RIGTERS 16:23-31

RIGTERS 16:23-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die leiers van die Filistyne het bymekaargekom om 'n groot offer te bring vir hulle god Dagon en om fees te vier. Hulle het gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee.” Toe die Filistyne hom sien, het hulle hulle god geprys en gesê: “Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee, ons vyand wat ons land verwoes het, hy wat so baie van ons doodgemaak het!” Toe die Filistyne lekker vrolik was, het hulle gesê: “Roep vir Simson dat hy ons kom vermaak.” Hulle het toe vir Simson uit die tronk laat kom, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die tempelpilare laat staan, en hy het vir die helper wat hom aan die hand vasgehou het, gesê: “Laat my so staan dat ek die pilare kan voel waarop die tempel rus en dat ek daarteen kan leun.” Die tempel was vol mans en vrouens. Al die leiers van die Filistyne was daar, en op die dak was omtrent drie duisend mans en vrouens wat gekyk het hoe Simson hulle vermaak. Toe roep Simson tot die Here: “Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!” Simson het die twee middelpilare waarop die tempel rus, vasgevat en teen hulle geleun met sy regterarm om die een en sy linkerarm om die ander. Toe sê hy: “Laat my sterf saam met die Filistyne.” Hy het met al sy krag getrek, en die tempel het ingeval op die leiers van die Filistyne en op die mense daarin. So het Simson met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe. Daarna het sy broers en sy hele familie gekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom gevat en gaan begrawe tussen Sora en Estaol, in sy pa Manoag se graf. Simson was twintig jaar lank leier van die Israeliete.

RIGTERS 16:23-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die regeerders van die Filistyne het byeengekom om 'n groot offer aan Dagon, hulle god, te bring en om aan hulle blydskap uiting te gee. Hulle het gesê: “Ons god het Simson, ons vyand, in ons hand gegee.” Toe die volk hom sien, het hulle hulle god geloof. “Want,” het hulle gesê, “ons god het ons vyand in ons hand gegee – die verwoester van ons land, wat ons gesneuweldes vermeerder het.” Toe hulle harte vrolik geraak het, sê hulle: “Roep vir Simson, dat hy ons kan vermaak.” Hulle roep Simson toe uit die gevangenis, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die pilare laat staan. Simson sê toe vir die jong man wat hom aan die hand gelei het: “Los my, sodat ek die pilare waarop die tempel rus, kan voel en daarteen kan leun.” Die tempel was vol mans en vroue. Al die regeerders van die Filistyne was daar, en op die dak was ongeveer drieduisend mans en vroue wat na Simson se vermakery gekyk het. Toe roep Simson na die HERE en sê: “HERE, my Heer, dink tog aan my! Maak my asseblief nog net hierdie keer sterk, o God, sodat ek my vir een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.” Simson vat toe die twee middelste pilare vas waarop die tempel rus, en leun teen hulle aan, met die een aan sy regterkant en die ander aan sy linkerkant. Daarop sê Simson: “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Toe beur hy met alle mag. Die tempel het ingestort op die heersers en al die mense wat daarin was. Die dooies wat hy met sy sterwe omgebring het, was meer as dié wat hy in sy lewe omgebring het. Sy broers en sy hele familie het toe afgekom en hom weggedra. Hulle het hom terug opgeneem en hom begrawe tussen Sora en Estaol in die graf van Manoag, sy vader. Simson het Israel twintig jaar lank gerig.

