer van die Midianiete in julle hand. En hy het die driehonderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak. En as ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas rondom die hele laer, en julle moet sê: Vir die HERE en vir Gídeon! Toe kom Gídeon en die honderd man wat by hom was, by die buitenste lyn van die laer, met die begin van die middelste nagwaak toe hulle skaars die wagte uitgesit het, en hulle blaas op die ramshorings en slaan die kruike stukkend wat hulle in hul hand gehad het. Toe blaas die drie dele op die ramshorings en breek die kruike en hou met hulle linkerhand die fakkels en met hulle regterhand die ramshorings om te blaas, terwyl hulle uitroep: Die swaard van die HERE en van Gídeon! En hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer. Daarop hardloop die hele laer, en hulle skreeu en vlug. En toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die HERE die swaard van die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer; en die laer het gevlug na Bet-Sitta, na Seréda toe, tot by die oewer van Abel-Mehóla by Tabbat.