Hebreërs 7:1-10

Hebreërs 7:1-10 AFR20

Hierdie Melgisedek, koning van Salem, 'n priester van die Allerhoogste God, het Abraham tegemoetgegaan toe hy op pad terug was, nadat hy die konings verslaan het, en hom geseën. Aan hom het Abraham 'n tiende deel van alles gegee. In die eerste plek was hy, as sy naam vertaal word, “Koning van •Geregtigheid”, maar daarbenewens was hy ook “Koning van Salem”, dit is “Koning van Vrede”. Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde, maar, soortgelyk aan die •Seun van God, bly hy priester vir altyd. Kyk net hoe belangrik was hierdie man, dat selfs Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste buit aan hom gegee het! Die nakomelinge van Levi wat die priesterskap ontvang, het 'n gebod dat hulle, volgens wet, tiendes moet ontvang van die volk, naamlik hulle broers, alhoewel dié afstammelinge van Abraham is. Maar Melgisedek, wat nie van hulle afstam nie, het tiendes van Abraham ontvang, en hierdie draer van die beloftes geseën. Sonder enige teenspraak, word die mindere tog deur die meerdere geseën. In die een geval ontvang sterflike mense tiendes, maar in die ander geval hy van wie getuig word dat hy leef. Mens kan selfs sê, ook Levi, wat tiendes ontvang, het deur Abraham tiendes gegee; want Levi was nog in die liggaam van sy voorvader toe Melgisedek Abraham tegemoetgegaan het.