RIGTERS 16:23-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die leiers van die Filistyne het saamgekom om in die tempel ’n groot offerfees vir hulle god Dagon te hou. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.” Toe die mense hom sien, het hulle hulle god begin loof en gesê: “Ons god het ons vyand wat ons land so verwoes het en so baie van ons doodgemaak het, in ons mag gegee!” Toe die Filistyne begin dronk word, het hulle gesê: “Bring Simson vir ons dat hy ons kan laat pret hê.” Hulle het Simson uit die tronk gaan haal om hulle te kom vermaak. Hulle het hom tussen die twee hoofpilare van die tempel laat staan. Hy het vir die seun wat hom aan die hand gelei het, gevra: “Laat my by die pilare van die tempel staan dat ek daarteen kan leun.” Die tempel was propvol mans en vroue. Al die leiers van die Filistyne was daar. Op die dak van die tempel was daar ook omtrent 3 000 mans en vroue wat kom kyk het hoe Simson hulle gaan vermaak. Simson bid toe tot die HERE: “Oppermagtige HERE, dink tog aan my! God, maak my tog net hierdie een keer so sterk dat ek my op die Filistyne kan wreek vir my oë!” Simson het met sy hande teen die twee hoofpilare gedruk waarop die gebou rus. Hy het met sy regterhand en sy linkerhand elkeen teen ’n pilaar gedruk. Toe bid hy: “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Hy het met al sy krag teen die pilare gedruk en die tempel het inmekaargestort op die leiers van die Filistyne en al die mense wat daarin was. Met sy dood het Simson baie meer mense doodgemaak as deur sy hele lewe. Sy broers en sy hele familie het afgekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom saam teruggeneem en hom tussen Sora en Estaol in sy pa, Manoag, se graf begrawe. Simson was twintig jaar lank Israel se leier.

RIGTERS 16:23-31 Bybel vir almal (ABA)

Eendag het die leiers van die Filistyne bymekaargekom om vir hulle god Dagon 'n groot offer te bring en om fees te vier. Hulle het gesê: “Ons god het ons gehelp om ons vyand Simson te vang.” Toe die Filistyne vir Simson sien, het hulle begin om hulle god te prys. Hulle het gesê: “Ons vyand Simson het ons land verwoes en hy het baie van ons mense doodgemaak. En nou het ons god ons gehelp om hom te vang.” Toe die Filistyne vrolik geword het, het hulle gesê: “Roep vir Simson, ons wil vir hom lag.” Hulle het Simson uit die tronk laat kom sodat hulle vir hom kon lag. Hulle het hom tussen die pilare laat staan. 'n Seun het Simson se hand vasgehou, en Simson het vir die seun gesê: “Bring my by die pilare waarop die tempel staan. Ek wil voel waar hulle is en ek wil teen hulle staan.” Die tempel was vol mans en vroue, en die leiers van die Filistyne was vrolik. Op die dak was nog 1 000 Filistyne, mans en vroue, wat vir Simson kom lag het. Simson het tot die Here gebid en gesê: “Here, my Here, dink aan my en maak my nog hierdie een maal sterk. Ek wil die Filistyne straf omdat hulle my oë uitgesteek het.” Hy het gevoel aan die twee pilare waarop die dak van die tempel was, die pilare in die middel van die tempel. Hy het teen die pilare gestaan, met sy regter-hand teen een pilaar en met sy linker-hand teen die ander pilaar. Toe sê hy: “Here, laat my saam met die Filistyne sterf.” En toe stoot Simson baie hard teen die pilare, so hard soos hy kan. Die dak van die tempel het geval op die leiers en op al die mense wat in die tempel was. Simson het gesterf, maar op daardie dag toe hy gesterf het, het hy meer mense doodgemaak as toe hy gelewe het. Sy broers en sy hele familie het gekom en hulle het hom weggedra. Hulle het hom begrawe in sy pa Manoag se graf tussen die stede Sora en Estaol. Simson was 20 jaar lank 'n leier van die Israeliete.

RIGTERS 16:23-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die vorste van die Filistyne het vergader om 'n groot offer te bring aan hulle god Dagon en om vrolik te wees; en hulle het gesê: Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee. En toe die volk hom sien, prys hulle hul god; want hulle het gesê: Ons god het ons vyand en die rinneweerder van ons land, wat ook baie van ons laat sneuwel het, in ons hand gegee. En toe hulle hart vrolik was, sê hulle: Roep Simson, dat hy vir ons speel; en hulle het Simson uit die gevangenis geroep; en hy het voor hulle gespeel, en hulle het hom tussen die pilare laat staan. Daarop sê Simson aan die dienaar wat hom aan die hand hou: Laat my staan, en laat my die pilare betas waar die huis op rus, dat ek daarteen kan leun. En die huis was vol manne en vroue, en al die vorste van die Filistyne was daar, en op die dak omtrent drieduisend manne en vroue wat kyk hoe Simson speel. Toe roep Simson die HERE aan en sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek! En Simson slaan sy arms om die twee middelste pilare waar die huis op gerus het, die een met sy regter- en die ander met sy linkerhand, en leun teen hulle aan. En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag, sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het. Sy broers en sy hele familie het toe afgekom en hom opgeneem en opwaarts gebring en hom begrawe tussen Sórea en Estáol in die graf van sy vader Manóag. En hy het Israel twintig jaar lank gerig.

