Rigters 16:23-31

Rigters 16:23-31 DB

Die leiers van die Filistyne het ’n groot fees ter ere van hulle god Dagon gehou, waar hulle offers gebring en hom vereer het. “Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee,” het hulle gesing. Die Filistyne was baie bly, en hulle het gesê: “Gaan haal vir Simson dat hy ons kan vermaak!” Nadat hulle hom uit die tronk gehaal het, het hulle hom tussen twee stutpilare van die tempel laat staan. Toe die mense hom so sien staan, het hulle gesing: “Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee, die vyand wat ons land verrinneweer het en so baie van ons doodgemaak het!” Simson het vir die helper wat hom gelei het, gesê: “Ek wil so staan dat ek teen die stutpilare van die tempel kan leun.” Die tempel was vol mense. Al die leiers van die Filistyne was daar. Daar was ook omtrent 3 000 mense op die dak van die tempel, besig om na Simson te kyk en die spot met hom te dryf. Toe bid Simson: “Here my God, sien my tog raak! O God, maak my nog hierdie een keer sterk sodat ek my op hierdie Filistyne kan wreek oor my twee oë!” Simson het die twee middelste stutpilare van die tempel tussen sy arms vasgevat, met al sy mag teen hulle gedruk en uitgeroep: “Laat my saam met die Filistyne doodgaan!” Hy het al sy krag ingespan en die tempel het inmekaargeval op die leiers van die Filistyne en al die mense daarin. Simson het met sy dood meer mense doodgemaak as in sy hele leeftyd. Daarna het sy broers en die res van sy familie gekom en sy liggaam kom haal. Hulle het hom teruggevat en hom tussen die dorpe Sora en Estaol in sy pa, Manoag, se graf gaan begrawe. Simson was twintig jaar lank die leier van Israel.