Hebreërs 7:1-10

Hebreërs 7:1-10 DB

Jesus is ’n priester soos Melgisedek. Wat beteken dit? Melgisedek was sowel die koning van Salem (wat later Jerusalem geword het) as ’n priester van die allergrootste God. Abraham was op ’n keer op pad terug van ’n oorlog af; dit was toe hy die klomp konings verslaan het. Op pad loop hy toe vir Melgisedek raak. Melgisedek seën toe vir Abraham en in ruil gee Abraham vir hom ’n tiende van die goed wat hy in die oorlog afgevat het. Om mee te begin: die naam Melgisedek beteken “koning wat doen wat reg is”. Verder beteken “koning van Salem” eintlik “koning wat vrede maak”. Waar hy vandaan gekom en wie sy pa en ma was, is ’n geheim. Niemand weet wanneer hy gebore is of wanneer hy dood is nie. Hy is net soos die Seun van God. Hy is ook ’n priester vir altyd. Kyk net hoe belangrik was Melgisedek regtig: Abraham, die groot voorvader van God se volk, het aan hom ’n tiende gegee van wat hy in die oorlog gewen het. Dit is wel so dat die wet sê dat net nakomelinge van Levi priesters mag word. Die volk moes aan hulle ’n tiende gee van wat hulle gehad het, al was die Leviete ook maar net deel van dieselfde volk as hulle. Maar Melgisedek was glad nie deel van die Leviete nie. Juis vir hom het Abraham ’n tiende gegee en hy het Abraham geseën, en onthou, God het Abraham alles beloof. Een ding is seker: die belangriker persoon seën die onbelangriker persoon. Boonop is die Leviete sterflik en kan hulle net die tiendes insamel tot hulle doodgaan, maar van Melgisedek word gesê dat hy nie dood is nie, maar leef. Ons kan dit ook so stel: Levi, wat van God se volk die tiendes insamel, moes self deur sy vader Abraham aan Melgisedek sy tiende betaal. Immers, toe Abraham vir Melgisedek ’n tiende gegee het, was Levi eintlik nog in die liggaam van Abraham, sy voorvader. Daarom kan ons sê dat hy dit eintlik self gedoen het.