RIGTERS 16:23-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het die vorste van die Filistyne hulle bymekaar laat kom om 'n groot offer aan hulle god Dagon te bring en om bly te wees; want hulle het gesê: Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee. En toe die volk hom sien, het hulle hul god geprys, want hulle het gesê: Ons god het ons vyand en die verwoester van ons land, wat baie van ons gedood het, in ons hand gegee. En toe hulle hart vrolik was, het hulle gesê: Roep Simson, dat hy vir ons kan sport. En hulle het Simson uit die gevangenis geroep; en hulle het hom tussen die pilare neergesit. En Simson sê vir die seun wat hom aan die hand vasgehou het: Laat my toe dat ek die pilare kan voel waarop die huis staan, dat ek daarop kan leun. En die huis was vol manne en vroue; en al die vorste van die Filistyne was daar; en daar was op die dak omtrent drie duisend manne en vroue wat gekyk het terwyl Simson sport gemaak het. Toe het Simson die HERE aangeroep en gesê: HERE HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek dadelik op die Filistyne gewreek kan word vir my twee oë. Simson het toe die twee middelste pilare gegryp waarop die huis gestaan het en waarop dit opgelig is, die een met sy regterhand en die ander met sy linkerhand. Toe sê Simson: Laat my saam met die Filistyne sterwe. En hy het hom met al sy krag gebuig; en die huis het op die vorste geval en op al die mense wat daarin was. So was die dooies wat hy by sy dood gedood het meer as die wat hy in sy lewe gedood het. Toe het sy broers en die hele huis van sy vader afgekom en hom geneem en hom laat optrek en hom begrawe tussen Sorea en Estaol in die graf van sy vader Manoag. En hy het Israel twintig jaar gerig.

RIGTERS 16:23-31 Die Boodskap (DB)

Die leiers van die Filistyne het ’n groot fees ter ere van hulle god Dagon gehou, waar hulle offers gebring en hom vereer het. “Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee,” het hulle gesing. Die Filistyne was baie bly, en hulle het gesê: “Gaan haal vir Simson dat hy ons kan vermaak!” Nadat hulle hom uit die tronk gehaal het, het hulle hom tussen twee stutpilare van die tempel laat staan. Toe die mense hom so sien staan, het hulle gesing: “Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee, die vyand wat ons land verrinneweer het en so baie van ons doodgemaak het!” Simson het vir die helper wat hom gelei het, gesê: “Ek wil so staan dat ek teen die stutpilare van die tempel kan leun.” Die tempel was vol mense. Al die leiers van die Filistyne was daar. Daar was ook omtrent 3 000 mense op die dak van die tempel, besig om na Simson te kyk en die spot met hom te dryf. Toe bid Simson: “Here my God, sien my tog raak! O God, maak my nog hierdie een keer sterk sodat ek my op hierdie Filistyne kan wreek oor my twee oë!” Simson het die twee middelste stutpilare van die tempel tussen sy arms vasgevat, met al sy mag teen hulle gedruk en uitgeroep: “Laat my saam met die Filistyne doodgaan!” Hy het al sy krag ingespan en die tempel het inmekaargeval op die leiers van die Filistyne en al die mense daarin. Simson het met sy dood meer mense doodgemaak as in sy hele leeftyd. Daarna het sy broers en die res van sy familie gekom en sy liggaam kom haal. Hulle het hom teruggevat en hom tussen die dorpe Sora en Estaol in sy pa, Manoag, se graf gaan begrawe. Simson was twintig jaar lank die leier van Israel.