HEBREËRS 7:1-10

HEBREËRS 7:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Hierdie man Melgisedek was koning van die stad Salem. Hy was 'n priester van die Hoogste God. Melgisedek het vir Abraham ontmoet toe Abraham teruggekom het nadat hy die konings oorwin het. En Melgisedek het vir Abraham geseën. Abraham het ook vir Melgisedek een tiende gegee van alles wat hy teruggebring het. Melgisedek se naam beteken “die koning wat dinge doen wat reg is.” Die naam Melgisedek kan ook beteken “koning van Salem.” Omdat Salem “vrede” beteken, beteken sy naam daarom ook “die koning wat vrede maak.” Ons lees nie van Melgisedek se pa of ma nie, daar is ook nie 'n lys van die name van Melgisedek se voorouers nie, ons lees ook nie van die begin of van die einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly vir altyd 'n priester. Julle moet goed verstaan hoe belangrik hierdie Melgisedek was. Ons voorvader Abraham het een tiende van die beste van alles wat hy in die oorlog gevat het, vir Melgisedek gegee. Die Wette van Moses sê dat die mense wat van die nageslag van Levi is, priesters mag wees, en hulle mag tiendes neem van die volk. Die volk is die Leviete se broers en die volk is die nageslag van Abraham, maar die Leviete kon tiendes neem van die volk. Maar Melgisedek was nie een van die Levi-priesters nie, en hy het 'n tiende van Abraham geneem. God het vir Abraham goeie dinge belowe, en Melgisedek het vir Abraham geseën. Almal weet dat 'n mens wat belangrik is, die minder belangrike mens seën. Die Levi-priesters ontvang tiendes en hulle is mense wat sal sterf. Maar Melgisedek ontvang ook tiendes, en die Ou Testament sê dat hy aangehou het om te lewe. 'n Mens kan miskien sê die nageslag van Levi wat tiendes ontvang, het ook vir Melgisedek tiendes gegee toe Abraham vir Melgisedek ontmoet het en vir hom 'n tiende gegee het. Want Levi was toe nog in sy voorvader Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.

HEBREËRS 7:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het, en dit is ook aan hom dat Abraham 'n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede. Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd. Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het. Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om 'n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham 'n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word. In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe. 'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.

HEBREËRS 7:1-10 Die Boodskap (DB)

Jesus is ’n priester soos Melgisedek. Wat beteken dit? Melgisedek was sowel die koning van Salem (wat later Jerusalem geword het) as ’n priester van die allergrootste God. Abraham was op ’n keer op pad terug van ’n oorlog af; dit was toe hy die klomp konings verslaan het. Op pad loop hy toe vir Melgisedek raak. Melgisedek seën toe vir Abraham en in ruil gee Abraham vir hom ’n tiende van die goed wat hy in die oorlog afgevat het. Om mee te begin: die naam Melgisedek beteken “koning wat doen wat reg is”. Verder beteken “koning van Salem” eintlik “koning wat vrede maak”. Waar hy vandaan gekom en wie sy pa en ma was, is ’n geheim. Niemand weet wanneer hy gebore is of wanneer hy dood is nie. Hy is net soos die Seun van God. Hy is ook ’n priester vir altyd. Kyk net hoe belangrik was Melgisedek regtig: Abraham, die groot voorvader van God se volk, het aan hom ’n tiende gegee van wat hy in die oorlog gewen het. Dit is wel so dat die wet sê dat net nakomelinge van Levi priesters mag word. Die volk moes aan hulle ’n tiende gee van wat hulle gehad het, al was die Leviete ook maar net deel van dieselfde volk as hulle. Maar Melgisedek was glad nie deel van die Leviete nie. Juis vir hom het Abraham ’n tiende gegee en hy het Abraham geseën, en onthou, God het Abraham alles beloof. Een ding is seker: die belangriker persoon seën die onbelangriker persoon. Boonop is die Leviete sterflik en kan hulle net die tiendes insamel tot hulle doodgaan, maar van Melgisedek word gesê dat hy nie dood is nie, maar leef. Ons kan dit ook so stel: Levi, wat van God se volk die tiendes insamel, moes self deur sy vader Abraham aan Melgisedek sy tiende betaal. Immers, toe Abraham vir Melgisedek ’n tiende gegee het, was Levi eintlik nog in die liggaam van Abraham, sy voorvader. Daarom kan ons sê dat hy dit eintlik self gedoen het.

HEBREËRS 7:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie Melgisedek was koning van die stad Salem en ’n priester van God die Allerhoogste. Toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings in ’n groot geveg verslaan het, het Melgisedek hom tegemoetgegaan en geseën. Daarop het Abraham aan hierdie Melgisedek ’n tiende gegee van alles wat hy in die oorlog buitgemaak het. Sy naam Melgisedek beteken “koning van geregtigheid”. Hy is ook “koning van vrede” omdat die naam Salem “vrede” beteken. Daar bestaan geen rekord van sy pa of ma of enige van sy voorouers nie – ook nie van sy geboorte of dood nie. Hy bly priester vir altyd en kan daarin vergelyk word met die Seun van God. Oorweeg nou hoe belangrik hierdie Melgisedek moes gewees het. Selfs Abraham, die groot stamvader van Israel, het sy belangrikheid erken deur vir hom ’n tiende van sy oorlogsbuit te gee. Die priesters, wat uit die nageslag van Levi is, word in die wet beveel om ’n tiende van die volk Israel in te vorder, alhoewel hulle hulle eie bloedverwante is en ook van Abraham afstam. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het nietemin ’n tiende van Abraham ontvang en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. Dit kan tog nie ontken word nie dat dit altyd die meerdere is wat die mindere seën. In die geval van die Joodse priesterdom word tiendes aan sterflike mense betaal. Melgisedek is egter belangriker as hulle, want daar word van hom getuig dat hy voortlewe. Ons kan dus so ver gaan om te sê dat, deur Abraham, Levi ook eintlik tiendes aan Melgisedek gegee het. Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.