Eksodus 14:5-14

Eksodus 14:5-14 DB

Toe die koning van Egipte hoor waarheen die Israeliete op pad is, het hy en sy leiers hulle besluit verander. Hulle het gesê: “Wat op aarde het ons besiel om die Israeliete sommerso te laat wegkom?” Die farao het sy oorlogswa en sy perde laat inspan om hulle met sy troepe agterna te sit. Hy het 600 waens uitgesoek. Op elkeen was daar drie manne. Die Here het die farao kop laat verloor. Hy het soos ’n mal ding agter die Israeliete aan gestorm. Die Here het Israel egter teen die Egiptenaars beskerm. Die Egiptenaars met die farao se oorlogswaens en sy perde en sy hele leërmag is agter die Israeliete aan. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle by die see kamp opgeslaan het by Pi-Hagirot, regoor Baäl-Sefon. Terwyl die farao al nader kom, het die Israeliete hulle nekke gerek om te sien wat aan die gang is. Toe hulle sien dis die Egiptenaars wat agter hulle aan is, het hulle hulle boeglam geskrik. Hulle het die Here begin soebat om hulle tog te help. Hulle het Moses ook begin verwyt: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons sommer daar al te begrawe nie? Moes jy ons hier na die woestyn toe bring dat ons hier kan doodgaan en hier begrawe word? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat padgee? Het ons nie in Egipte al vir jou gesê nie: ‘Los ons uit, dat ons eerder vir Egipte kan werk’? Dis tog baie beter om slawe in Egipte te wees as om hier in die woestyn dood te gaan!” Moses het egter vir die volk gesê: “Hou op om bang te wees. Staan vas net waar julle is. Julle gaan vandag sien hoe wonderlik die Here julle gaan red. Daardie Egiptenaars wat julle vandag daar voor julle sien, sal julle in der ewigheid nooit weer sien nie. Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg.”

Video vir Eksodus 14:5-14

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 14:5-14